Gaan na inhoud

Dag

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die dag 12 September op 'n kalender aangedui
Dagr, die Noorse God van die dag, ry sy perd in hierdie 19de-eeuse skildery deur Peter Nicolai Arbo

'n Dag is die eenheid van tyd wat die periode beskryf wat dit 'n planeet neem om ten opsigte van sy ster een keer om sy eie as te draai.[1] Op Aarde is dit die omwenteling ten opsigte van die Son, en dit duur gemiddeld 24 ure (86 400 sekondes). Namate 'n dag op 'n bepaalde plek verloop, beleef dié plek oggend, namiddag, aand en nag. Hierdie daaglikse siklus dryf by baie organismes sirkadiese ritmes aan wat vir baie lewensprosesse noodsaaklik is.

Opeenvolgende dae word in kalenders as datums georden, byna altyd in weke, maande en jare.

Volgens die algemene gebruik is middernag die begin van 'n dag; op 'n 24-uurhorlosie word dit as 00:00 en op 'n 12-uurhorlosie as 12:00 vm. geskryf. Omdat die tydstip van middernag van plek tot plek verskil, is tydsones ingestel om 'n eenvormige standaardtyd moontlik te maak. Daar is ook ander konvensies vir die begin en einde van 'n dag: die Joodse kalender tel dae van sonsondergang af, en in die sterrekunde word 'n dag van middag tot middag gereken, sodat waarnemings deur een nag heen as op dieselfde dag aangeteken word.

Vir bepaalde toepassings word die definisie effens aangepas: die SI-dag van presies 86 400 sekondes vir rekenaars en standaardhouding, die plaaslike gemiddelde tyd wat die natuurlike skommeling van die Aarde se sonnedag verreken, en die sideriese dag, wat ten opsigte van die vaste sterre gemeet word en in die sterrekunde gebruik word. In sommige lande buite die trope word somertyd toegepas, sodat daar elke jaar een burgerlike dag van 23 uur en een van 25 uur is. Weens klein veranderings in die Aarde se rotasie word daar soms 'n skrikkelsekonde aan die einde van 'n UTC-dag ingevoeg; byna alle dae duur dus 86 400 sekondes, maar by uitsondering duur een 86 401 sekondes (in die halfeeu van 1972 tot 2022 is altesaam 27 skrikkelsekondes ingevoeg, dus ongeveer een elke tweede jaar).

Etimologie

[wysig | wysig bron]

Die woord dag kom ook so in Nederlands, Noors, Deens en Sweeds voor; die Duitse Tag, die Yslandse dagur en die Engelse day (uit Ou Engels dæġ) is verwante vorme. Al hierdie woorde stam van die Proto-Germaanse wortel *dagaz.[2]

Definisies

[wysig | wysig bron]

Skynbare en gemiddelde sonnedag

[wysig | wysig bron]
Die Aarde se rotasie, deur die Deep Space Climate Observatory afgeneem, met die helling van die as sigbaar

Verskeie definisies van hierdie universele menslike begrip word volgens konteks, behoefte en gerief gebruik. Benewens die dag van 24 uur (86 400 sekondes) word die woord dag vir verskeie tydsduurtes gebruik wat op die Aarde se rotasie om sy as berus. 'n Belangrike een is die sonnedag, die tyd wat die Son neem om na sy kulminasiepunt (sy hoogste punt aan die hemel) terug te keer. Omdat 'n wentelbaan eksentries is, staan die Son in een van die baan se brandpunte eerder as in die middel. Volgens Kepler se tweede wet beweeg die planeet gevolglik op verskillende punte van sy baan teen verskillende snelhede, sodat 'n sonnedag nie deur die hele baanjaar ewe lank is nie. Omdat die Aarde in 'n eksentriese baan om die Son beweeg terwyl dit om 'n skuins as draai, kan hierdie periode tot 7,9 sekondes meer (of minder) as 24 uur wees. Die gemiddelde lengte van 'n sonnedag op Aarde is ongeveer 86 400,002 sekondes[3] (24,0000006 uur), en 'n gemiddelde tropiese jaar bevat ongeveer 365,2421875 sonnedae.

Volgens ou gebruik het 'n nuwe dag óf met sonsopkoms óf met sonsondergang aan die plaaslike horison begin.[4] Die presiese oomblik van, en die tussenpose tussen, twee sonsopkomste of sonsondergange hang van die geografiese ligging (lengtegraad en breedtegraad, asook hoogte) en die tyd van die jaar af (soos antieke halfronde sonwysers aandui).

