Fiets

'n Fiets is 'n mens-gedrewe voertuig, soms met die hulp van 'n elektriese motor, wat deur pedale aangedryf word. Dit besit gewoonlik twee wiele wat in lyn agter mekaar aan 'n raam geheg is, en loop daarom op een spoor, sodat die ryer dit self in balans moet hou.
Die heel eerste fiets is in die 19de eeu in Europa gebou, en teen die begin van die 21ste eeu was daar wêreldwyd meer as 'n miljard fietse.[1][2] Die fiets verskaf basiese vervoer in baie lande, veral in China en Nederland, en is in talle streke die belangrikste vervoermiddel. Dit word ook vir ontspanning gebruik en as kinderspeelgoed aangepas, en word vir woon-werkverkeer, inkopies, fiksheid, krygs- en polisiewerk, koerierdienste, fietswedrenne en kunsfietsry ingespan.
Die basiese vorm en uitleg van die tipiese regopsitfiets, die sogenaamde veiligheidsfiets, het min verander sedert die eerste kettinggedrewe model omstreeks 1885 ontwikkel is.[3] Baie besonderhede is wel verbeter, veral sedert die opkoms van moderne materiale en rekenaargesteunde ontwerp, wat 'n groot verskeidenheid gespesialiseerde ontwerpe vir uiteenlopende soorte fietsry moontlik gemaak het. In die 21ste eeu het die elektriese fiets gewild geraak.
Die uitvinding van die fiets het 'n enorme uitwerking op die samelewing gehad, kultureel sowel as op die ontwikkeling van moderne nywerheidsmetodes. Verskeie onderdele wat later 'n sleutelrol in die ontwikkeling van die motorkar gespeel het, is oorspronklik vir die fiets uitgedink, onder andere koeëllaers, luggevulde buitebande, kettingratte en spaakwiele onder spanning.[4]
Naam
[wysig | wysig bron]Die Afrikaanse fiets kom uit die Nederlands, waar die woord van die 1880's af baie vinnig versprei het en van waar dit ook in Fries (fyts), Nedersaksies (fietse), Indonesies (pit) en in die dialekte van die Nederryn (fitze, fitz, vits) en ander grensstreke soos Bentheim en Oos-Friesland (fiets) oorgeneem is. Die werkwoord vietsen is in 1885 vir die eerste keer in die wielersportblad De Kampioen opgeteken.[5] In die 19de eeu het fiets as baie informeel gegeld, maar dit was reeds aan die begin van die 20ste eeu die gewone woord in die volksmond; die amptelike Nederlandse benaming was tot 1966 rijwiel, toe dit in die wetgewing deur fiets vervang is.
Waar die Nederlandse woord self vandaan kom, is onbeslis: daar is mettertyd allerlei verklarings gegee, maar vir nie een van hulle is beslissende bewys gevind nie.[6] Die taalkundige Ewoud Sanders, wat in 1997 'n boekie oor die woord se geskiedenis geskryf het, kom tot die gevolgtrekking dat die etimologie "onbekend" is.[7]
Die Woordenboek der Nederlandsche Taal het in 1919 twee verklarings naas mekaar gestel. Die eerste lei die woord af van die naam van die Wageningense wamaker Elie Cornelis Viets, wat omstreeks 1880 rywiele gemaak en herstel het. Dié klaarblyklike verklaring is eers van die hand gewys omdat die woord na bewering al vroeër gebruik is: volgens Van Dale se etimologiese woordeboek van 1997 is dit in geen geval van Viets afgelei nie, aangesien kosskooljoggies in die omgewing fiets al gebruik het voordat hy sy handel begin het.[8] Die naamkundige Leendert Brouwer het in 2012 egter aangetoon dat die Viets-familie in 1870 wel al rywiele gelewer het, onder meer na Leeuwarden, al het hulle dit miskien nog nie self gemaak nie, en dat Viets as bondsrijwielhersteller 'n goeie naam onder die wielersportmense van die tyd gehad het.[9]
Die tweede verklaring van die woordeboek is dat die woord 'n verbastering is van die Franse vélocipède, in die 19de eeu ook in Nederlands 'n gewone sinoniem vir rywiel en vir die eerste keer in 1824 opgeteken. Tussenvorme soos vieloziepee en viezepee is in 1886 opgeteken, die vorm fielsepee het in Drenthe voorgekom en fillesepaed in Maastricht, en hulle stem ooreen met Duitse dialekvorme soos flossipe, flitzepie en flitzepääd. 'n Redaksielid van De Kampioen het gemeen hy het die woord fiets as verkorting van vélocipède al in 1871 in Leeuwarden gehoor, terwyl ander fietspioniers vertel het dat dit omstreeks 1870 op 'n deftige kosskool in Apeldoorn ontstaan het, van waar dit na Brummen en Wageningen versprei het.[10] Die historikus Jan Dirk Snel wys daarop dat die meeste tydgenote, veral jong mense wat in die wielersport aktief was, juis dié woordverklaring onderstreep het, en vermoed daarom dat die korter vorm viets inderdaad uit die kringe van Gelderse kosskooljoggies versprei het.[5]
'n Derde verklaring is dat viets uit 'n Limburgse en Oos-Brabantse dialekwoord vietse of fiette ontstaan het, wat "hard loop" of "jou vinnig voortbeweeg" beteken en vermoedelik op die Franse vitesse ("snelheid") teruggaan. Ook Van Dale noem die ouer dialekwoord vietsen as moontlike herkoms.[8] Dié etimologie is in 1914 vir die eerste keer deur die Limburgse pastoor L. Linsen geopper, en Sanders beskou dit as die waarskynlikste verklaring.
'n Minder waarskynlike verklaring lei die woord af van die dialekwoord fietelen of fieteren, waarmee 'n bepaalde manier van loop bedoel word wat tipies by die loopfiets gehoort het. Daar is ook veronderstel dat dit 'n klanknabootsing van 'n pieperige geluid kan wees.[11] Volgens 'n hipotese wat Gunnar de Boel, hoogleraar vergelykende taalkunde aan die Universiteit van Gent, en sy kollega Luc de Grauwe in 2012 gestel het, het fiets uit die Duitse *Vize-Pferd ontstaan, letterlik "vise-perd" of vervangperd, wat tot *viez verkort sou gewees het.[12] Kritici wys daarop dat die feitelike onderbou van dié stelling ontbreek.[13]
In baie ander Europese tale word afleidings van die Franse vélocipède of van die aan Grieks ontleende bikykel gebruik. In Frans is vélo vandag gangbaar, terwyl vélocipède en bicyclette in onbruik geraak het, en soortgelyke verkortings is ook elders gewoon, soos bike in Engels en bici in Spaans. In Pools word die fiets steeds rower genoem, na John Kemp Starley se Rover van 1885, en in Fins is dit polkupyörä, wat "padwiel" beteken. In Duits is Fahrrad in 1885 deur die Duitse fietsryersverenigings as teenhanger van die Engelse bicycle ingevoer; dit het die ouer, uit Frans ontleende Veloziped mettertyd verdring, terwyl Duitstalige Switserland die verkorting Velo tot vandag behou het.[14]
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Voorlopers
[wysig | wysig bron]Spierkragwaentjies is al in die Middeleeue gebruik, meestal as waentjies met lakeie-voetaandrywing in herehuistuine. Waens is oorspronklik deur trekdiere of deur mense getrek of gestoot, en eers in die 17de eeu het daar waens verskyn wat die meeryers self aangedryf het; hulle is hoofsaaklik vir vertoon gebruik. 'n Uitsondering was waentjies vir gestremdes, waarvan dié van die verlamde uurwerkmaker Stephan Farfler die bekendste is: hy sou hom omstreeks 1665 'n driewielige voertuig gebou het wat hy sittende met handkruke kon aandryf. In die 18de eeu het herehuisparke vierwielwaens gehad wat die meerydende personeel met pedale aangedryf het, maar dié spierkragwaens het weens hul groot massa soveel krag gekos dat hulle nooit algemeen in gebruik gekom het nie.
