Gaan na inhoud

Raphael

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Rafaël)
Raphael

Vermoedelike selfportret[1]
Geboortenaam Raffaello Sanzio da Urbino
Gebore 28 Maart of 6 April 1483
Urbino, Italië
Sterf 6 April 1520 (op 37)
Rome, Italië
Laaste rusplek Panteon, Rome
Nasionaliteit Italiaans
Veld Skildery, argitektuur
Opleiding Waarskynlik by Pietro Perugino
Beweging Hoog-Renaissance
Werke Die Raphael-kamers in die Vatikaan
Die Skool van Athene
Sixtynse Madonna
Transfigurasie
Beskermhere Pous Julius II
Pous Leo X
Agostino Chigi
Beïnvloed deur Pietro Perugino
Leonardo da Vinci
Michelangelo
Handtekening
Die Skool van Athene word onder een van Raphael se beste werke gereken.

Raffaello Sanzio da Urbino,[a] beter bekend as Raphael (28 Maart of 6 April 1483 – 6 April 1520),[2][b] was 'n Italiaanse skilder en argitek van die Hoog-Renaissance.[4] Sy kuns word vir die helderheid van vorm, die gemak van die komposisie en die visuele verwesenliking van die Neoplatoniese ideaal van menslike grootsheid bewonder.[5] Hy word saam met Michelangelo en Leonardo da Vinci as een van die drie groot meesters van dié tydperk beskou.[6]

Sy vader, Giovanni Santi, was hofskilder in die klein, maar hoogs beskaafde stad Urbino. Hy is oorlede toe Raphael elf was, en Raphael het blykbaar van toe af 'n rol in die bestuur van die familie se werkswinkel gespeel. Hy is waarskynlik in die werkswinkel van Pietro Perugino opgelei en is teen 1500 as 'n volleerde "meester" beskryf. Hy het in of vir verskeie stede in Noord-Italië gewerk totdat hy in 1508 op uitnodiging van Pous Julius II na Rome verhuis het om in die Apostoliese Paleis in die Vatikaan te werk. Daar het hy die fresko's van die Raphael-kamers geskilder, die middelpunt en die grootste werk van sy loopbaan, waaronder Die Skool van Athene sy bekendste werk is. Hy het ook as argitek begin werk en was ten tyd van sy dood in 1520 steeds op die hoogtepunt van sy vermoëns.

Raphael was uiters produktief: hy het 'n buitengewoon groot werkswinkel bestuur en ten spyte van sy vroeë dood op 37 'n groot aantal werke agtergelaat. Sy loopbaan val, soos Giorgio Vasari dit eerste beskryf het, in drie fases en drie style uiteen: sy vroeë jare in Umbrië, dan sowat vier jaar (1504-1508) waarin hy die kunstradisies van Florence opgeneem het, en laastens sy laaste twaalf jaar in Rome, waar hy vir twee pouse en hul naaste medewerkers gewerk het.[7] Ná sy vroeë jare in Rome is baie van sy werke slegs deur hom ontwerp en dan deur sy werkswinkel uitgevoer, wat 'n merkbare verlies aan gehalte in vergelyking met sy eie werk getoon het. Hy was ook in sy eie leeftyd baie invloedryk, hoewel mense buite Rome sy kuns meestal deur die prente geken het wat volgens sy ontwerpe gegraveer is. Ná sy dood het die invloed van sy groot mededinger Michelangelo dié van Raphael tot in die 18de en 19de eeu oortref, toe Raphael se rustiger en harmonieuser eienskappe weer as die hoogste voorbeeld gegeld het. Die Pre-Rafaelitiese Broederskap in Engeland het sy invloed later uitdruklik verwerp.

Agtergrond

[wysig | wysig bron]
Giovanni Santi, Raphael se vader: Christus deur twee engele ondersteun (ca. 1490)

Raphael is in Urbino gebore, 'n klein, maar artistiek belangrike stad in die Sentraal-Italiaanse streek Marche,[8] waar sy vader, Giovanni Santi, hofskilder van die hertog was. Federico da Montefeltro, 'n uiters suksesvolle huursoldaatleier (condottiere) wat deur Pous Sixtus IV tot hertog van Urbino verhef is en wat die jaar voor Raphael se geboorte oorlede is, het die hof se aansien gevestig. Urbino was deel van die Pouslike State. Federico se hof was meer op letterkunde as op kuns ingestel, maar Giovanni Santi was benewens skilder ook 'n soort digter. Hy het 'n berymde kroniek van Federico se lewe geskryf, en vir die maskerspelagtige vermaaklikhede aan die hof sowel die tekste geskryf as die dekor gemaak. Sy gedig aan Federico wys dat hy graag wou toon dat hy die vooruitstrewendste Noord-Italiaanse skilders, en ook die Vlaamse Primitiewes, geken het. In die baie klein hof van Urbino was hy waarskynlik nouer by die binnekring van die heersersfamilie betrek as die meeste hofskilders.[9]

Federico se seun en opvolger, Guidobaldo da Montefeltro, het met Elisabetta Gonzaga getrou, die dogter van die heerser van Mantua, wat op die gebied van musiek en beeldende kuns die skitterendste van die kleiner Italiaanse howe was. Onder hulle het die hof 'n sentrum van letterkundige kultuur gebly. Omdat Raphael in die kring van hierdie klein hof grootgeword het, het hy die uitstekende maniere en sosiale vaardighede verwerf wat Vasari beklemtoon.[10] Kort ná dié tyd sou die hoflewe in Urbino die model van die deugde van die Italiaanse humanistiese hof word, danksy Baldassare Castiglione se uitbeelding daarvan in sy klassieke werk Il Cortegiano (Die hoveling), wat in 1528 verskyn het. Castiglione het hom in 1504 in Urbino gevestig, toe Raphael nie meer daar gewoon het nie, maar dikwels daar besoek afgelê het, en die twee het goeie vriende geword. Raphael het ook ander gereelde besoekers aan die hof goed leer ken: Pietro Bibbiena en Pietro Bembo, albei later kardinale, was toe reeds besig om as skrywers bekend te word en sou later in Rome wees terwyl Raphael daar gewerk het. Raphael het sy lewe lank gemaklik in die hoogste kringe beweeg, een van die faktore wat die misleidende indruk gewek het dat sy loopbaan moeiteloos verloop het. Hy het egter nie 'n volle humanistiese opvoeding ontvang nie, en dit is onduidelik hoe maklik hy Latyn gelees het.[11]

Vroeë lewe en werk

[wysig | wysig bron]

Raphael se moeder, Màgia, is in 1491 oorlede toe hy agt was, en op 1 Augustus 1494 sy vader, wat reeds weer getrou het. Raphael was dus op elf 'n wees. Sy enigste oom aan vaderskant, die priester Bartolomeo, het sy wettige voog geword en daarna met sy stiefmoeder 'n hofsaak gevoer. Die seun het waarskynlik by sy stiefmoeder bly woon wanneer hy nie as vakleerling by 'n meester was nie. Volgens Vasari het hy toe reeds talent getoon en was hy "'n groot hulp vir sy vader".[12] 'n Selfportret wat hy as tiener geteken het, toon hoe vroeg sy talent ontwikkel het.[13] Sy vader se werkswinkel het voortbestaan, en Raphael het van baie jong af, waarskynlik saam met sy stiefmoeder, klaarblyklik 'n rol in die bestuur daarvan gespeel. In Urbino het hy die werk van Paolo Uccello, die vroeëre hofskilder (oorlede 1475), leer ken, asook dié van Luca Signorelli, wat tot 1498 in die nabygeleë Città di Castello gevestig was.[14]