'n Meer konstante dag kan deur die Son se deurgang deur die plaaslike meridiaan gedefinieer word, wat op die plaaslike middag (boonste kulminasie) of middernag (onderste kulminasie) plaasvind. Die presiese oomblik hang van die geografiese lengtegraad en in mindere mate van die tyd van die jaar af. So 'n dag se lengte is byna konstant (24 uur ± 30 sekondes). Dit is die tyd wat moderne sonwysers aandui.

'n Verdere verfyning definieer 'n fiktiewe gemiddelde Son wat teen 'n konstante snelheid langs die hemelewenaar beweeg; die snelheid is dieselfde as die werklike Son se gemiddelde snelheid, maar dit skakel die skommeling oor 'n jaar uit wat ontstaan omdat die Aarde langs sy baan om die Son beweeg (weens sowel sy snelheid as die helling van sy as).

Uitgedruk in die Aarde se rotasie is die gemiddelde daglengte ongeveer 360,9856°. 'n Dag duur langer as 360° rotasie omdat die Aarde ook om die Son wentel. Aangesien 'n volle jaar effens meer as 360 dae is, is die Aarde se daaglikse vordering om die Son effens minder as 1°, en die dag dus effens minder as 361° rotasie.

Elders in die Sonnestelsel of in ander dele van die heelal is 'n dag 'n volle omwenteling van 'n ander groot hemelliggaam ten opsigte van sy ster.[1]

Burgerlike dag

[wysig | wysig bron]

Vir burgerlike doeleindes word 'n gemeenskaplike kloktyd gewoonlik vir 'n hele streek gedefinieer, gegrond op die plaaslike gemiddelde sontyd op 'n sentrale meridiaan. Sulke tydsones is van omstreeks die middel van die 19de eeu af ingevoer, toe spoorweë met vaste diensroosters in gebruik gekom het, en teen 1929 het die meeste groot lande hulle aanvaar. In 2015 was daar wêreldwyd 40 sulke sones in gebruik; die sentrale sone, waarvan al die ander as verskille gedefinieer word, staan as UTC+00 bekend en gebruik Gekoördineerde Universele Tyd (UTC).

Die mees algemene konvensie laat die burgerlike dag om middernag begin: dit is naby die tyd van die Son se onderste kulminasie op die tydsone se sentrale meridiaan. So 'n dag kan 'n kalenderdag genoem word.

'n Dag word gewoonlik in 24 uur verdeel, elke uur in 60 minute en elke minuut in 60 sekondes.

Sideriese dag

[wysig | wysig bron]
Die rotasie van die dwergplaneet Ceres

'n Sideriese dag is die tydperk wat die Aarde neem om een volledige omwenteling[5] ten opsigte van die hemelagtergrond of 'n verre ster (wat as vas beskou word) te maak.[6] So 'n dagmaat word in die sterrekunde gebruik.[6] 'n Sideriese dag is sowat 4 minute korter as 'n sonnedag van 24 uur (23 uur, 56 minute en 4,09 sekondes), oftewel 0,99726968 van 'n sonnedag van 24 uur.[7] 'n Gemiddelde tropiese jaar bevat ongeveer 366,2422 sideriese dae (een meer as die aantal sonnedae).[8]

Benewens die sideriese dag op Aarde het ander liggame in die Sonnestelsel ook dae, met die volgende duurtes:[9][10]

Naam Daglengte (uur)
Mercurius 4 222,6
Venus 2 802
Die Aarde se Maan 708,7
Mars 24,7
Ceres 9[11] tot 9,1[12]
Jupiter 9,9
Saturnus 10,7
Uranus 17,2
Neptunus 16,1
Pluto 153,3

In die SI-stelsel

[wysig | wysig bron]

Die dag is nie 'n eenheid van die Internasionale Stelsel van Eenhede (SI) nie, hoewel dit tot 2026 as 'n eenheid beskryf is wat vir gebruik saam met die SI aanvaar word.[13][14] 'n Dag, met die simbool d, word in SI-eenhede as 86 400 sekondes gedefinieer; die sekonde is die SI se basiseenheid van tyd.