Die loopfiets
[wysig | wysig bron]
Die deurbraak na 'n voertuig wat sy ryer self kon aandryf, was die eenspoorloopfiets wat Karl Drais, 'n boswese-amptenaar uit Karlsruhe, in 1817 in Mannheim uitgevind en as alternatief vir die rydperd aangebied het. Die tweewielbeginsel met 'n stuurbare voorwiel was die wesenlike deel van dié uitvinding. Drais het sy voertuig, wat uit hout gemaak is, 'n Laufmaschine (loopmasjien) genoem, maar in die openbaar het dit gou as Draisine bekend geword. Die ryer het tussen die wiele gesit en hom met sy voete teen die grond afgestoot. Die eerste eksemplaar het uit houtwiele met smee-ystervellings, 'n baie eenvoudige saal, 'n nog swak ontwikkelde stuur en 'n soort rem op die agterwiel bestaan.[15]
Omdat die voorwiel stuurbaar was, kon die rollende loopfiets ook sonder kontak tussen die voete en die grond in balans gehou word, en Drais het ook daarvan gebruik gemaak dat die wiele se tolkragte die tweewiel se stand stabiliseer. Die ryer moes die ongewone balanseerwerk, die samespel van loop en stuur, egter eers leer. 'n Voorwaarde vir die loopmasjien se bruikbaarheid was paaie met 'n voldoende vaste, gelyk gemaakte oppervlak, wat daar in die gebied van die Duitse Bond destyds net in die uiterste suidweste was. Volgens 'n populêrwetenskaplike teorie is die aanstoot tot Drais se uitvinding moontlik te danke aan die hawertekort en die perdesterftes wat ná die uitbarsting van die vulkaan Tambora en die daaropvolgende jaar sonder somer van 1816 gekom het.
Sy loopfiets is baie keer nageboots maar nie verder ontwikkel nie, hier en daar weens die gevaar van botsings met voetgangers verbied, en uiteindelik vergeet. Kort daarna is die eerste, deels yster loopwiele of velozipede in Engeland gebou, wat die bynaam hobby horse gekry het; in 1819 was daar die eerste wedrenne in Ipswich, terwyl daar in Duitsland eers in 1829 uit München daarvan berig is. Daarna kon mense groter afstande met die eerste spoorweë aflê, en pas in die loop van die hoogindustrialisasie in die tweede helfte van die 19de eeu het daar weer loopmasjiene ontstaan. Vandag geniet die tweewiel sonder trapaandrywing as kinderloopfiets nuwe gewildheid, en in die 2000's het al die groter vervaardigers van kinderfietse ook kinderloopfietse in hul reeks opgeneem.
Trapkruke aan die voorwiel
[wysig | wysig bron]
Die eerste onregstreekse aandrywing het met trapkruke aan die voorwiel gewerk. Wie dit uitgedink het, is omstrede: Pierre Lallement het in 1866 'n Amerikaanse patent daarop gekry, terwyl Pierre Michaux die aandrywingsbeginsel na bewering al in 1861 van die slypsteen oorgeneem het. Michaux en die fabrikantseuns Olivier het die trapkrukfiets in Frankryk by steeds stygende vraag bemark, en in die res van Europa het dit eers aandag gekry toe Michaux op die wêreldtentoonstelling van 1867 in Parys daarvoor geadverteer het. Die aandrywing werk deur pedaalkruke wat styf aan die voorwielas sit, sodat die pad wat met een omwenteling van die pedale afgelê word, aan die omtrek van die voorwiel gelyk is.
Die masjien wat so ontstaan het, 'n tweewiel wat Michaux en sy seun Ernest gebou het, het 'n ysterraam en houtwiele met 'n ysterhoepel gehad en nog geen kettingaandrywing nie. Dit is 'n vélocipède genoem, van die Latynse velox ("snel") en pes ("voet"). Die presiese oorsprong van die ontwerp bly egter onduidelik, en moontlik was Lallement en die broers Olivier ook daarby betrokke.[16] Omdat die ryer van die vélocipède sy voete op die grond gehou het, was daar tog heelwat balanseerkuns nodig. Dit is as lastig ervaar, en daarom is daar dekades lank driewiele en vierwiele gebou wat op dieselfde manier as 'n spinnewiel aangedryf is, met 'n trapplank en 'n stangestelsel.
Die hoëwiel
[wysig | wysig bron]
Weens die gebrek aan kettingaandrywing was daar ook geen oorbringingsverhouding nie, en die fiets se snelheid kon net opgevoer word deur die wiel waaraan die trappers gemonteer is steeds groter te maak. So het die hoëwiel omstreeks 1870 ontstaan, 'n fiets met 'n baie groot voorwiel en 'n klein agterwiel. Omdat die ryer nie meer soos op die loopmasjien na vore hoef uit te skry nie, kon die sitposisie verder na vore en hoër gelê word, sodat die trapkragte meer van bo af werk en die voorwiel minder ingestuur word. Die deursnee van die aandrywiel kon so twee tot drie keer vergroot word en daar kon vinniger getrap word, al kon die ryer die grond van die saal af selfs met sy toonpunte nie meer bereik nie en moes hy oor 'n voetrus agter aan die raam op- en afklim.
Die hoëwiel wat as die begin van die hoëwieltydperk gereken word, was die Ariel wat James Starley in 1871 gebou het. Sulke wiele het 'n voorwiel van 100 cm tot 150 cm gehad. Die hoëwiel was taamlik onprakties in gebruik maar tog by 'n klein groepie liefhebbers gewild, juis omdat die moeilikheidsgraad die gebruiker se status verhoog het. Tegnies was dit egter 'n reusagtige stap vooruit op Michaux se vélocipède, en omstreeks 1870 is drie grondliggende kenmerke daarop toegepas wat vandag nog in 'n fiets terug te vind is. Die eerste is die draadspaakwiel met radiaal geplaaste spake, waar die wiel se stewigheid op trekkrag eerder as op die drukkrag van houtspake berus. Die tweede is die hol staalbuis as konstruksiemateriaal in plaas van 'n smee- of gietysterraam; in die hoëwiel was die langste buis die sogenaamde backbone van die stuur tot by die agterwiel. Die derde vernuwing was minder sigbaar maar minstens so belangrik: in die voorwiel se naaf het koeëllaers gesit wat in 'n geslote huis met smeerolie vir 'n soepel loop van die wiel gesorg het. Later is dié laers ook in die trappers en die stuur gebruik.