Volgens Vasari het Raphael se vader hom "ondanks sy moeder se trane" as vakleerling in die werkswinkel van die Umbriese meester Perugino geplaas.[c] Die bewys vir so 'n vakleerlingskap kom net van Vasari en een ander bron,[16] en dit word betwis: agt was baie jonk om 'n vakleerlingskap te begin. Volgens 'n ander teorie het die seun ten minste 'n deel van sy opleiding by Timoteo Viti ontvang, wat vanaf 1495 as hofskilder in Urbino opgetree het.[17] Die meeste moderne historici is dit eens dat Raphael vanaf omstreeks 1500 ten minste as Perugino se assistent gewerk het. Perugino het Raphael se vroeë skilderye baie duidelik beïnvloed: "waarskynlik het geen ander geniale leerling ooit soveel van sy meester se lering opgeneem as Raphael nie", aldus Heinrich Wölfflin.[18] Vasari het geskryf dat 'n mens hul hande in dié tyd onmoontlik van mekaar kon onderskei, maar baie moderne kunshistorici meen dat hulle beter kan en herken sy hand in bepaalde dele van werke deur Perugino of sy werkswinkel. Benewens die stilistiese ooreenkoms was hul tegnieke ook baie soortgelyk: albei het die verf in skaduwees en donker klere byvoorbeeld dik opgebring, met 'n olievernis as medium, maar baie dun op die vlees. 'n Oormaat hars in die vernis laat dele van die verf in die werk van albei meesters dikwels kraak.[19] Perugino se werkswinkel was in sowel Perugia as Florence bedrywig en het moontlik twee vaste takke gehad.[20] In Desember 1500 word Raphael as 'n "meester", dit wil sê volledig opgelei, beskryf.[21]

Sy eerste gedokumenteerde opdrag was die Baronci-altaarstuk vir die kerk van Sint Nikolaas van Tolentino in Città di Castello, 'n dorp halfpad tussen Perugia en Urbino.[22] Evangelista da Pian di Meleto, wat vir sy vader gewerk het, word ook in die opdrag genoem. Die altaarstuk is in 1500 bestel en in 1501 voltooi; daarvan het net 'n paar uitgesnyde dele en 'n voorbereidende tekening behoue gebly.[23] In die jare daarna het hy werke vir ander kerke daar geskilder, onder meer die Mond-kruisiging (omstreeks 1503) en Die huwelik van die Maagd (1504), nou in die Pinacoteca di Brera, en vir Perugia, soos die Oddi-altaarstuk. Hy het in dié tyd heel waarskynlik ook Florence besoek.[24] Dit is groot werke, sommige in fresko, waarin Raphael sy komposisies met selfvertroue in Perugino se ietwat statiese styl orden. Hy het in dié jare ook baie klein, uitgelese kabinetskilderye geskilder, waarskynlik meestal vir die kenners aan die hof van Urbino, soos Die drie Grasieë en Sint Michael, en hy het Madonnas en portrette begin skilder.[25] In 1502 het hy op uitnodiging van Pinturicchio, nog 'n leerling van Perugino, na Siëna gegaan, "omdat hy 'n vriend van Raphael was en geweet het dat hy 'n tekenaar van die hoogste gehalte was". Daar het hy met die kartons, en heel waarskynlik ook die ontwerpe, vir 'n reeks fresko's in die Piccolomini-biblioteek in die katedraal van Siëna gehelp.[26] Hy was klaarblyklik reeds op hierdie vroeë stadium van sy loopbaan baie in aanvraag.[27]

Florence se invloed

[wysig | wysig bron]
Madonna met die angeliere (ca. 1506-1507), National Gallery, Londen

Raphael het 'n "nomadiese" lewe gelei en in verskeie sentrums in Noord-Italië gewerk, maar hy het, moontlik vanaf omstreeks 1504, baie tyd in Florence deurgebring. Hoewel daar tradisioneel van 'n "Florentynse tydperk" van omstreeks 1504 tot 1508 gepraat word, het hy moontlik nooit onafgebroke daar gewoon nie.[28] Hy moes die stad in elk geval dalk besoek om materiaal aan te skaf. Daar is 'n aanbevelingsbrief vir Raphael, gedateer Oktober 1504, van die moeder van die volgende hertog van Urbino aan die gonfaloniere van Florence: "Die draer hiervan is Raphael, skilder van Urbino, wat, omdat hy groot talent vir sy beroep het, besluit het om 'n tyd lank in Florence te gaan studeer. En omdat sy vader baie verdienstelik was en ek baie aan hom geheg was, en die seun 'n verstandige en goedgemanierde jong man is, het ek om albei redes 'n groot liefde vir hom ..."[29]

Soos vroeër met Perugino en ander, kon Raphael die invloed van die Florentynse kuns opneem en tog sy eie styl verder ontwikkel. Fresko's in Perugia van omstreeks 1505 toon 'n nuwe monumentaliteit in die figure, wat moontlik die invloed weerspieël van Fra Bartolomeo, wat volgens Vasari 'n vriend van Raphael was. Die opvallendste invloed in die werk van dié jare is egter Leonardo da Vinci, wat van 1500 tot 1506 weer in die stad was. Raphael se figure begin meer dinamiese en ingewikkelde houdings inneem, en hoewel sy geskilderde onderwerpe nog meestal rustig is, het hy studies van vegtende naakte mans geteken, een van die obsessies van die tyd in Florence. 'n Ander tekening is 'n portret van 'n jong vrou wat die driekwartlengte piramidale komposisie van die pas voltooide Mona Lisa gebruik, maar tog heeltemal soos Raphael s'n lyk. Nog 'n komposisionele vinding van Leonardo, die piramidale Heilige Familie, het hy in 'n reeks werke herhaal wat steeds onder sy bekendste esselskilderye tel. In die Royal Collection is daar 'n tekening deur Raphael van Leonardo se verlore Leda en die swaan, waaruit hy die contrapposto-houding van sy eie Sint Katarina van Alexandrië afgelei het.[30] Hy vervolmaak ook sy eie weergawe van Leonardo se sfumato-modellering om sy uitbeelding van vlees subtieler te maak, en ontwikkel die spel van blikke tussen sy figuurgroepe, wat baie minder raaiselagtig is as dié van Leonardo. Hy behou egter die sagte, helder lig van Perugino in sy skilderye.[31]

Leonardo was meer as dertig jaar ouer as Raphael, maar Michelangelo, wat in dié tyd in Rome was, was net agt jaar ouer. Michelangelo het reeds 'n afkeer van Leonardo gehad en het in Rome 'n nog groter afkeer van Raphael ontwikkel, aan wie hy samesweringe teen homself toegeskryf het.[32] Raphael sou Michelangelo se werke in Florence geken het, maar in sy oorspronklikste werk van dié jare slaan hy 'n ander rigting in. Sy Graflegging put uit klassieke sarkofae deur die figure oor die voorkant van die beeldruimte te sprei, in 'n ingewikkelde en nie heeltemal geslaagde rangskikking nie. Wölfflin bespeur in die knielende figuur regs die invloed van die Madonna in Michelangelo se Doni Tondo, maar die res van die komposisie is ver van Michelangelo of Leonardo se styl verwyder. Hoewel die werk destyds hoog aangeskryf was en baie later deur die Borghese-familie met geweld uit Perugia weggeneem is, staan dit taamlik alleen in Raphael se oeuvre. Sy klassisisme sou later 'n minder letterlike rigting inslaan.[33]

Romeinse tydperk

[wysig | wysig bron]

Die Raphael-kamers in die Vatikaan

[wysig | wysig bron]

In 1508 het Raphael na Rome verhuis, waar hy tot sy dood gewoon het. Die nuwe pous, Julius II, het hom genooi, moontlik op voorstel van sy argitek Donato Bramante, wat toe aan die Sint Pieterskerk gewerk het, van net buite Urbino afkomstig was en ver familie van Raphael was.[35] Anders as Michelangelo, wat ná sy eerste ontbieding 'n paar maande lank in Rome moes wag,[36] het Raphael onmiddellik van Julius opdrag gekry om fresko's te skilder in wat die pous se private biblioteek in die Vatikaanse Paleis sou word.[37] Dit was 'n veel groter en belangriker opdrag as enigiets wat hy tevore ontvang het; in Florence self het hy net een altaarstuk geskilder. Verskeie ander kunstenaars en hul spanne assistente was reeds in ander vertrekke aan die werk, en baie van hulle het oor onlangs voltooide skilderye geskilder wat Julius se gehate voorganger, Alexander VI, bestel het. Julius was vasbeslote om Alexander se bydraes en wapen uit die paleis te verwyder.[38] Michelangelo het intussen opdrag gekry om die plafon van die Sixtynse kapel te skilder.[39]