In desimale en metrieke tyd

[wysig | wysig bron]
'n Desimale wyserplaat, omstreeks die begin van die 19de eeu gemaak

Verskeie voorstelle vir desimale of metrieke tyd is al gemaak, maar hulle herdefinieer nie die dag nie en gebruik die dag of die sideriese dag as basiseenheid. Metrieke tyd gebruik metrieke voorvoegsels om tyd by te hou. Dit neem die dag as basiseenheid, en die kleiner eenhede is breuke van 'n dag: 'n metrieke uur (deci) is 1⁄10 van 'n dag, 'n metrieke minuut (milli) 1⁄1000 van 'n dag, ensovoorts.[15] Desimale tyd verander die lengte van 'n dag ook nie. 'n Dag word in 10 uur verdeel, en 10 dae vorm 'n décade, die ekwivalent van 'n week. Drie décades vorm 'n maand.[16]:35 Verskeie voorstelle vir desimale tyd het die dag onveranderd gelaat: Henri de Sarrauton se voorstel het dae behou en ure in 100 minute onderverdeel;[16]:42 in Mendizábal y Tamborel se voorstel was die sideriese dag die basiseenheid, met onderverdelings daarvan;[16]:42-43 en Rey-Pailhade se voorstel het die dag in 100 cés verdeel.[16]:42

Ander definisies

[wysig | wysig bron]

Die woord verwys ook na verskeie soortgelyk gedefinieerde begrippe, soos:

Volle dag
  • 'n Volle periode van donker en lig, in die omgangstaal ook net "24 uur" genoem.
  • 'n Benaderde telling van dae, byvoorbeeld "sien jou oor drie dae" of "die volgende dag".
  • Deel van 'n datum: die dag van die jaar in ordinale datums, die dag van die maand in kalenderdatums, of die dag van die week in weekdatums.
  • Die tyd wat gereeld op een werksdag aan betaalde werk bestee word.
Dagtyd
  • Die ligperiode wanneer die Son bo die plaaslike horison is (die tydperk van sonsopkoms tot sonsondergang).
  • Die tydperk van die eerste lig (dagbreek) tot die laaste lig (skemerdonker).
Ander
  • 'n Spesifieke deel van die dag, wat na gelang van konteks kan verskil, soos "die skooldag" of "die werksdag".

In die jagbedryf verwys die woord "dag" spesifiek na die periode vanaf 'n halfuur voor sonop tot 'n halfuur na sonsondergang op dieselfde dag.[17]

Veranderings in lengte

[wysig | wysig bron]

Hoofsaaklik weens getyvertraging, waarby die Maan se swaartekrag die Aarde se rotasie vertraag, word die Aarde se rotasieperiode stadig langer.[18] Weens die manier waarop die sekonde gedefinieer is, oorskry die gemiddelde sonnedag dus 86 400 sekondes, en die oorskot neem met ongeveer 2 millisekondes per eeu toe.[19]

Omdat die Aarde se rotasietempo afneem, het die SI-sekonde en 'n sekonde wat van die rotasieperiode afgelei is, uit pas geraak.[18] Dit het skrikkelsekondes nodig gemaak, wat ekstra sekondes in Gekoördineerde Universele Tyd invoeg.[18] Hoewel 'n burgerlike dag gewoonlik 86 400 SI-sekondes duur, kan dit op so 'n dag 86 401 of 86 399 SI-sekondes lank wees. Benewens die skommeling van twee millisekondes weens getyvertraging beïnvloed ander faktore die daglengte ook in geringe mate, wat die plasing van skrikkelsekondes onreëlmatig maak.[20] Skrikkelsekondes word vooraf deur die Internasionale Aardrotasie- en Verwysingstelselsdiens (IERS) aangekondig, wat die Aarde se rotasie meet en bepaal of 'n skrikkelsekonde nodig is.

Geologiese daglengtes

[wysig | wysig bron]

Die paleontoloog John W. Wells het ontdek dat die daglengtes van geologiese tydperke uit die afsettingsringe in fossiele van korale geskat kan word,[21][19] omdat sommige biologiese stelsels deur die gety beïnvloed word.[19] Die lengte van 'n dag by die Aarde se ontstaan word op 6 uur geskat.[19] Arbab I. Arbab het daglengtes oor tyd op 'n grafiek aangeteken en 'n geboë lyn gekry.[19] Hy het dit aan die verandering in die hoeveelheid water, wat die Aarde se rotasie beïnvloed, toegeskryf.[19]

Tydstip Geologiese tydperk Aantal dae per jaar[21] Duur van die dag
Hede Huidig 365 24 uur
100 miljoen jaar gelede Kryt 380 23 uur en 20 minute
200 miljoen jaar gelede Trias 390 22 uur en 40 minute
300 miljoen jaar gelede Karboon 400 22 uur
400 miljoen jaar gelede Devoon 410 21 uur en 20 minute
500 miljoen jaar gelede Kambrium 425 20 uur en 40 minute

Grense

[wysig | wysig bron]
Son en Maan in Hartmann Schedel se Nürnbergkroniek, 1493

Vir die meeste dagaktiewe diere strek die dag natuurlik van dagbreek tot sonsondergang. Mense, met hul kulturele norme en wetenskaplike kennis, het verskeie opvattings oor die grense van die dag gehuldig.