Omdat die ryer baie hoog en ver vorentoe gesit het, net 'n entjie agter die voorste staanpunt en met die saal sowat 1,5 meter bo die grond, was valle deur te rem of oor klein hindernisse in die pad algemeen en het hulle tot betreklik ernstige beserings gelei, onder meer van die kop. Dodelike kopbeserings was nie ongewoon nie. Hoëwielry het baie behendigheid gevra, veral by op- en afklim, en in baie stede is dit weens die groot moontlike valhoogte dadelik verbied; in Keulen was dit tot 1894 nog toegelaat. Die hoëwiel was wat veiligheid betref 'n doodloopstraat in die fiets se ontwikkeling en is ná die uitvinding van die laewiel gou laat vaar.
Die veiligheidsfiets
[wysig | wysig bron]
Die Engelse term safety bicycle vir die latere laewiel herinner aan die valgevaar van die hoëwiel. Die naam is van 1876 af gebruik,[3] maar fietse van dié bouvorm het al sedert 1868 bestaan.[17] Teen die valgevaar is twee oplossings probeer. Die Amerikaanse Kangaroo van 1884, met 'n half so groot voorwiel en 'n versnellende aandrywing uit pedale en gepaarde kettings aan weerskante van die groot wiel, het 'n kuriositeit gebly. Die ander oplossing was 'n versnellende kettingaandrywing na die agterwiel met die trapkruk tussen die twee wiele, en dit is dié een wat deurgedring het: die konstruksie was eenvoudiger en stewiger, die fiets was weens die ontkoppeling van aandrywing en stuur makliker om te ry, en die sitposisie tussen die voor- en agterwiel het 'n wesenlik veiliger rygedrag gewaarborg.
Die eerste fiets met 'n kettingaandrywing is in 1868 gebou. Die trappers het nou nie meer met 'n kruk aan die wiel se naaf gesit nie maar aan 'n afsonderlike trapas wat in die raam vasgemaak is; aanvanklik is dié aandrywing op driewiele toegepas. Deur verskillend groot tandkranse aan die kruk en die wielas is die beginsel van oorbringing ook vir die fietsaandrywing oorgeneem, sodat die loopwiel met een krukomwenteling verskeie kere kon draai. In 1885 het John Kemp Starley die Rover gebou, 'n fiets met kettingaandrywing en 'n raam uit staalbuise, waarvan die twee wiele omtrent ewe groot was.[18] Dié tipe fiets is safety genoem omdat dit baie veiliger as die hoëwiel was om op te ry, en in Nederland is daar in die nuwe uitvinding se eerste jare dan ook van 'n "veiligheidswieler" gepraat. Die Rover het die standaardkonstruksie vir die fiets geword, en naas die veiligheidsaspek was dit ook deurslaggewend dat die laewiele die hoëwiele wat snelheid betref uiteindelik oortref het.
Teen die einde van die 1880's is die kettinggedrewe laewiel se raam in statika en estetika verbeter. Daarna het verdere elemente soos 'n lamp, spatskerms, 'n klokkie en 'n bagasierak bygekom, en hulle het aan die begin van die 20ste eeu standaardtoerusting van fietse geword. Ná die naaimasjien was die fiets in dié bouvorm die tweede tegniese reeksproduk. In 1898 het die broers Nevoigt uit Chemnitz die dubbelrolketting uitgevind wat tot vandag gebruik word.[19] Sedert 1884 was die eerste bruikbare koeëllaers in Duitsland ook te kry, van die Velociped-Gußstahlkugelfabrik wat Friedrich Fischer gestig het, en hulle het die wrywingsweerstand in nawe en traplaers drasties verminder. Die vroeë motorkarre het uit die fietskultuur en die fietstegniek van die 1880's en 1890's ontstaan.
Lugbande, vryloop en ratte
[wysig | wysig bron]In 1888 het die Skotse veearts John Boyd Dunlop die lugband uitgevind, ná Robert William Thomson die tweede keer dat dit gebeur het, en dit het vir die eerste keer 'n praktiese demping en betroubaarder padgreep moontlik gemaak. Tot dan was fietse met ysterbande toegerus en van 1865 af met soliede rubberbande. Dunlop moes sy patent later weer intrek omdat Thomson hom in 1845 al voor was; hy het die patent op die ventiel behou. Die broers Michelin het die eerste afneembare lugband in 1890 in Frankryk uitgevind. Die lugband het aanvanklik op groot skeptisisme gestuit, en dit was die eerste suksesse in die rensport wat die deurbraak gebring het. Toe daar in die Eerste Wêreldoorlog 'n tekort aan rubber geheers het, is "noodmantels" as namonteerstel ontwikkel en in reeks gemaak, waarby die wiel op skroefvere geloop het.
Die vryloop, wat A. P. Morrow in 1889 in die Verenigde State gepatenteer het, was onder fietsryers eers baie omstrede, en die teenstanders daarvan in die fietssport het argumente gehad wat net so swaar as dié van die voorstanders geweeg het. Die stryd, in die Verenigde State al vroeër beslis, is in Duitsland eers ná 1900 deur die suksesvolle bekendstelling van Fichtel & Sachs se Torpedo-vryloopnaaf met ingeboude terugtraprem beëindig.
In 1907 is die eerste naafrat, op 'n patent van die Wanderer-Werke, deur Fichtel & Sachs as 'n tweegangrat op die Duitse mark gebring, met 'n planeetratkas en 'n terugtraprem. Naafratte is deurlopend verder ontwikkel: die drie-, vyf- en sewegangnawe was in Duitsland baie gewild, veral op Hollandse fietse, omdat die Nederlandse topografie se plat oppervlak lae oorbringings onnodig maak. Nuwer ontwikkelings kom onder meer van Shimano met die agtgangnaafrat Nexus en van Rohloff met die veertiengangnaafrat Speedhub 500/14, waarin drie planeetratkaste in een naaf sit. Die kettingrat kom van die broers Nieddu, en hul "Vittoria Margherita" is in 1935 deur Gino Bartali as eerste beroepsryer gebruik. Ná die destyds taamlik bekende Franse "Super Champion" van 1937 het Campagnolo se eerste rat in 1946 verskyn, wat in teenstelling met sy voorgangers wêreldwye verspreiding gevind het.
In die loop van die fiets se geskiedenis is daar keer op keer alternatiewe vir die kettingaandrywing uitgedink en getoets, van kardanasse en riemaandrywings tot hoogs ingewikkelde hefboommeganismes, maar nie een van dié ontwikkelings kon tot dusver op die lang duur met die ketting meeding nie.
Verdere ontwikkeling
[wysig | wysig bron]
Die fiets se verdere ontwikkeling het hom op die laewiel se konsep gerig, met variante net in konstruksie en materiale. Aanvanklik is daar groter vordering met ratte en remme gemaak, en die ontwikkeling van die bergfiets in die Verenigde State het daartoe aanstoot gegee. Veral in die 1980's en 1990's is daar baie met alternatiewe bouvorme geëksperimenteer, wat egter nie deurgedring het nie, en dit word tans gedeeltelik op die gebied van bergfietse herhaal, waar daar steeds nuwe ongewone raamkonstruksies te sien is. In die pad-, baan- en veldwedrensport bly die ruitraam egter die standaard. Met die omgewingsbeweging is sonderlinge vorme soos driewiele, ligfietse en velomobiele van die 1980's af herontdek en verder ontwikkel, al word hulle deur die fietshandel nie so sterk ondersteun as die vorme wat in die wielrensport gebruiklik is nie. Mylstene om die eeuwending was die uitvinding van ligloopnaafdinamo's en van agterligte met ligdiodes, en 'n paar jaar later kragtige koplampe en kondensators wat tydens die rit energie stoor en die lampe in stilstand nog 'n paar minute lank laat brand; dié uitvindings het by vakkundige montering en bedrading vir die eerste keer 'n betroubare, byna onderhoudsvrye en altyd bedryfsgerede ligstelsel moontlik gemaak.