Die eerste van die beroemde Raphael-kamers (Stanze) wat geskilder is, nou bekend as die Stanza della Segnatura na die gebruik daarvan in Vasari se tyd, sou 'n verbluffende uitwerking op die Romeinse kuns hê. Dit word steeds algemeen as sy grootste meesterwerk beskou en bevat Die Skool van Athene, Die Parnassus en die Disputa. Raphael het daarna verdere vertrekke gekry om te skilder en daarmee ander kunstenaars, onder wie Perugino en Signorelli, verdring. Hy het 'n reeks van drie vertrekke voltooi, elk met skilderye teen elke muur en dikwels ook op die plafon. Die skilderwerk het hy al hoe meer volgens sy gedetailleerde tekeninge aan die groot en bekwame werkswinkelspan oorgelaat wat hy opgebou het, en ná sy vroeë dood in 1520 het dié span 'n vierde vertrek bygevoeg, waarskynlik met net enkele elemente wat Raphael ontwerp het. Julius se dood in 1513 het die werk glad nie onderbreek nie, want sy opvolger was Raphael se laaste pous, die Medici-pous Leo X, met wie Raphael 'n nog nouer verhouding gehad het en wat hom bly opdragte gee het.[40] Raphael se vriend kardinaal Bibbiena was ook een van Leo se vroeëre tutors en 'n goeie vriend en raadgewer van hom.

Die kardinale en teologiese deugde (1511)

Terwyl hy die vertrek geskilder het, is Raphael duidelik deur Michelangelo se plafon in die Sixtynse kapel beïnvloed. Volgens Vasari het Bramante hom in die geheim in die kapel ingelaat. Die vraag hoe ander kunstenaars op Michelangelo se oorweldigende krag moes reageer, het die Italiaanse kuns die volgende paar dekades oorheers, en Raphael, wat reeds getoon het hoe goed hy invloede in sy eie persoonlike styl kon opneem, het die uitdaging dalk beter as enige ander kunstenaar aangepak. Een van die eerste en duidelikste voorbeelde is die portret van Michelangelo self as Herakleitos in Die Skool van Athene, wat duidelik op die sibille en ignudi van die Sixtynse plafon gebaseer lyk. Ander figure in dié en latere skilderye in die vertrek toon dieselfde invloede, maar steeds in samehang met die ontwikkeling van Raphael se eie styl.[41] Michelangelo het Raphael van plagiaat beskuldig en in 'n brief gekla dat "alles wat hy van kuns weet, het hy van my gekry", hoewel ander uitsprake van hom meer grootmoedig is.[42]

Hierdie baie groot en ingewikkelde komposisies word sedertdien as van die hoogste werke in die grootse styl (grand manner) van die Hoog-Renaissance beskou, en as die "klassieke kuns" van die postantieke Weste. Hulle gee 'n hoogs geïdealiseerde uitbeelding van die vorme wat voorgestel word, en hoewel die komposisies baie sorgvuldig in tekeninge beplan is, bereik hulle sprezzatura, 'n term wat sy vriend Castiglione geskep het. Castiglione het dit omskryf as "'n sekere nonchalance wat alle kunsvaardigheid verberg en alles wat 'n mens sê of doen ongekunsteld en moeiteloos laat lyk ...".[43] Volgens Michael Levey "gee Raphael sy [figure] 'n bomenslike helderheid en grasie in 'n heelal van Euklidiese sekerhede".[44] Die skilderwerk in die eerste twee vertrekke is byna alles van die hoogste gehalte, maar die latere komposisies in die Stanze, veral dié met dramatiese handeling, is nie heeltemal so geslaag nie, nie in opset nie en ook nie in die uitvoering deur die werkswinkel nie.[45]

Argitektuur

[wysig | wysig bron]
Die Palazzo Branconio dell'Aquila, wat nie meer bestaan nie

Ná Bramante se dood in 1514 is Raphael as argitek van die nuwe Sint Pieterskerk aangestel. Sy bydrae daar is ná sy dood, toe Michelangelo se ontwerp aanvaar is, grotendeels verander of gesloop, maar 'n paar tekeninge het behoue gebly. Dit lyk asof sy ontwerpe die kerk heelwat donkerder sou gemaak het as die finale ontwerp, met massiewe pilare oor die hele lengte van die skip, "soos 'n steeg" volgens 'n kritiese ontleding wat Antonio da Sangallo die Jongere ná sy dood gemaak het. Die kerk sou dalk soos die tempel in die agtergrond van Die verdrywing van Heliodorus uit die tempel gelyk het.[46]

Hy het verskeie ander geboue ontwerp en was vir 'n kort tyd die belangrikste argitek in Rome, wat vir 'n klein kring rondom die pous gewerk het. Julius het die straatplan van Rome verander en verskeie nuwe deurgange aangelê, en hy wou hê dat dié met pragtige paleise gevul moes word.[47]

'n Belangrike gebou, die Palazzo Branconio dell'Aquila vir Leo se pouslike kamerheer Giovanni Battista Branconio, is heeltemal gesloop om plek te maak vir Bernini se plein voor die Sint Pieterskerk, maar tekeninge van die fasade en die binnehof het behoue gebly. Die fasade was vir dié tyd buitengewoon ryk versier, met geskilderde panele op die boonste van die drie verdiepings en baie beeldhouwerk op die middelste.[48]

Die hoofontwerpe vir die Villa Farnesina was nie deur Raphael nie, maar hy het vir dieselfde beskermheer, die pouslike tesourier Agostino Chigi, die Chigi-kapel in Santa Maria del Popolo ontwerp en met mosaïeke versier. Nog 'n gebou, die Palazzo Jacopo da Brescia vir pous Leo se geneesheer, is in die 1930's verskuif, maar bestaan nog; dit is ontwerp om 'n paleis van Bramante in dieselfde straat aan te vul, waar Raphael self 'n tyd lank gewoon het.[49]

Die Chigi-kapel

Die Villa Madama, 'n weelderige buitewoning teen 'n heuwel vir kardinaal Giulio de' Medici, die latere Pous Clemens VII, is nooit voltooi nie, en Raphael se volledige planne moet op spekulatiewe wyse gerekonstrueer word. Hy het 'n ontwerp gemaak waaruit Antonio da Sangallo die Jongere die finale bouplanne voltooi het. Selfs onvoltooid was dit die gesofistikeerdste villa-ontwerp wat tot dusver in Italië gesien is, en dit het die latere ontwikkeling van die genre sterk beïnvloed; dit is blykbaar die enigste moderne gebou in Rome waarvan Palladio 'n gemete tekening gemaak het.[50]

Van 'n groot paleis wat hy vir homself aan die nuwe Via Giulia in die wyk Regola beplan het, en waarvoor hy in sy laaste jare grond bymekaargemaak het, bly net enkele vloerplanne oor. Dit sou op 'n onreëlmatige blok naby die Tiber gestaan het. Al die fasades sou blykbaar 'n reuse-orde van pilasters gehad het wat minstens twee verdiepings tot die volle hoogte van die piano nobile gestrek het, "'n grootsprakige kenmerk sonder weerga in die ontwerp van private paleise".[51]

Raphael het Marco Fabio Calvo gevra om Vitruvius se werk oor argitektuur in Italiaans te vertaal en het die vertaling teen die einde van Augustus 1514 ontvang. Dit word met kanttekeninge in Raphael se hand in die biblioteek in München bewaar.[52]

Oudhede

[wysig | wysig bron]