In die Hebreeuse Bybel definieer Genesis 1:5 'n dag in terme van "aand" en "môre", nog voordat die skepping van die Son, wat die dag verlig, vertel word: "En God het die lig Dag genoem, en die duisternis het Hy Nag genoem. En die aand en die môre was die eerste dag." Die Joodse dag begin óf met sonsondergang óf met die aanbreek van die nag (wanneer drie sterre van die tweede magnitude verskyn). In die Middeleeue het Europa ook hierdie tradisie gevolg: volgens die Florentynse of Italiaanse rekening van die ou styl is die 24 uur van sonsondergang af getel,[4] sodat 'n verwysing soos "twee uur in die dag" twee uur ná sonsondergang beteken het en tye in die aand in die moderne rekening een kalenderdag teruggeskuif moet word. Dae soos Kersaand, Halloween ("All Hallows' Eve", die vooraand van Allerheiligedag) en die vooraand van Sint Agnes is oorblyfsels van die ouer patroon waarvolgens feesdae die vorige aand begin het.

By die antieke Romeine,[22] die antieke Chinese[23] en in die moderne tyd is die gangbare konvensie dat die burgerlike dag van middernag (00:00) af 'n volle 24 uur tot 24:00, oftewel 00:00 van die volgende dag, strek. Die Internasionale Meridiaankonferensie van 1884 het besluit:

Dat die Konferensie die hoop uitspreek dat die sterrekundige en seevaartkundige dae so gou as doenlik oral só gereël sal word dat hulle om middernag begin.

Dele van die dag

[wysig | wysig bron]

Mense verdeel die dag in rowwe tydperke, wat kulturele betekenis kan hê en ook die mens se biologiese prosesse beïnvloed. Die dele van die dag het nie vaste tye nie; hulle kan volgens lewenstyl of die ure daglig op 'n gegewe plek verskil.[24]

Dagtyd

[wysig | wysig bron]

Dagtyd is die deel van die dag waarin sonlig die grond direk bereik, as daar geen hindernisse is nie. Die dagtyd duur gemiddeld effens meer as die helfte van die 24-uurdag. Twee effekte maak die dagtyd gemiddeld langer as die nag. Die Son is nie 'n punt nie, maar het 'n skynbare grootte van ongeveer 32 boogminute. Boonop breek die atmosfeer sonlig só dat 'n deel daarvan die grond bereik selfs wanneer die Son sowat 34 boogminute onder die horison is. Die eerste lig bereik die grond dus wanneer die middelpunt van die Son nog sowat 50 boogminute onder die horison is.[25] Gevolglik is die dagtyd gemiddeld sowat 7 minute langer as 12 uur.[26]

Die dagtyd word verder in oggend en namiddag verdeel. Die oggend val tussen sonsopkoms en die middag.[27] Die namiddag val tussen die middag en sonsondergang,[28] of tussen die middag en die begin van die aand. In hierdie tydperk is die mens se liggaamstemperatuur op sy hoogste,[29] neem verkeersongelukke toe[30] en daal produktiwiteit.[31]

Skemer

[wysig | wysig bron]
Die onderverdelings van die oggendskemering

Skemer is die tydperk voor sonsopkoms en ná sonsondergang waarin daar natuurlike lig maar geen direkte sonlig is nie.[32] Die oggendskemering strek van die eerste lig (dagbreek) tot sonsopkoms, die aandskemering van sonsondergang tot die laaste lig. Albei skemerperiodes kan in burgerlike, nautiese en sterrekundige skemering verdeel word. Burgerlike skemering is wanneer die Son tot 6 grade onder die horison is, nautiese skemering wanneer dit tot 12 grade onder is en sterrekundige skemering wanneer dit tot 18 grade onder is.[33]

Nag in die skilderkuns: Adolf Stademann se Flusslandschaft im Mondschein

Die aand kan voor sonsondergang begin en oorvleuel met sowel die skemer as die nag. Dit strek van omstreeks 17:00 of 18:00, of van sonsondergang af, tot slaaptyd.[34][24][35]