Twintigste eeu
[wysig | wysig bron]
In 1896 het die Duitse Reichsversicherungsamt verklaar dat die fiets nie meer as 'n sportvoorwerp nie maar as 'n vervoermiddel beskou moet word.[20] Weens sy lae prys was die fiets die eerste massageskikte individuele vervoermiddel. In Nederland was daar in 1924, by die herinvoering van die fietsbelasting, 1,7 miljoen fietse, oftewel een fiets op elke vier inwoners.[21] In baie ander Europese lande het die fiets in die eerste helfte van die 20ste eeu ook wye verspreiding gekry toe dit vir werkers bekostigbaar geword het, wat daarmee die steeds langer wordende pad na die werkplek afgelê het. In 1936 het tussen 43% en 61% van die werkers in Duitse stede met meer as 100 000 inwoners per fiets werk toe gery, en in 1938 was daar al meer as 10 000 km fietspaaie.[22] Die fiets was ook vir vakansiereise van belang. In die tussenoorlogse jare het dit in Europa die belangrikste individuele vervoermiddel geword, maar van die 1950's af is dit al hoe meer deur die motorkar verdring.[23]
Teen die 1960's het daar in groot dele van die geïndustrialiseerde wêreld algemene welvaart ontstaan, en die fiets is gevolglik eers deur die bromponie en uiteindelik deur die motorkar verdring. In ander lande het die fiets 'n rol behou wat net so belangrik was as dié wat dit aan die begin van die 20ste eeu in Europa gehad het, maar ook daar word dit met ekonomiese ontwikkeling al hoe meer deur die motorkar vervang, soos in China.
Pas ná die oliekrisisse van die 1970's en met groeiende ekologiese bewussyn het die fiets in die industrielande van Wes-Europa weer groter betekenis en openbare belangstelling gekry. Dit het tot die verbetering van die fietsinfrastruktuur gelei, soos die aanlê van fietspaaie en fietsstaanplekke en die invoering van huurfietsstelsels, en die fietsryers se aandeel in die totale verkeer verhoog. Münster en Kopenhagen is daarin voorbeeldig, met 'n fietsverkeersaandeel van meer as 35%. Dié ontwikkeling is ook aan die steeds groter wordende motordigtheid toe te skryf, wat van die 1980's af in baie stede tot permanente verkeersknope en parkeerprobleme gelei het, sodat baie bestemmings in stede vinniger met die fiets bereik kan word. Die massiewe uitbreiding van die hoër onderwys in die 1970's het in universiteitstede ook tot 'n sterk toename in fietsgebruik deur dikwels tienduisende studente gelei, wat doelgerig na gebiede naby die universiteit en die middestad trek en kort, fietsvriendelike afstande waardeer. Dié neiging het hom van omstreeks die 1990's af ook by ander jong mense gewys, terwyl daar in die dekades daarvoor 'n stadsvlug van veral jong gesinne na die voorstede en na dikwels baie lang paaie met 'n fiksasie op die motorkar gekom het.
Een-en-twintigste eeu
[wysig | wysig bron]In Duitsland was daar in 2010 ongeveer 69 miljoen fietse.[24] In die eerste helfte van 2013 is daar in die land sowat 1,65 miljoen fietse gemaak, 2,4% minder as in dieselfde tydperk die jaar tevore,[25] en omdat baie meer fietse ingevoer as uitgevoer word, is die getal wat jaarliks verkoop word dienooreenkomstig hoër: in 2019 was dit sowat 4,3 miljoen stuks, waarvan ongeveer 1,3 miljoen elektriese fietse was. In 2023 is daar vir die eerste keer meer elektriese fietse as fietse sonder traphulp in Duitsland verkoop. In lyn met die Europese finansiële krisis van die tyd het die getal fietse wat in 2011 in Italië verkoop is, naamlik 1,75 miljoen, dié van nuwe motorkarre oortref.[26]
Soorte
[wysig | wysig bron]
Fietse kan op baie maniere ingedeel word: volgens funksie, volgens die getal ryers, volgens algemene konstruksie, volgens ratte of volgens aandrywing. Onder die gewoner soorte tel die gebruiksfiets, die bergfiets, die resiesfiets, die toerfiets, die hibriedfiets, die cruiser-fiets, die BMX-fiets en die elektriese fiets, terwyl die tandem, die lowrider, die hoë fiets, die vastratfiets, die vourfiets, die amfibiese fiets, die vragfiets en die ligfiets minder gewoon is.[27] Daarnaas kan tussen die gewone fiets en die pedelec onderskei word, en tussen fietse hoofsaaklik vir persoonvervoer en dié vir vragvervoer. Daar word ook aan geoutomatiseerde en outonome fietse navorsing gedoen, soos aan selfbesturende motorkarre wat sonder 'n bestuurder klaarkom.[28]
Eenwiele, driewiele en vierwiele is streng gesproke nie fietse nie, omdat hulle onderskeidelik een, drie en vier wiele het, maar hulle is wel siklusse; die bepaling "bi" kom in party ander tale, soos in die Franse vélo en die Afrikaanse fiets, nie voor nie. Van die fiets is ander vervoermiddels afgelei, soos die riksja en die betjak wat veral in Asië gewild is, en enkele gemotoriseerde variante wat as uitvindings 'n eie lewe begin lei het: die bromponie, die skoeter en die motorfiets.
- 'n Ligfiets
- 'n Man op 'n elektriese fiets
- 'n Loopfiets vir jong kinders
Dames- en herefietse
[wysig | wysig bron]
Die eerste "moderne" fietse van die 19de eeu is met 'n min of meer horisontale bobuis gebou. Omdat dames wat 'n romp dra dit moeilik kon bery, het konstrukteurs die bobuis laat sak, tot byna parallel met die onderbuis, en so het die damesmodel ontstaan. Damesfietse is dus nie om anatomiese redes ontwikkel nie maar om vroue in rompe te laat opklim en ry, en dit was pas van omstreeks 1920 af dat vrouebroeke maatskaplik aanvaarbaar begin word het. Histories het die bobuis van so 'n raam in die middel van die sitbuis in plaas van bo aangesluit, wat ten koste van die strukturele integriteit 'n laer oorstaphoogte gegee het, aangesien dit 'n sterk buigbelasting in die sitbuis plaas en fietsraamdele juis swak op buiging is.
Sulke rame is dus in beginsel minder stewig: hulle is minder buigstyf in die horisontale as en in die geheel minder torsiestyf. Die tradisionele model is deur die driehoekkonstruksie van die buise stewiger, en as die damesmodel net so stewig gemaak wil word, word die konstruksie swaarder. Sommige vervaardigers maak vandag selfs "damesfietse met 'n bobuis", met 'n ekstra dik onderbuis wat die fiets sonder bobuis al berybaar maak; die bobuis word bygevoeg omdat die manlike kopers dit wil hê. 'n Tussenvorm was die mixte-raam, waar die bobuis tot halfpad teen die sitbuis laat sak is en lateraal in twee dunner buise verdeel is wat die sitbuis aan weerskante verbysteek en aan die agtervurkente aansluit; dié konstruksie is sterker as 'n "egte" damesraam en is veral in die 1970's en 1980's vir sportiewe damesfietse gebruik.[29] Deur die afhangende bobuis wat vandag vir resies- en sportfietse gangbaar is, het die mixte-raam in onbruik geraak.