Omstreeks 1510 het Bramante Raphael gevra om eietydse kopieë van die Laokoön-groep te beoordeel.[53] In 1515 het hy as prefek gesag oor alle oudhede gekry wat binne die stad, of tot 'n myl daarbuite, opgegrawe is.[54] Enigiemand wat oudhede opgegrawe het, moes Raphael binne drie dae daarvan in kennis stel, en klipkappers mog sonder toestemming geen inskripsies vernietig nie.[55] Raphael het in 'n brief aan pous Leo maniere voorgestel om die vernietiging van antieke monumente te stuit, en aanbeveel dat die stad visueel opgemeet word sodat alle oudhede georganiseerd vasgelê kan word. Die pous wou voortgaan om antieke messelwerk in die bou van die Sint Pieterskerk te hergebruik, maar wou ook verseker dat alle antieke inskripsies aangeteken en beeldhouwerk bewaar word voordat die klip hergebruik word.[54]

Volgens Marino Sanuto die Jongere se dagboek het Raphael in 1519 aangebied om 'n obelisk vir 90 000 dukate van die Mausoleum van Augustus na die Sint Pietersplein te vervoer.[56] Volgens Marcantonio Michiel het Raphael se "vroeë dood die geleerdes bedroef, omdat hy nie die beskrywing en die skildery van antieke Rome kon voltooi wat hy besig was om te maak nie, wat baie mooi was".[57] Raphael wou 'n argeologiese kaart van antieke Rome maak, maar dit is nooit uitgevoer nie.[58] Vier argeologiese tekeninge deur hom het behoue gebly.[59]

Ander skilderwerk

[wysig | wysig bron]

Die Vatikaanse projekte het die meeste van sy tyd in beslag geneem, maar hy het tog verskeie portrette geskilder, onder meer van sy twee vernaamste beskermhere, die pouse Julius II en sy opvolger Leo X; eersgenoemde word as een van sy beste beskou. Ander portrette was van sy eie vriende, soos Castiglione, of van die onmiddellike kring rondom die pous. Ook ander heersers wou werk van hom hê, en koning Frans I van Frankryk het van die pous twee skilderye as diplomatieke geskenke ontvang.[60] Vir Agostino Chigi, die skatryk bankier en pouslike tesourier, het hy Galatea se triomf geskilder en verdere dekoratiewe fresko's vir sy Villa Farnesina ontwerp, asook 'n kapel in die kerk Santa Maria della Pace. Hy het ook 'n deel van die versiering van die Villa Madama ontwerp; die werk in albei villas is deur sy werkswinkel uitgevoer.

Een van sy belangrikste pouslike opdragte was die Raphael-kartons (nou in die Victoria and Albert Museum), 'n reeks van tien kartons, waarvan sewe behoue gebly het, vir wandtapyte met tonele uit die lewens van Sint Paulus en Sint Petrus vir die Sixtynse kapel. Die kartons is na Brussel gestuur om in die werkswinkel van Pieter van Aelst geweef te word. Raphael het die voltooide reeks moontlik voor sy dood gesien; dit is waarskynlik in 1520 voltooi.[61] Hy het ook die Vatikaanse loggias ontwerp en geskilder, 'n lang, smal galery wat destyds aan een kant op 'n binnehof uitgekyk het en met groteske in Romeinse styl versier is.[62] Hy het 'n aantal belangrike altaarstukke vervaardig, onder meer Die ekstase van Sint Cecilia en die Sixtynse Madonna. Sy laaste werk, waaraan hy tot sy dood gewerk het, was 'n groot Transfigurasie, wat saam met Christus val op pad na Golgota die rigting toon wat sy kuns in sy laaste jare ingeslaan het: meer proto-Barok as Maniëristies.[63]

Skildermateriaal

[wysig | wysig bron]

Raphael het verskeie van sy werke, soos die Madonna met die angeliere, op hout geskilder, maar hy het ook doek gebruik, soos vir die Sixtynse Madonna, en dit is bekend dat hy droënde olies soos lynsaad- of okkerneutolie gebruik het. Sy palet was ryk en hy het byna al die pigmente gebruik wat destyds beskikbaar was, soos ultramaryn, lood-tin-geel, karmyn, vermiljoen, meekraplak, groenspaan en oker. In verskeie van sy skilderye (die Ansidei-Madonna) het hy selfs die seldsame brasielhoutlak, metaalpoeier van goud en die nog minder bekende metaalpoeier van bismut gebruik.[64][65]

Werkswinkel

[wysig | wysig bron]

Volgens Vasari het Raphael uiteindelik 'n werkswinkel van vyftig leerlinge en assistente gehad, van wie baie later self belangrike kunstenaars geword het. Dit was waarskynlik die grootste werkswinkelspan wat ooit onder 'n enkele ou meester saamgestel is, en veel groter as wat gebruiklik was. Dit het gevestigde meesters uit ander dele van Italië ingesluit, wat waarskynlik met hul eie spanne as subkontrakteurs gewerk het, asook leerlinge en ambagsgeselle. Daar is baie min bewyse van hoe die werkswinkel intern gereël was, behalwe die kunswerke self, wat dikwels baie moeilik aan 'n bepaalde hand toegeskryf kan word.[66]

Die belangrikste figure was Giulio Romano, 'n jong leerling uit Rome (net sowat een-en-twintig toe Raphael oorlede is), en Gianfrancesco Penni, reeds 'n Florentynse meester. Hulle het baie van Raphael se tekeninge en ander besittings geërf en die werkswinkel ná sy dood tot 'n mate voortgesit. Penni het nie 'n persoonlike reputasie gelyk aan Giulio s'n verwerf nie, want ná Raphael se dood was hy vir 'n groot deel van sy verdere loopbaan op sy beurt Giulio se ondergeskikte medewerker. Perino del Vaga, reeds 'n meester, en Polidoro da Caravaggio, wat glo van arbeider wat boumateriaal op die bouterrein aangedra het, tot skilder bevorder is, het ook in eie reg noemenswaardige skilders geword. Polidoro se vennoot, Maturino da Firenze, is, soos Penni, in latere aansien deur sy vennoot oorskadu. Giovanni da Udine het 'n meer onafhanklike status gehad en was verantwoordelik vir die dekoratiewe pleisterwerk en groteske rondom die hooffresko's.[67] Die meeste van die kunstenaars is later deur die gewelddadige plundering van Rome in 1527 verstrooi, en sommige is daarin gedood.[68] Dit het egter daartoe bygedra dat weergawes van Raphael se styl oor Italië en verder versprei het.

Vasari beklemtoon dat Raphael 'n baie harmonieuse en doeltreffende werkswinkel bestuur het en buitengewoon vaardig was om probleme en argumente met sowel beskermhere as sy assistente uit te stryk, in teenstelling met die stormagtige verhoudings wat Michelangelo met albei gehad het.[69] Penni en Giulio was albei so bekwaam dat dit soms steeds moeilik is om hul hande van Raphael s'n te onderskei,[70] maar daar is geen twyfel nie dat baie van Raphael se latere muurskilderye, en waarskynlik sommige van sy esselskilderye, meer vir hul ontwerp as vir hul uitvoering opval. Baie van sy portrette toon, as hulle in 'n goeie toestand is, tot aan die einde van sy lewe sy meesterlikheid in die gedetailleerde hantering van verf.[71]

Onder sy ander leerlinge of assistente was Raffaellino del Colle, Andrea Sabbatini, Bartolommeo Ramenghi, Pellegrino Aretusi, Vincenzo Tamagni, Battista Dossi, Tommaso Vincidor, Timoteo Viti (die skilder van Urbino) en die beeldhouer en argitek Lorenzetto (Giulio se swaer).[72] Daar word beweer dat die Vlaming Bernard van Orley 'n tyd lank vir Raphael gewerk het, en Luca Penni, Gianfrancesco se broer en later 'n lid van die eerste skool van Fontainebleau, was moontlik deel van die span.[73]

Tekeninge

[wysig | wysig bron]
Lucretia, 'n gravure deur Raimondi na 'n tekening deur Raphael[74]