Die nag is die tydperk waarin die hemel donker is,[36] die tydperk tussen skemerdonker en dagbreek waarin geen lig van die Son sigbaar is nie.[37] Ligbesoedeling in die nag kan die lewe van mense en diere beïnvloed, byvoorbeeld deur slaap te versteur.[38][39]

In ander kulture

[wysig | wysig bron]

Die verdeling van die dag in dele verskil van kultuur tot kultuur. In Brasilië word die dag byvoorbeeld in vier tydperke van ses uur elk verdeel: madrugada van middernag tot 06:00, manhã van 06:00 tot die middag, tarde van die middag tot 18:00 en noite van 18:00 tot middernag.[40]

Kalenders

[wysig | wysig bron]

'n Sonkalender orden datums volgens die Son se jaarlikse siklus, sodat die vier seisoene van jaar tot jaar op dieselfde datums begin; 'n maankalender orden hulle volgens die fases van die Maan. Volgens die Gregoriaanse kalender word elke 365 dae as 'n jaar getel, en byna elke vier jaar word daar een dag bygetel om voorsiening te maak vir die feit dat die omgang om die son nie presies in volledige dae plaasvind nie. Só 'n jaar word dan 'n skrikkeljaar genoem. Die Juliaanse kalender het een keer in die vier jaar 'n skrikkeljaar, en duur dus gemiddeld 365,25 dae (365d, 6h). Die Gregoriaanse kalender het minder skrikkeldae en duur gemiddeld 365,2425 dae (365d 5h 49 m 12s).