Die geslagsneutrale naam is fiets met 'n lae instap. 'n Lae instap word waardeer waar daar baie dikwels oor die voorkant afgeklim word, soos deur posbodes, of waar vrag of opbouwerk soos 'n bagasierakmandjie, 'n vragkis of riksjapassasiers die afklim oor die agterkant bemoeilik of onmoontlik maak. Dit kan ook vir ouer mense wat met fietsry sukkel 'n geskikte aanpassing wees,[30] en word eweneens op huurfietse toegepas om hulle vir 'n wye groep gebruikers toeganklik te maak.[31] Moderne rame met 'n lae instap is danksy verbeterde materiale stewig genoeg, ook vir gebruik op elektriese fietse.[32]
Kinderfietse
[wysig | wysig bron]Om te leer fietsry, kan systeuntjies met wieletjies gemonteer word, of kan 'n stok aan die fiets vasgemaak word wat 'n meelopende grootmens vashou. Die beste manier om te leer, is egter 'n loopfiets of 'n gewone fiets waarvan die trappers verwyder is, want so kry kinders eers die kans om balans te hou en te stuur voordat hulle dit met die trapbeweging moet kombineer, en navorsing bevestig dat 'n loopfiets die ontwikkeling van onafhanklike fietsry beter bevorder as steunwieletjies.[33][34] 'n Kinderfiets se bande is gemiddeld breër om die stabiliteit te verhoog. Baie kinderfietse het 'n terugtraprem sodat kinders op stuur eerder as op rem kan konsentreer, al het sommige ook 'n handrem wat die voorwiel kan vertraag, sodat die totale remkrag by gelyktydige gebruik groter word. Kinderfietse word soms met kosmetiese bybehore soos fietshorings, wapperstrepe en spaakballetjies toegerus.[35]
Bou en tegniek
[wysig | wysig bron]
Een fiets kan tot 'n duisend onderdele hê.[36] Die wesenlike boudele is:
- die raam met stuurbuis, bobuis, onderbuis, sitbuis en die boonste en onderste agterstutte
- die vurk met vurkskede en vurkskag, en die stuurstel met die stuur en die voorbou
- die loopwiele, naamlik die stuurbare voorwiel en die aangedrewe agterwiel, elk uit 'n naaf, spake, 'n velling en 'n buiteband, met aan die agterwielnaaf ook 'n tandkrans of tandkranspakket
- die saal met sy saalstut
- die trapas met binnelaer, kruke en kettingblaaie, met die pedale aan die punte van die kruke ingeskroef
- die ketting en die kettingskerm
- die remme vir die voorwiel, die agterwiel of albei
Na behoefte kom daar nog 'n klokkie, beligting, ratte, 'n snelheidsmeter of GPS-stelsel, spatskerms, 'n bagasierak, 'n saalsak, 'n staander, 'n sleephaak met 'n fietswa, en vering aan die voor- of agterwiel of die saalstut by.
Raam en materiale
[wysig | wysig bron]
Omstreeks 1880 het die ruitraam ontstaan, 'n vakwerkkonstruksie uit 'n trapesium vir die hoofdeel en 'n dubbele driehoek vir die agterbou. Die Duitse en Nederlandse name Diamantrahmen en diamantframe berus op 'n verkeerde vertaling van die Engelse diamond, wat 'n ruit beteken en die raamvorm benaderd beskryf. By party fietse van vandag raak die bo- en onderbuis die stuurkop op dieselfde plek, sodat die trapesium ook hier 'n driehoek geword het. Voor die ruitraam was die kruisraam gewoon, waarmee die laewiel se ontwikkeling begin het; dit het hoofsaaklik uit 'n stut van die stuurkop na die agteras bestaan en 'n tweede stut wat dit van die saal na die trapas gekruis het. In die ruitraam word die stutte byna net op trek en druk belas en skaars op buiging, en daarom is dit wesenlik stewiger as 'n kruisraam. Vandag word die kruisraam in volgeveerde fietse gebruik.
Die raam is met die onderstel van ander soorte voertuie te vergelyk: dit dra die ryer en verbind al die ander boudele vas of beweegbaar met mekaar. Die sitbuis dra die saalstut met die saal, en die trapasbehuising is in die reël die verbindingspunt tussen die sitbuis, die onderbuis en die agterstut. In die agterstutte en die voorwielvurk is die asse van die twee loopwiele vasgeklem, by die agterste vurkente waar die agterwiel se as vasgehou word. Die raam se vorm laat die ryer se gewig so versprei dat die raam nie met draai vervorm of saamgepers word nie.[37]
Vroeër fietse se rame is uit soliede staal of holstaal gemaak en was dienooreenkomstig swaar. In 1885 het die broers Mannesmann 'n proses vir die maak van naatlose staalbuise laat patenteer, en met dié staalbuis, van 1890 af beskikbaar, is die raammateriaal gevind wat die hoëgehaltefietsbou tot onlangs oorheers het; in die massaproduksie was die goedkoper staalbuise met 'n lengtenaat egter gewoon. Die Rover met sy ruitraam uit staalbuis het die prototipe van die moderne fiets geword.
Die materiale waarvan fietse gemaak word, het histories dieselfde patroon as dié in die lugvaart gevolg, met hoë sterkte en lae gewig as doel. Van die laat 1930's af is legeringstaal vir raam- en vurkbuise in masjiene van hoër gehalte gebruik. Teen die 1980's het sweistegnieke vir aluminium so verbeter dat aluminiumbuis veilig in die plek van staal gebruik kon word, en sedertdien het rame en ander onderdele van aluminiumlegering gewild geraak, sodat die meeste middelklasfietse nou van aluminiumlegering is. Duurder fietse gebruik soms titaan of, meer dikwels, koolstofvesel in resien, wat aansienlik ligter is en profilering toelaat, sodat ontwerpers 'n fiets terselfdertyd styf en meegaande kan maak deur die hoeke van die gelegde vesels optimaal te orden. Omtrent alle professionele resiesfietse gebruik nou koolstofveselrame, want hulle het die beste sterkte-tot-gewig-verhouding, en 'n tipiese moderne koolstofveselraam kan minder as 1 kg weeg.[38]
Hout en bamboes, 'n natuurlike saamgestelde materiaal met 'n hoë sterkte-tot-gewig-verhouding en hoë styfheid,[39] word sedert 1894 vir fietse gebruik.[40] Moderne weergawes gebruik bamboes vir die hoofraam met vasgeplakte metaalverbindings en onderdele.[40][41]
Aandrywing en ratte
[wysig | wysig bron]Aan die begin van die aandryfstel staan die pedale, wat die kruke draai, wat op hul beurt deur die binnelaer in die as gehou word. Die meeste fietse gebruik 'n ketting om krag na die agterwiel oor te dra, en tussen die trapas se kettingblad en die agterwielnaaf se tandkrans dra 'n rolketting die krag van die trapkruke na die agterwiel oor. 'n Baie klein aantal fietse gebruik 'n asaandrywing, waar 'n keëlratkas aan elke punt van die as sit; dié aandrywing word gewoonlik 'n kardanaandrywing genoem, al kom daar geen kardangewrigte in voor nie. Hidrouliese fietsoorbringings is al gebou, maar hulle kan ondoeltreffend en ingewikkeld wees.[42]
'n Alternatief vir die ketting is 'n tandriem. Dit werk omtrent soos 'n ketting en is by pendelaars gewild omdat dit min onderhoud verg, maar dit is effens minder doeltreffend as 'n ketting en kan nie oor 'n pakket tandkranse verskuif word nie, sodat dit of as eengangfiets of met 'n naafrat gebruik word.[43] Tandriemaandrywings is sedert die begin van die 1980's op die mark. Teenoor die voordeel van 'n ligte, skoon, onderhoudsarme en stiller loop staan die gevoeligheid vir vreemde voorwerpe en vir onakkurate uitlyning van die voorste teenoor die agterste riemskyf. Omdat die riem nie soos 'n ketting deelbaar is nie, word die fietsraam se agterbou vir montering geopen, wat 'n spesiale maaksel verg, en omdat die riem se loop voor en agter in lyn moet wees en die riem breed is, bestaan daar geen ratte wat na ander riemwiele of -tandkranse oorskakel nie.