Raphael was een van die beste tekenaars in die geskiedenis van die Westerse kuns en het tekeninge op groot skaal gebruik om sy komposisies te beplan. Volgens 'n byna-tydgenoot het hy, wanneer hy 'n komposisie begin beplan het, 'n groot aantal van sy voorraadtekeninge op die vloer uitgelê en "vinnig" begin teken, terwyl hy figure van hier en daar ontleen het.[75] Meer as veertig sketse vir die Disputa in die Stanze het behoue gebly, en oorspronklik was daar heel moontlik baie meer; altesaam het meer as vierhonderd vel behoue gebly.[76] Hy het verskillende tekeninge gebruik om sy houdings en komposisies te verfyn, blykbaar in 'n groter mate as die meeste ander skilders, te oordeel aan die aantal variante wat behoue gebly het. "... So het Raphael self, wat so ryk aan vindingrykheid was, gewerk: hy het altyd vier of ses maniere bedink om 'n verhaal uit te beeld, elkeen anders as die res, en almal vol grasie en goed uitgevoer", het 'n ander skrywer ná sy dood geskryf.[77] Vir John Shearman verteenwoordig Raphael se kuns "'n verskuiwing van hulpbronne weg van produksie na navorsing en ontwikkeling".[78]

Wanneer hy 'n finale komposisie bereik het, is daar dikwels opgeskaalde kartons op volle grootte gemaak, wat dan met 'n speld deurprik en met 'n sakkie roet bestuif is om stippellyne as riglyn op die oppervlak te laat. Hy het ook op sowel papier as pleister buitengewoon baie van 'n "blinde stilus" gebruik gemaak, wat lyne krap wat net 'n induiking, maar geen merk laat nie. Dit is op die muur in Die Skool van Athene en in die oorspronklikes van baie tekeninge te sien.[79] Die Raphael-kartons, as ontwerpe vir wandtapyte, is volledig in 'n gomtempera ingekleur, omdat hulle na Brussel gestuur is sodat die wewers hulle kon volg.

In latere werke wat die werkswinkel geskilder het, is die tekeninge dikwels pynlik aantrekliker as die skilderye.[80] Die meeste van Raphael se tekeninge is taamlik presies: selfs eerste sketse met naakte omlynfigure is sorgvuldig geteken, en latere werktekeninge is dikwels hoogs afgewerk, met skaduwees en soms hoogligte in wit. Hulle het nie die vryheid en energie van sommige van Leonardo en Michelangelo se sketse nie, maar is byna altyd esteties baie bevredigend. Hy was een van die laaste kunstenaars wat die metaalstif ('n skerp gepunte stuk silwer of 'n ander metaal) op groot skaal gebruik het, hoewel hy ook uitstekend van die vryer medium van rooi of swart kryt gebruik gemaak het.[81] In sy laaste jare was hy een van die eerste kunstenaars wat vroulike modelle vir voorbereidende tekeninge gebruik het; gewoonlik is manlike leerlinge (garzoni) vir studies van albei geslagte gebruik.[82]

Prentkuns

[wysig | wysig bron]

Raphael het self geen prente gemaak nie, maar hy het met Marcantonio Raimondi saamgewerk om gravures volgens sy ontwerpe te vervaardig. Dié samewerking het baie van die beroemdste Italiaanse prente van die eeu opgelewer en was belangrik vir die opkoms van die reproduksieprent. So 'n belangstelling was ongewoon vir so 'n groot kunstenaar; van sy tydgenote het net Titiaan, wat baie minder suksesvol met Raimondi saamgewerk het, dit gedeel.[83] Altesaam sowat vyftig prente is gemaak; sommige was kopieë van Raphael se skilderye, maar ander ontwerpe het hy blykbaar uitsluitlik geskep om in prente omgesit te word. Raphael het voorbereidende tekeninge gemaak, waarvan baie behoue gebly het, wat Raimondi dan in gravures omgesit het.[84]

Die beroemdste oorspronklike prente wat uit die samewerking voortgekom het, was Lucretia, die Oordeel van Paris en Die kindermoord in Betlehem (waarvan twee feitlik identiese weergawes gegraveer is). Onder die prente van skilderye was dié van Die Parnassus (met aansienlike verskille)[85] en Galatea ook besonder bekend. Buite Italië was reproduksieprente deur Raimondi en ander tot in die twintigste eeu die vernaamste manier waarop mense Raphael se kuns leer ken het. Baviero Carocci, deur Vasari "Il Baviera" genoem, 'n assistent wat Raphael klaarblyklik met sy geld vertrou het,[86] het ná Raphael se dood die meeste van die koperplate in sy besit gekry en 'n suksesvolle loopbaan in die nuwe beroep van prentuitgewer gehad.[87]

Privaat lewe en dood

[wysig | wysig bron]
La Fornarina, Raphael se minnares

Van 1517 tot sy dood het Raphael taamlik grootskeeps in die Palazzo Caprini gewoon, 'n paleis wat Bramante ontwerp het, op die hoek van die Piazza Scossacavalli en die Via Alessandrina in die Borgo.[88] Hy het nooit getrou nie, maar hy het hom in 1514 met Maria Bibbiena, kardinaal Bibbiena se niggie, verloof. Dit lyk asof sy vriend die kardinaal hom daartoe oorgehaal het, en dat hy nie baie geesdriftig was nie, blyk daaruit dat die huwelik teen haar dood in 1520 nog nie plaasgevind het nie.[89] Hy het glo baie verhoudings gehad, maar in Rome was "La Fornarina" 'n vaste figuur in sy lewe: Margherita Luti, die dogter van Francesco Luti, 'n bakker (fornaro) uit Siëna wat in die Via del Governo Vecchio gewoon het.[90]

Hy is as "kamerdienaar" (valet de chambre) van die pous aangestel, wat hom status aan die hof en 'n ekstra inkomste gegee het, en ook as ridder van die pouslike Orde van die Goue Spoor. Volgens Vasari het hy met die ambisie gespeel om kardinaal te word, moontlik ná 'n mate van aanmoediging deur Leo, wat ook kan verklaar waarom hy sy huwelik uitgestel het.[89]

Raphael is op Goeie Vrydag, 6 April 1520, oorlede, moontlik op sy 37ste verjaardag.[e][f] Volgens Vasari is Raphael ook op 'n Goeie Vrydag gebore, wat in 1483 op 28 Maart geval het,[g] en het die kunstenaar aan uitputting weens onophoudelike romantiese avonture gesterf terwyl hy aan die loggia gewerk het.[92] Latere historici en wetenskaplikes het verskeie ander moontlike oorsake van sy dood geopper,[h] soos 'n kombinasie van 'n aansteeklike siekte en bloedlating.[93] Gedurende sy akute siekte, wat vyftien dae geduur het, was Raphael kalm genoeg om sy sondes te bely, die laaste sakramente te ontvang en sy sake in orde te bring. Hy het sy testament gedikteer, waarin hy genoeg geld vir die versorging van sy minnares nagelaat het, toevertrou aan sy lojale dienaar Baviera, en die meeste van die inhoud van sy ateljee aan Giulio Romano en Penni bemaak het. Op sy versoek is Raphael in die Panteon begrawe.[94]

Raphael se begrafnis was uiters grootskeeps en is deur groot skares bygewoon. Volgens 'n dagboek van Paris de Grassis[i] het vier kardinale in pers gewade sy liggaam gedra, en die pous het sy hand gesoen.[95] Die inskripsie op Raphael se marmersarkofaag, 'n elegiese koeplet deur Pietro Bembo, lui: "Hier lê daardie beroemde Raphael, deur wie die Natuur gevrees het om oorwin te word terwyl hy geleef het, en toe hy gesterf het, gevrees het om self te sterf."[j]

Kritiese ontvangs

[wysig | wysig bron]
Sixtynse Madonna (1512)