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1 2 "day". Encyclopædia Britannica (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Julie 2022. Besoek op 17 Augustus 2022.
  2. ↑ Mallory, James P.; Adams, Douglas Q. (2006). The Oxford Introduction to Proto-Indo-European and the Proto-Indo-European World. Oxford: Oxford University Press. p. 124. ISBN 978-0-19-929668-2.
  3. ↑ "Earth Orientation Parameters". International Earth Rotation and Reference Systems Service. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 April 2015.
  4. 1 2 L. Holford-Stevens, The History of Time (Oxford, 2005), bl. 6.
  5. ↑ Sommige outeurs waarsku daarteen om "dag" met die rotasieperiode gelyk te stel, byvoorbeeld: Seligman, Courtney. "Rotation Period and Day Length". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Junie 2011. Besoek op 3 Junie 2011. A Cautionary Note: Because the rotation period of the Earth is almost the same as the length of its day, we sometimes get a bit sloppy in discussing the rotation of the sky, and say that the stars rotate around us once each day. In a similar way, it is not unusual for careless people to mix up the rotation period of a planet with the length of its day, or vice versa.
  6. 1 2 "sidereal day". Encyclopædia Britannica (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 September 2022. Besoek op 17 Augustus 2022.
  7. ↑ Allen, Clabon Walter & Cox, Arthur N. (2000). Allen's Astrophysical Quantities. Springer. p. 296. ISBN 0-387-98746-0. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Mei 2022. Besoek op 17 Augustus 2022.
  8. ↑ Komhyr, Walter Dmyro (Junie 1980). "Operations Handbook – Ozone Observations with a Dobson Spectrophotometer". gml.noaa.gov. p. 122. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 September 2022. Besoek op 17 Augustus 2022.
  9. ↑ "Planetary Fact Sheet – Metric". nssdc.gsfc.nasa.gov. NASA. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Mei 2021. Besoek op 29 Mei 2021.
  10. ↑ Griggs, Mary Beth (18 Januarie 2019). "Shaky rings help scientists measure Saturn's days – Speedy planet". The Verge. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Januarie 2019. Besoek op 18 Januarie 2019.
  11. ↑ "planets/dwarf-planets/ceres/in-depth". nasa.gov. 9 November 2017. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Junie 2021. Besoek op 30 Mei 2021.
  12. ↑ Tate, Karl (21 November 2012). "Dwarf Planets of Our Solar System (Infographic)". space.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Mei 2021. Besoek op 30 Mei 2021.
  13. ↑ BIPM (2014) [2006]. "Non-SI units accepted for use with the SI, and units based on fundamental constants". SI Brochure (8ste uitg.). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 November 2014. Besoek op 27 Januarie 2015.
  14. ↑ "SI-Brochure-9". BIPM (in Engels) (4.01 uitg.). Junie 2026. pp. 140-141. doi:10.59161/AUEZ1291. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Junie 2026. Besoek op 8 Junie 2026.
  15. ↑ Veitch, Harriet (2 April 2008). "Why don't we have metric time?". The Sydney Morning Herald (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Augustus 2022. Besoek op 21 Augustus 2022.
  16. 1 2 3 4 Vera, Hector (2009). "Decimal Time: Misadventures of a Revolutionary Idea, 1793-2008". KronoScope. 9 (1-2): 29-48. doi:10.1163/156771509X12638154745382. ISSN 1567-715X. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Augustus 2022. Besoek op 21 Augustus 2022.
  17. ↑ Wet op Omgewingsbestuur van Limpopo No 3 van 2003
  18. 1 2 3 McCarthy, Dennis D.; Hackman, Christine; Nelson, Robert A. (1 November 2008). "The Physical Basis of the Leap Second". The Astronomical Journal. 136 (5): 1906-1908. Bibcode:2008AJ....136.1906M. doi:10.1088/0004-6256/136/5/1906. ISSN 0004-6256. S2CID 124701789. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Mei 2022. Besoek op 20 Augustus 2022.
  19. 1 2 3 4 5 6 Arbab, Arbab I. (Januarie 2009). "The Length of the Day: A Cosmological Perspective" (PDF). Progress in Physics. 1. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Augustus 2022. Besoek op 20 Augustus 2022.
  20. ↑ "IERS science background". Frankfurt am Main: IERS. 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Augustus 2016. Besoek op 6 Augustus 2016.
  21. 1 2 Kovalesky, J. (1969). "Paléo-Astronomie". L'Astronomie. 83: 411. Bibcode:1969LAstr..83..411K. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Desember 2019. Besoek op 5 Junie 2021.
  22. ↑ Plutarchus. "Quaestiones Romanae, 84". perseus.tufts.edu. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Februarie 2021.
  23. ↑ 清史稿, hoofstuk 48: 起子正,盡夜子初。 Geargiveer 18 Februarie 2026 op Wayback Machine
  24. 1 2 "Parts of the Day: Early morning, late morning, etc". Britannica Dictionary (in American English). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Augustus 2022. Besoek op 22 Augustus 2022.
  25. ↑ 32′/2 + 34′ = 50′
  26. ↑ 50/60 ÷ 360 × 2 (vir sonsopkoms en sonsondergang) × 24 uur ≈ 7 min
  27. ↑ "Definition of MORNING". www.merriam-webster.com (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Augustus 2022. Besoek op 22 Augustus 2022.
  28. ↑ "Definition of AFTERNOON". www.merriam-webster.com (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Augustus 2022. Besoek op 22 Augustus 2022.
  29. ↑ Refinetti, Roberto (2006). Circadian Physiology (2de uitg.). Taylor & Francis Group. p. 556. ISBN 978-0-8493-2233-4.
  30. ↑ McCabe, Paul T. (2004). Contemporary Ergonomics. CRC Press. p. 588. ISBN 0-8493-2342-8.
  31. ↑ Ray, James T. (1960). Human Performance as a Function of the Work–Rest Cycle. National Academy of Sciences. p. 11.
  32. ↑ "Definitions from the US Astronomical Applications Dept". USNO. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Julie 2011. Besoek op 22 Julie 2011.
  33. ↑ "Glossary of Marine Navigation" (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 29 Augustus 2017. Besoek op 22 Augustus 2022.
  34. ↑ "evening, n." www.oed.com. Oxford English Dictionary. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Julie 2023. Besoek op 18 September 2023. The close of day, esp. the time from about 6 p.m., or sunset if earlier, to bedtime; the period between afternoon and night.
  35. ↑ "Definition of 'evening'". Collins Dictionary. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Maart 2023. Besoek op 22 Augustus 2022.
  36. ↑ "Night". Cambridge Dictionary. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 April 2022. Besoek op 22 Augustus 2022.
  37. ↑ "Definition of NIGHT". www.merriam-webster.com (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Augustus 2022. Besoek op 22 Augustus 2022.
  38. ↑ Blume, Christine; Garbazza, Corrado; Spitschan, Manuel (2019). "Effects of light on human circadian rhythms, sleep and mood". Somnologie. 23 (3): 147-156. doi:10.1007/s11818-019-00215-x. ISSN 1432-9123. PMC 6751071. PMID 31534436.
  39. ↑ "Light pollution harms wildlife and ecosystems". DarkSky International (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 November 2023. Besoek op 30 Oktober 2023.
  40. ↑ "Manual de Comunicação da Secom" (in Portugees). Federale Senaat van Brasilië. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Junie 2025. Besoek op 28 Junie 2025.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]