Omdat fietsryers se bene oor 'n nou reeks traptempo's die doeltreffendste is, help 'n veranderlike ratverhouding die ryer om 'n optimale traptempo oor wisselende terrein te handhaaf. Party fietse, hoofsaaklik gebruiksfietse, gebruik naafratte met tussen 3 en 14 verhoudings, maar die meeste gebruik die oor die algemeen doeltreffender kettingratstelsel, waarby die ketting tussen verskillende kettingblaaie en tandkranse verskuif word om 'n verhouding te kies. So 'n stelsel het normaalweg twee ratwippers, een voor om die kettingblad en een agter om die tandkrans te kies. Die meeste fietse het twee of drie kettingblaaie en van 5 tot 12 tandkranse agter, en die teoretiese getal ratte word verkry deur voor met agter te vermenigvuldig; in werklikheid oorvleuel baie ratte of laat hulle die ketting skuins loop, sodat die getal bruikbare ratte minder is.[42]
Verskillende ratte en ratreekse pas by verskillende mense en style van fietsry. Met 'n veelgangfiets kan die ryer die rat by die omstandighede kies: 'n hoë rat met afdraand, 'n middelrat op 'n gelyk pad en 'n lae rat met opdraand. In 'n laer rat lei elke omwenteling van die pedale tot minder omwentelings van die agterwiel, sodat die energie wat vir dieselfde afstand nodig is oor meer trapomwentelings versprei word en die ryer teen 'n opdraand, met 'n swaar vrag of teen 'n sterk wind minder moeg word. 'n Hoër rat laat die ryer minder trapomwentelings maak om 'n gegewe snelheid te handhaaf, maar met meer inspanning per omwenteling.[44]
Die naafrat verg minder onderhoud as 'n kettingrat en is daarom meer geskik vir alledaagse gebruik; sy nadele is die hoër gewig en 'n effens laer doeltreffendheid, behalwe in die direkte rat, waar die kragoorbringing sonder ratkas gebeur. Die enigste fietsnaaf met 'n traplose planeetratkas is die NuVinci N360, wat 2,5 kg weeg en 'n oorbringingsbestek van 360% het. Traplagerratte bestaan sedert die 1930's, en die moderne tweegangtraplagerrat van die Switserse firma Schlumpf laat hom met alle naafratte kombineer.
- 'n Fiets met 'n asaandrywing in plaas van 'n ketting
- 'n Stel agtertandkranse en 'n ratwipper
- 'n Naafrat
Stuur
[wysig | wysig bron]Die stuurstang sit aan die voorbou wat aan die vurk vas is wat die voorwiel huisves, en die hele samestel draai om die stuuras, deur die stuurstel se laers gehou. Drie style stuurstang is algemeen. Die regop stuurstang, tot die 1970's die norm in Europa en elders, buig saggies na die ryer toe terug en bied 'n natuurlike greep en 'n gemaklike regop posisie. Die afbuigstuur buig vorentoe en af, sodat die ryer of 'n meer aerodinamiese gehurkte posisie of 'n meer regop posisie kan gebruik. Bergfietse het oor die algemeen 'n reguit stuurstang of 'n hefstuurstang met wisselende grade van agterwaartse swaai en opwaartse styging, en met breër breedtes wat deur groter hefkrag teen die wiel beter hantering kan bied.[45] Anatomies gevormde handvatsels versprei die gewig oor die handpalm om die fietsryer se verlamming, oftewel die ulnêre sindroom, te voorkom.[46]
Saal en sitwerk
[wysig | wysig bron]
Die fietssaal gee die ryer houvas en laat hom in verskillende posisies sit. Die vorm hang van die fiets se gebruiksdoel en van die ryer se liggaamlike kenmerke af. In die fiets se begindae was daar saalmodelle wat heeltemal uit hout of selfs uit metaal bestaan het, maar hulle is al vroeg deur leersale vervang wat aan die perdesaal ontleen is; van die begin van die 1990's af word plastiek al hoe meer gebruik, en plastieksale met stoffering en 'n kunsleeroortreksel is vandag die gebruiklikste bouvorm.
Sale wissel ook met die ryer se voorkeur, van die gestoffeerde sale wat kortafstandryers verkies tot nouer sale wat meer ruimte vir beenswaai laat. Gemak hang van die ryposisie af:[47] op gemaksfietse en hibriedfietse sit die ryer hoog oor die saal met sy gewig afwaarts op die saal gerig, sodat 'n breër en meer gestoffeerde saal verkieslik is, terwyl die gewig op 'n resiesfiets, waar die ryer oorgebuig sit, gelyker tussen die stuur en die saal versprei is en 'n nouer, harder saal doeltreffender is. Daar is verskillende saalontwerpe vir manlike en vroulike ryers, wat die geslagte se verskillende anatomie en sitbeenbreedte in ag neem,[48] al word fietse gewoonlik met die sale verkoop wat vir mans die geskikste is. Veringsaalstutte en saalvere gee gemak deur skok te absorbeer, maar kan die fiets se algehele gewig verhoog. 'n Ligfiets het 'n agteroorgeleunde stoelagtige sitplek wat party ryers gemakliker as 'n saal vind, veral dié wat aan sekere soorte sit-, rug-, nek-, skouer- of handgewrigspyn ly, en ligfietse kan onder- of bo-saalstuur hê.