Raphael is deur sy tydgenote hoog bewonder, hoewel sy invloed op die kunsstyl van sy eie eeu kleiner was as dié van Michelangelo. Die Maniërisme, wat omstreeks sy dood begin het, en later die Barok het die kuns "in 'n rigting heeltemal teenoor" Raphael se eienskappe geneem;[96] "met Raphael se dood het die klassieke kuns, die Hoog-Renaissance, getaan", soos Walter Friedländer dit gestel het.[97] Diegene wat 'n afkeer van die oordaad van die Maniërisme gehad het, het hom gou as die ideale voorbeeld beskou:

die mening ... is in die middel van die sestiende eeu algemeen gehuldig dat Raphael die ideale gebalanseerde skilder was, universeel in sy talent, wat aan al die absolute standaarde voldoen en al die reëls gehoorsaam het wat veronderstel was om die kunste te beheer, terwyl Michelangelo die eksentrieke genie was, briljanter as enige ander kunstenaar op sy besondere gebied, die tekening van die manlike naakfiguur, maar ongebalanseerd en sonder sekere eienskappe, soos grasie en selfbeheersing, wat vir die groot kunstenaar noodsaaklik is. Diegene wat hierdie siening gehuldig het, soos Dolce en Aretino, was gewoonlik die oorlewendes van die Renaissance-humanisme, wat Michelangelo nie kon volg toe hy na die Maniërisme beweeg het nie.[98]

Al het Michelangelo Vasari se held gebly, het Vasari self Michelangelo se invloed in sekere opsigte as skadelik beskou, en hy het in die tweede uitgawe van sy Lewens (Le Vite) gedeeltes bygevoeg wat soortgelyke sienings uitspreek.[99]

Raphael en Maria Bibbiena se graf in die Panteon. Die Madonna is deur Lorenzetto
Raphael se sarkofaag

Raphael se komposisies is altyd bewonder en bestudeer en het die hoeksteen van die opleiding aan die kunsakademies geword. Sy grootste invloed het hy van die laat 17de tot die laat 19de eeu gehad, toe sy volmaakte gepastheid en balans baie bewonder is. Hy is as die beste voorbeeld vir die historiese skildery beskou, wat as die hoogste in die hiërargie van genres gegeld het. Sir Joshua Reynolds het in sy Discourses sy "eenvoudige, ernstige en majestueuse waardigheid" geprys en gesê dat hy "in die algemeen voorop staan onder die eerste [d.w.s. beste] skilders", veral weens sy fresko's (waaronder hy die Raphael-kartons gereken het), terwyl "Michelangelo die volgende aandag verdien. Hy het nie soveel voortreflikhede soos Raffaelle besit nie, maar dié wat hy gehad het, was van die hoogste soort ..." In navolging van die sestiende-eeuse sienings hierbo sê Reynolds verder oor Raphael:

Die voortreflikheid van hierdie buitengewone man het gelê in die gepastheid, skoonheid en majesteit van sy karakters, die oordeelkundige opbou van sy komposisie, die juistheid van sy tekening, die suiwerheid van sy smaak, en die vaardige aanpassing van ander mense se opvattings by sy eie doel. Niemand het hom oortref in daardie oordeel waarmee hy die energie van Michelangelo en die skoonheid en eenvoud van die antieke met sy eie waarnemings van die natuur verenig het nie. Op die vraag wie die eerste rang moet beklee, Raffaelle of Michelangelo, moet dus geantwoord word dat as dit gegee moet word aan hom wat 'n groter kombinasie van die hoër eienskappe van die kuns as enige ander mens besit het, Raffaelle ongetwyfeld die eerste is. Maar as, volgens Longinus, die verhewe, as die hoogste voortreflikheid wat menslike skepping kan bereik, ruimskoots vergoed vir die afwesigheid van elke ander skoonheid en vir alle ander tekortkominge boet, dan verdien Michelangelo die voorkeur.[100]

Reynolds was oor Raphael se paneelskilderye minder geesdriftig, maar die effense sentimentaliteit daarvan het hulle in die 19de eeu geweldig gewild gemaak: "Ons ken hulle van kleins af, deur 'n veel groter massa reproduksies as wat enige ander kunstenaar in die wêreld nog ooit gehad het ...", het Wölfflin, wat in 1862 gebore is, oor Raphael se Madonnas geskryf.[101]

In Duitsland het Raphael in die 19de eeu 'n geweldige invloed op die godsdienstige kuns van die Nazarener-beweging en die Düsseldorfse skilderskool gehad. In Engeland het die Pre-Rafaelitiese Broederskap daarenteen uitdruklik teen sy invloed (en dié van sy bewonderaars soos Reynolds) in opstand gekom en probeer om terug te keer na die style van vóór wat hulle as sy noodlottige invloed beskou het. Die kritikus John Ruskin, wie se idees hulle sterk beïnvloed het, het geskryf:

Die ondergang van die kunste van Europa het uit daardie vertrek [die Stanza della Segnatura] uitgegaan, en dit is grotendeels teweeggebring deur juis die voortreflikhede van die man wat so die begin van die verval gemerk het. Die volmaaktheid van uitvoering en die skoonheid van gelaatstrekke wat in sy werke, en in dié van sy groot tydgenote, bereik is, het afwerking van uitvoering en skoonheid van vorm die hoofdoelwitte van alle kunstenaars gemaak; en voortaan is na uitvoering gesoek eerder as na gedagte, en na skoonheid eerder as na waarheidsgetrouheid.

En soos ek julle gesê het, is dit die twee sekondêre oorsake van die verval van die kuns; die eerste is die verlies aan morele doel. Let asseblief duidelik daarop. In die Middeleeuse kuns is gedagte die eerste ding en uitvoering die tweede; in die moderne kuns is uitvoering die eerste ding en gedagte die tweede. En weer, in die Middeleeuse kuns is waarheid eerste en skoonheid tweede; in die moderne kuns is skoonheid eerste en waarheid tweede. Die Middeleeuse beginsels het opwaarts na Raphael gelei, en die moderne beginsels lei afwaarts van hom af weg.[102]

Teen 1900 het Michelangelo en Leonardo Raphael in gewildheid verbygesteek, moontlik as reaksie op die verflenste Rafaelisme van 19de-eeuse akademiese kunstenaars soos Bouguereau.[103] Hoewel die kunshistorikus Bernard Berenson Raphael in 1952 die "beroemdste en mees geliefde" meester van die Hoog-Renaissance genoem het,[104] sê die kunshistorici Leopold en Helen Ettlinger dat Raphael se mindere gewildheid in die 20ste eeu duidelik blyk uit "die inhoud van kunsbiblioteke se rakke ... In teenstelling met boekdeel op boekdeel wat weer eens gedetailleerde foto's van die Sixtynse plafon of Leonardo se tekeninge weergee, is die literatuur oor Raphael, veral in Engels, tot net 'n paar boeke beperk".[103] Hulle kom nietemin tot die gevolgtrekking dat "van al die groot Renaissance-meesters Raphael se invloed die mees ononderbroke is".[105]