Remme
[wysig | wysig bron]
Fietsremme kan vellingremme wees, waarby wrywingskoene teen die wielvellings gepers word; naafremme, waarby die meganisme in die wielnaaf sit; of skyfremme, waarby die skoene op 'n rotor werk wat aan die naaf vas is. Die meeste padfietse gebruik vellingremme maar party gebruik skyfremme.[49] Skyfremme is weens hul groter krag, gepaard met groter gewig en ingewikkeldheid, op bergfietse, tandems en ligfietse algemener as op ander soorte fietse.[50]
By handremme word krag op remhefbome aan die stuur uitgeoefen en deur Bowden-kabels of hidrouliese leidings na die wrywingskoene oorgedra, wat druk op die remvlak uitoefen en deur wrywing die fiets stadiger laat gaan. 'n Agternaafrem kan of met die hand of met die pedale werk, soos die terugtraprem wat in Noord-Amerika tot die 1960's gewild was. Die terugtraprem geld vandag as tegnies verouderd en onveilig, skaars doeltreffend en in baie gevalle moeilik om te dosseer, en met lang afdraandes kan die naaf warm loop, wat deur gesmelte, uitlopende smeervet tot laerskade kan lei.[51]
Baanfietse het nie remme nie, omdat al die ryers in dieselfde rigting om 'n baan ry, wat skerp vertraging onnodig maak. Baanryers kan nogtans stadiger gaan omdat alle baanfietse vastrat is, wat beteken dat daar geen vryloop is nie: die ryer kan dus nie vrywiel nie en die kruke beweeg so lank as wat die agterwiel beweeg. Om stadiger te gaan, oefen die ryer weerstand op die pedale uit, wat as 'n remstelsel werk wat so doeltreffend as 'n gewone agterwielrem kan wees, maar nie so doeltreffend as 'n voorwielrem nie.[52]
Vering
[wysig | wysig bron]Fietsvering verwys na die stelsel of stelsels wat gebruik word om die ryer en die hele fiets of 'n deel daarvan te veer. Dit dien twee doele: om die wiele in deurlopende kontak met die grond te hou, wat beheer verbeter, en om die ryer en die bagasie van die skok van growwe oppervlakke te isoleer, wat gemak verbeter.[53] Vering word hoofsaaklik op bergfietse gebruik maar is ook op hibriedfietse algemeen, omdat dit kan help met die lastige vibrasie van swak oppervlakke. Dit is veral op ligfietse belangrik, want waar 'n ryer op 'n regop fiets op die pedale kan staan om party van die voordele van vering te verkry, kan 'n ligfietsryer dit nie doen nie. Eenvoudige bergfietse en hibriedfietse het gewoonlik net voorvering, terwyl die meer gesofistikeerde modelle ook agtervering het, en padfietse neig om geen vering te hê nie.[53]
Wiele en buitebande
[wysig | wysig bron]
Die wielas pas in die vurkente in die raam en die vurk. 'n Paar wiele kan 'n wielstel genoem word, veral in die geval van klaargeboude, werkverrigtinggerigte wiele. Buitebande wissel enorm na gelang van hul beoogde doel. Padfietse gebruik gewoonlik bande van 25 mm tot 35 mm breed,[54] soms heeltemal glad en tot hoë druk opgeblaas om vinnig oor gelyk oppervlakke te rol. Bande vir buite die pad is gewoonlik breër, van 30 mm tot 100 mm,[55] en het loopvlakke om in modderige toestande te gryp of metaalstuddels vir ys.[56]
Bybehore
[wysig | wysig bron]Sommige onderdele wat op sportfietse dikwels opsionele bybehore is, is standaardkenmerke op gebruiksfietse om hul nut, gemak, veiligheid en sigbaarheid te verhoog. Spatskerms met spatlappe beskerm die ryer en die bewegende dele teen spat wanneer daar deur nat gebiede gery word. Kettingskerms beskerm klere teen olie op die ketting en keer terselfdertyd dat klere tussen die ketting en die kettingbladtande vasgevang word. Staanders hou fietse regop wanneer hulle geparkeer is, en fietssluitings ontmoedig diefstal. Mandjies voor, bagasierakke voor of agter en sysakke bo een of albei wiele kan gebruik word om toerusting of vrag te vervoer. Ouers voeg soms 'n kindersitplek agter by, of 'n hulpsaal aan die bobuis, of albei, om kinders te vervoer, en 'n fiets kan ook met 'n sleephaak toegerus word om 'n sleepwaentjie met vrag, 'n kind of albei te trek.
Toonklampe, toonbande en klamppedale help om die voet in die regte pedaalposisie vas te hou en laat ryers aan die pedale trek sowel as stoot. Tegniese bybehore sluit fietsrekenaars in om snelheid, afstand, harttempo en GPS-data te meet. Ander bybehore is ligte, weerkaatsers, spieëls, rakke, sleepwaentjies, sakke, waterbottels met houers en klokkies.[57] Fietsligte, weerkaatsers en helms word in party gebiede deur die wet vereis, en fietsryers het ook gespesialiseerde, nousluitende klere met hoë sigbaarheid.
'n Fietshelm kan beserings in die geval van 'n botsing of ongeluk verminder, en 'n geskikte helm word in baie regsgebiede wetlik van ryers vereis.[58] Fietsoefenstelle laat fietsryers trap terwyl die fiets stil bly, en word dikwels gebruik om voor wedrenne op te warm of binnenshuis wanneer die ryomstandighede ongunstig is.[59]
Standaarde
[wysig | wysig bron]Daar bestaan 'n aantal formele en bedryfstandaarde vir fietsonderdele om onderdele uitruilbaar te maak en 'n minimum produkveiligheid te handhaaf. Die Internasionale Organisasie vir Standaardisasie (ISO) het 'n spesiale tegniese komitee vir fietse, TC149, wie se bestek standaardisasie op die gebied van fietse, hul onderdele en bybehore is, met besondere verwysing na terminologie, toetsmetodes en vereistes vir werkverrigting, veiligheid en uitruilbaarheid.[60] Die Europese Komitee vir Standaardisasie (CEN) het ook 'n eie tegniese komitee, TC333, wat Europese standaarde vir fietse bepaal en wie se mandaat voorskryf dat die CEN se fietsstandaarde met die ISO se standaarde moet harmonieer. Omdat party van die CEN se fietsstandaarde voor die ISO se standaarde gepubliseer is, is daar op dié gebied sterk Europese invloede: Europese fietsstandaarde is geneig om minimum veiligheidsvereistes te beskryf, terwyl ISO-standaarde histories die meetkunde van onderdele geharmonieer het.
Ryfisika en werkverrigting
[wysig | wysig bron]
'n Fiets bly regop terwyl dit vorentoe beweeg deurdat dit so gestuur word dat sy massamiddelpunt bo die wiele bly, in lyn met die resultante krag van swaartekrag en middelpuntvliedende krag.[61] Dié stuurwerk kom gewoonlik van die ryer, maar kan onder sekere omstandighede van die fiets self kom.[62] Deur die naloop ontstaan daar by 'n stuuruitslag 'n draaimoment wat daarteen gerig is, sodat die rollende voertuig selfstandig terugstuur tot byna in die reguit stand. Die tolkragte stabiliseer die fiets tydens ry verder, afhangend van die traagheidsmoment en die snelheid, en ander faktore soos die massaverdeling beïnvloed ook eenspoorvoertuie se rystabiliteit.
Die gesamentlike massamiddelpunt van 'n fiets en sy ryer moet in 'n draai inleun. Dié leunbeweging word deur teenstuur veroorsaak, wat die ryer regstreeks kan doen deur die stuurstang met die hande te draai[63] of onregstreeks deur die fiets te laat leun.[64] Fietse met 'n kort wielbasis of hoë fietse kan met rem genoeg stopkrag by die voorwiel voortbring om in die lengte oor te slaan,[65] en om dié krag doelbewus te gebruik om die agterwiel te lig en op die voorwiel te balanseer sonder om oor te slaan, is 'n toertjie wat as 'n stoppie bekend staan.