Notas

[wysig | wysig bron]
  1. ↑ Ander variante sluit Raffaello Santi, Raffaello da Urbino, Rafael Sanzio da Urbino en Raphael Sanzio in. Die van Sanzio is afgelei van die verlatynsing van die Italiaanse Santi tot Santius. Hy het dokumente gewoonlik as Raphael Urbinas onderteken, 'n verlatynste vorm. Gould:207
  2. ↑ Hy is glo op Goeie Vrydag (28 Maart 1483) gebore, maar die inskripsie op sy graf sê dat hy op dieselfde datum as sy sterfdag gebore is (hy is drie uur ná die Ave Maria van Goeie Vrydag oorlede). Albei geboortedatums kan nie waar wees nie.[3]
  3. ↑ Ná 'n besoek aan Verrocchio se werkswinkel het Santi aangeteken dat Perugino en Leonardo da Vinci albei daar was, en hy het hulle blykbaar as ewe bekwaam beskou. Nadat Leonardo na Milaan vertrek het, het Santi uit twee beskikbare kunstenaars Perugino gekies om sy seun te leer.[15]
  4. ↑ Die brug in die agtergrond is die Pons Fabricius.[59]
  5. ↑ Sommige betwis sy ouderdom by sy dood: Michiel beweer dat hy op 34 oorlede is, terwyl Pandolfo Pico en Girolamo Lippomano aanvoer dat hy 33 was.[91]
  6. ↑ Ingrid Bergman en Shakespeare is ook op hul verjaardag oorlede.
  7. ↑ Michiel het daarenteen gesê dat hy op sy verjaardag oorlede is. Die kunshistorikus John Shearman het dié skynbare teenstrydigheid só bespreek: "Die tyd van die dood kan bereken word uit die konvensie om van sonsondergang af te tel, wat Michaelis om 18:36 op Vrydag 6 April stel, plus 'n halfuur tot die Ave Maria, plus drie uur, dit wil sê kort ná 22:00. Die ooreenkoms wat tussen die geboorte- en sterfdatum opgemerk word, word in hierdie geval gewoonlik beskou (aangesien dit na die Vrydag en Saterdag in die Heilige Week verwys, die roerende fees eerder as die dag van die maand) as 'n versterking van die argument dat Raphael ook op Goeie Vrydag, dit wil sê 28 Maart 1483, gebore is. Maar daar is 'n opvallende dubbelsinnigheid in Michiel se aantekening wat nie dikwels raakgesien word nie: Morse ... Venerdi Santo venendo il Sabato, giorno della sua Nativita kan ook beteken dat sy verjaardag op die Saterdag was, en in daardie geval kon die bewustheid net so wel die datum gewees het, wat 'n geboortedatum van 7 April 1483 oplewer."[91]
  8. ↑ Bufarale (1915) het "longontsteking of 'n militêre koors gediagnoseer", terwyl Portigliotti 'n longsiekte voorgestel het. Joannides het verklaar dat "Raphael aan oorwerk gesterf het". Bernardino Ramazzini het reeds in 1700 in De morbis artificum daarop gewys dat skilders van daardie tyd oor die algemeen 'n "sittende lewe gelei en 'n swaarmoedige geaardheid gehad het" en dikwels "met materiale op grond van kwik en lood" gewerk het.[91]
  9. ↑ Aangehaal deur Jean-M.-Vincent Audin, hoewel daar 'n mate van onsekerheid is oor of die dagboek werklik bestaan.[95]
  10. ↑ Die oorspronklike in Latyn: "Ille hic est Raffael, timuit quo sospite vinci, rerum magna parens et moriente mori".

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. ↑ Jones and Penny, p. 171. Die portret is waarskynlik "'n latere verwerking van die een gelykenis waaroor almal saamstem": dié in Die Skool van Athene, waarvoor Vasari instaan.
  2. ↑ Jones and Penny, p. 1 en 246.
  3. ↑ Salmi et al. 1969, pp. 585, 597.
  4. ↑ "Raffaello Sanzio". Gran Enciclopèdia Catalana (in Katalaans). Barcelona: Grup Enciclopèdia. Besoek op 28 Oktober 2008.
  5. ↑ Oor Neoplatonisme, sien hoofstuk 4, "The Real and the Imaginary" Geargiveer 16 Desember 2018 op Wayback Machine, in Kleinbub, Christian K., Vision and the Visionary in Raphael, 2011, Penn State Press, ISBN 978-0271037042
  6. ↑ Sien byvoorbeeld Honour, Hugh; Fleming, John (1982). A World History of Art. London: Macmillan Reference Books. p. 357. ISBN 978-0333235836. OCLC 8828368.; Britannica aanlyn, "High Renaissance". Geargiveer 5 November 2026 op Wayback Machine
  7. ↑ Vasari, pp. 208, 230 en passim.
  8. ↑ Osborne, June. Urbino: The Story of a Renaissance City. p. 39. Die stad het hoogstens "'n paar duisend" inwoners gehad.
  9. ↑ Jones and Penny, pp. 1-2
  10. ↑ Vasari:207 & passim
  11. ↑ Jones & Penny:204
  12. ↑ Vasari, aan die begin van die Lewe. Jones & Penny:5
  13. ↑ Ashmolean Museum. "Image". z.about.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Desember 2007.
  14. ↑ Jones and Penny: 4-5, 8 en 20
  15. ↑ Salmi et al. 1969, pp. 11–12.
  16. ↑ Simone Fornari in 1549-1550, sien Gould:207
  17. ↑ Jones & Penny:8
  18. ↑ Hy kontrasteer hom in dié opsig met Leonardo en Michelangelo. Wölfflin:73
  19. ↑ Jones and Penny:17
  20. ↑ Jones & Penny:2-5
  21. ↑ Ettlinger & Ettlinger:19
  22. ↑ Ettlinger & Ettlinger:20
  23. ↑ Dit is later in 1789 deur 'n aardbewing ernstig beskadig.
  24. ↑ Ettlinger & Ettlinger:39, 41
  25. ↑ Jones and Penny:5-8
  26. ↑ Een voorbereidende tekening wat behoue gebly het, blyk grotendeels deur Raphael te wees; aanhaling uit Vasari deur Jones and Penny:20
  27. ↑ Ettlinger & Ettlinger:25-27
  28. ↑ Gould:207-208
  29. ↑ Jones and Penny:5
  30. ↑ National Gallery, Londen. Jones & Penny:44
  31. ↑ Jones & Penny:21-45
  32. ↑ Vasari, Michelangelo:251
  33. ↑ Jones & Penny:44-47, en Wölfflin:79-82
  34. ↑ "Image". szepmuveszeti.hu. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Maart 2012.
  35. ↑ Jones & Penny:49, wat ietwat van Gould:208 verskil oor wanneer hy aangekom het
  36. ↑ Vasari:247
  37. ↑ Julius was geen groot leser nie: 'n inventaris wat ná sy dood opgestel is, tel altesaam 220 boeke, baie vir dié tyd, maar skaars genoeg om so 'n vertrek te regverdig. Daar was nie plek vir boekrakke teen die mure nie; die boeke het in kaste in die middel van die vloer gestaan, wat in die plundering van Rome in 1527 vernietig is. Jones & Penny:49-52
  38. ↑ Jones & Penny:49
  39. ↑ Graham-Dixon, Andrew (2008). Michelangelo and the Sistine Chapel. London: Weidenfeld & Nicolson. ISBN 9781602393684. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Augustus 2020. Besoek op 10 Januarie 2021.
  40. ↑ Jones & Penny:49-128
  41. ↑ Jones & Penny:101-105
  42. ↑ Blunt:76, Jones & Penny:103-105
  43. ↑ Book of the Courtier 1:26. Die volledige passasie Geargiveer 24 Desember 2007 op Wayback Machine
  44. ↑ Levey, Michael; Early Renaissance, p. 197, 1967, Penguin
  45. ↑ Ettlinger & Ettlinger: 177-180
  46. ↑ Jones & Penny:215-218
  47. ↑ Jones & Penny:210-211
  48. ↑ Jones & Penny:221-222
  49. ↑ Jones & Penny:219-220
  50. ↑ Jones and Penny:226-234; Raphael het 'n lang brief aan die kardinaal nagelaat waarin hy sy bedoelings beskryf, volledig herdruk op pp. 247-248
  51. ↑ Jones & Penny:224-226 (aanhaling)
  52. ↑ Salmi et al. 1969, pp. 572–573, 588.
  53. ↑ Salmi et al. 1969, p. 110.
  54. 1 2 Jones & Penny:205. Die brief dateer moontlik uit 1519, of van voor sy aanstelling.
  55. ↑ Salmi et al. 1969, p. 582.
  56. ↑ Salmi et al. 1969, pp. 569, 582.
  57. ↑ Salmi et al. 1969, p. 570.
  58. ↑ Salmi et al. 1969, p. 574.
  59. 1 2 Salmi et al. 1969, p. 579.
  60. ↑ Een daarvan was 'n portret van Johanna van Aragon, koningin-gemalin van Napels, waarvoor Raphael 'n assistent na Napels gestuur het om 'n tekening te maak; hy het waarskynlik die meeste van die skilderwerk aan die werkswinkel oorgelaat. Jones & Penny:163
  61. ↑ Jones & Penny:133-147
  62. ↑ Jones & Penny:192-197
  63. ↑ Jones & Penny:235-246, hoewel Raphael se verhouding tot die Maniërisme, soos die definisie van die Maniërisme self, sterk betwis word. Sien Craig Hugh Smyth, Mannerism & Maniera, 1992, IRSA Wenen, ISBN 3-900731-33-0
  64. ↑ Roy, A., Spring, M., Plazzotta, C. "Raphael's Early Work in the National Gallery: Paintings before Rome". National Gallery Technical Bulletin Vol. 25, pp. 4-35
  65. ↑ Italian painters Geargiveer 15 Maart 2016 op Wayback Machine by ColourLex
  66. ↑ Jones and Penny:146-147, 196-197; en Pon:82-85
  67. ↑ Jones and Penny:147, 196
  68. ↑ Vasari, Lewe van Polidoro, aanlyn in Engels Geargiveer 17 April 2008 op Wayback Machine. Van Maturino word byvoorbeeld nooit weer gehoor nie.
  69. ↑ Vasari:207 & 231
  70. ↑ Sien byvoorbeeld die Raphael-kartons.
  71. ↑ Jones & Penny:163-167 en passim
  72. ↑ Die direkte oordrag van opleiding kan tot 'n paar verrassende figure gevolg word, onder wie Brian Eno, Tom Phillips en Frank Auerbach.
  73. ↑ Vasari (volledige teks in Italiaans) pp. 197-198 en passim Geargiveer 24 Desember 2007 op Wayback Machine; sien ook die inskrywings in die Getty Union Artist Name List Geargiveer 11 Desember 2007 op Wayback Machine
  74. ↑ "Lucretia". Metropolitan Museum of Art. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 April 2008. Besoek op 26 Augustus 2010.
  75. ↑ Giovanni Battista Armenini (1533-1609), De vera precetti della pittura (1587), aangehaal in Pon:115
  76. ↑ Jones & Penny:58 en verder; 400 volgens Pon:114
  77. ↑ Ludovico Dolce (1508-1568), uit sy L'Aretino van 1557, aangehaal in Pon:114
  78. ↑ Aangehaal in Pon:114, uit 'n lesing oor The Organisation of Raphael's Workshop, gepubliseer in Chicago, 1983
  79. ↑ Foto's toon dit swak, of glad nie. Leonardo het soms 'n blinde stilus gebruik om sy finale keuse uit 'n warboel verskillende omlyne in dieselfde tekening af te baken. Pon:106-110.
  80. ↑ Whitaker, Lucy; Clayton, Martin; Loconte, Aislinn (2007). The art of Italy in the Royal Collection: Renaissance & Baroque. London: Royal Collection. p. 84. ISBN 978-1-902163-29-1.
  81. ↑ Pon:104
  82. ↑ National Galleries of Scotland. "National Galleries of Scotland − Collection". www.nationalgalleries.org (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Mei 2012. Besoek op 25 Mei 2026.
  83. ↑ Pon:102. Sien ook 'n uitvoerige ontleding in Landau:118 en verder
  84. ↑ Die raaiselagtige verhouding word breedvoerig deur Landau sowel as Pon (in haar hoofstukke 3 en 4) bespreek.
  85. ↑ Pon:86-87 lys hulle
  86. ↑ "Il Baviera" kan "die Beier" beteken; as hy 'n Duitser was, soos baie kunstenaars in Rome, sou dit tydens die plundering van 1527 nuttig gewees het, toe baie van Marcantonio se drukplate van hom geplunder is. Jones and Penny:82, sien ook Vasari
  87. ↑ Pon:95-136 en passim; Landau:118-160, en passim
  88. ↑ Gigli, Laura (1992). Guide rionali di Roma (in Italiaans). Vol. Borgo (II). Roma: Fratelli Palombi Editori. p. 46. ISSN 0393-2710.
  89. 1 2 Vasari:230-231
  90. ↑ Kunshistorici en dokters debatteer of die regterhand op die linkerbors in La Fornarina 'n kwaadaardige borsgewas onthul wat in 'n klassieke liefdeshouding uitgebeeld en verbloem is. "The Portrait of Breast Cancer and Raphael's La Fornarina", The Lancet, 21-28 Desember 2002.
  91. 1 2 3 Shearman: 573.
  92. ↑ Salmi et al. 1969, p. 598.
  93. ↑ Riva, Michele Augusto; Paladino, Maria Emilia; Motta, Marco; Belingheri, Michael (1 Januarie 2021). "The death of Raphael: a reflection on bloodletting in the Renaissance". Internal and Emergency Medicine (in Engels). 16 (1): 243-244. doi:10.1007/s11739-020-02435-8. ISSN 1970-9366. PMID 32666175. S2CID 220528453.
  94. ↑ Vasari:231
  95. 1 2 Salmi et al. 1969, pp. 598–599.
  96. ↑ Chastel, André, Italian Art, p. 230, 1963, Faber
  97. ↑ Walter Friedländer, Mannerism and Anti-Mannerism in Italian Painting, p. 42 (Schocken-uitgawe van 1970), 1957, Columbia UP
  98. ↑ Blunt:76
  99. ↑ Sien Jones & Penny:102-104
  100. ↑ "Seven Discourses on Art - Online text of Reynold's Discourses 1772". www.gutenberg.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Mei 2026. Besoek op 25 Mei 2026.
  101. ↑ Wölfflin:82
  102. ↑ "The Project Gutenberg eBook of Lectures on Architecture and Painting, by John Ruskin 1853". www.gutenberg.org (in Engels). p. 127. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Mei 2026. Besoek op 25 Mei 2026.
  103. 1 2 Ettlinger & Ettlinger:11
  104. ↑ Berenson, Bernard, Italian Painters of the renaissance, Vol 2 Florentine and Central Italian Schools, Phaidon 1952 (verwysings na die uitgawe van 1968), p. 94
  105. ↑ Ettlinger & Ettlinger:230

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • Blunt, Anthony, Artistic Theory in Italy, 1450-1660, 1940 (verwysings na die uitgawe van 1985), OUP, ISBN 0-19-881050-4
  • Gould, Cecil, The Sixteenth Century Italian Schools, National Gallery Catalogues, Londen 1975, ISBN 0-947645-22-5
  • Ettlinger, Leopold D., en Helen S. Ettlinger, Raphael, Oxford: Phaidon, 1987, ISBN 0714823031
  • Roger Jones en Nicholas Penny, Raphael, Yale, 1983, ISBN 0-300-03061-4
  • Landau, David, in: David Landau en Peter Parshall, The Renaissance Print, Yale, 1996, ISBN 0-300-06883-2
  • Pon, Lisa, Raphael, Dürer, and Marcantonio Raimondi, Copying and the Italian Renaissance Print, 2004, Yale UP, ISBN 978-0-300-09680-4
  • Salmi, Mario; Becherucci, Luisa; Marabottini, Alessandro; Tempesti, Anna Forlani; Marchini, Giuseppe; Becatti, Giovanni; Castagnoli, Ferdinando; Golzio, Vincenzo (1969). The Complete Work of Raphael. New York: Reynal and Co., William Morrow and Company.
  • Shearman, John, Raphael in Early Modern Sources 1483-1602, 2003, Yale University Press, ISBN 0-300-09918-5
  • Vasari, Giorgio, Life of Raphael uit Le Vite; gebruikte uitgawe: Artists of the Renaissance, gekies en geredigeer deur Malcolm Bull, Penguin 1965 (bladsynommers van die BCA-uitgawe, 1979)
  • Wölfflin, Heinrich, Classic Art; An Introduction to the Renaissance, 1952 in Engels (uitgawe van 1968), Phaidon, New York

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]