Die fiets is in biologiese sowel as meganiese opsig buitengewoon doeltreffend. Meganies word tot 99% van die energie wat die ryer in die pedale lewer na die wiele oorgedra, al kan die gebruik van ratmeganismes dit met 10 tot 15% verminder en is daar ook 'n klein bietjie bandglip.[66][67] 'n Fiets met trapaandrywing, ketting en ratte het 'n rendement van 90 tot 98% in die eerste rat met direkte oorbringing,[68] terwyl die mens se gewrigsbewegingsrendement 84% is. Die netto rendement van fietsry self is 20 tot 28%, ongeveer soos loop, teenoor 3 tot 6% vir swem.
Die fiets is die doeltreffendste mensgedrewe vervoermiddel wat die energie betref wat 'n persoon moet verbruik om 'n gegewe afstand af te lê, wanneer daar stadig gery word of met 'n aerodinamiese omhulsel. Teen 24 km/h kos een kilometer fietsry teoreties sowat 12 000 joule, terwyl loop meer as 90 000 joule kos, byna agt keer soveel: die liggaam se swaartepunt moet met elke stap van die loop opgetel word, waarby daardie energie elke keer in warmte en geluid verlore gaan, terwyl die grootste deel van die liggaamsgewig op 'n fiets gerol word en net die wrywings-, rol- en lugweerstand oorkom hoef te word.[69] Die bewegingsenergie wat fietsry verg, 0,6 joule per gram per kilometer, is laer as by enige ander manier van voortbeweging deur mens of dier.[70]
Teen laer tot middelmatige snelhede van tussen 16 en 24 km/h gebruik 'n mens op 'n fiets net soveel krag as wat vir loop nodig is, maar lê daarmee 'n baie groter afstand af.[37] Lugweerstand, wat proporsioneel aan die kwadraat van die snelheid is, verg dramaties hoër kraglewering soos die snelheid toeneem: by normale fietsry teen 15 km/h beloop die rolweerstand 16% en die lugweerstand 61% van die weerstand.[70] As die ryer regop sit, veroorsaak sy liggaam sowat 75% van die fiets-en-ryer-kombinasie se totale weerstand, en weerstand kan verminder word deur die ryer in 'n meer aerodinamies gestroomlynde posisie te laat sit en deur die fiets met 'n aerodinamiese omhulsel te bedek.
Rekords
[wysig | wysig bron]| Rekord | Prestasie | Datum |
|---|---|---|
| Uurrekord op 'n hoogs gestroomlynde fiets, met 'n staande begin | meer as 92 km/h | 2016[71] |
| Uurrekord op 'n ligfiets sonder stroomlyning, deur Aurelien Bonneteau | 56,597 km | Mei 2012[72] |
| Vinnigste sonder gangmaking oor 200 m met 'n vlieënde begin, deur Sebastiaan Bowier op die VeloX 3 | 133,78 km/h | 14 September 2013[73] |
| Vinnigste met gangmaking agter 'n motor, deur Denise Mueller-Korenek | 296 km/h | September 2018[74] |
Mueller-Korenek het haar rekord op 'n soutvlakte in Utah gery en daarmee die ouer rekord van 268,83 km/h verbeter wat Fred Rompelberg op 3 Oktober 1995 op die Bonneville-soutvlaktes gevaar het; albei het hul rekords agter 'n motor behaal.[74] Die wêreld se vinnigste fiets is 'n ligfiets, maar dié soort is in 1934 deur die internasionale wielrenverbond UCI uit wedstryde verban.[75]
Gebruik
[wysig | wysig bron]As vervoermiddel
[wysig | wysig bron]
Fietse word vir vervoer, woon-werkverkeer en gebruiksfietsry aangewend.[76] Meer as 50% van die paaie wat in 'n stad afgelê word, is korter as vyf kilometer en dus goed met 'n fiets te doen. Wetenskaplike studies wys dat die inrigting van die fietsinfrastruktuur 'n groot rol speel in die besluit om die fiets as vervoermiddel te gebruik en in die keuse van roete, en fietsryers verskil van mekaar in watter afmetings van 'n roete vir hulle die belangrikste is.[77]
In stede regoor die wêreld gebruik stadsbeplanning fietsinfrastruktuur soos fietspaaie om verkeersknope en lugbesoedeling te verminder.[78] 'n Aantal stede het stelsels ingestel wat as fietsdeelstelsels of gemeenskapsfietsprogramme bekend staan.[79] Die eerste daarvan was die Wit Fietsplan in Amsterdam in 1965, gevolg deur geel fietse in La Rochelle en groen fietse in Cambridge. Dié inisiatiewe vul openbare vervoerstelsels aan en bied 'n alternatief vir gemotoriseerde verkeer om verkeersknope en besoedeling te verminder.[80] Openbare ondersteuning maak ook 'n kombinasie van individuele fietsry en openbare vervoer moontlik: wie nie die hele afstand wil ry nie of 'n verder daaglikse pad het, kan 'n deel van die roete saam met sy fiets in openbare vervoermiddels aflê, veral in moltreine en stadstreine maar ook in busse, waarvan party lande se busse fietsrakke aan die voorkant het. Die fiets kan ook by fietsstasies of fietsparkeergarages by die haltes van die openbare vervoer gelaat word.
In Europa, veral in Nederland en dele van Duitsland en Denemarke, is pendel per fiets algemeen. In Nederland bied alle treinstasies gratis fietsparkering of 'n veiliger parkeerplek vir 'n klein fooi, en die groter stasies het ook fietsherstelwinkels; fietsry is so gewild dat die parkeerkapasiteit oorskry kan word, soos in Delft, waar dit gewoonlik oorskry word.[81] In Trondheim in Noorweë is 'n fietshyser ontwikkel om fietsryers aan te moedig deur hulle teen 'n steil heuwel by te staan. In stede waar fietse nie in die openbare vervoerstelsel geïntegreer is nie, gebruik pendelaars fietse dikwels as deel van 'n gemengde pendelrit, waar die fiets gebruik word om na en van treinstasies of ander vorme van snelvervoer te reis, en vourfietse is in sulke gevalle nuttig omdat hulle makliker is om aan boord saam te neem.
Fietse bied 'n belangrike vervoerwyse in baie ontwikkelende lande. Tot onlangs was fietse in Asiatiese lande 'n stapelmiddel van die daaglikse lewe en die vervoerwyse wat die meeste vir woon-werkverkeer, skool, inkopies en die lewe in die algemeen gebruik is, terwyl fietse ook in Europa algemeen gebruik word.[82] Hulle bied ook 'n mate van oefening om mense gesond te hou.

Fietse word ook professioneel deur posbestellers, paramedici, die polisie, boodskappers en vir afleweringswerk gebruik. Bedryfsfietse word in die nywerheid, deur koeriers, deur owerheidsinstansies soos die polisie en die ambulansdiens en in dienslewering soos mobiele dienste en bejaardesorg ingespan. Krygsgebruike van fietse het kommunikasie, verkenning, troepebeweging, voorsiening en patrollie ingesluit, soos in fietsinfanterie,[83] en in die Viëtnamoorlog het die Vietcong dikwels baie swaar belaaide fietse op die Ho Chi Minh-pad vir voorsiening gebruik.
Boeke oor fietsreise het al aan die einde van die 19de eeu bestaan, maar fietstoerisme is eers 'n gevolg van die massatoerisme wat later ontwikkel het en wat deur die aanlê van langafstandfietsroetes en streeksfietsroetenetwerke as ekologiese vakansievariant bevorder word.
Sport en ontspanning
[wysig | wysig bron]Fietse word ook vir plesier gebruik, onder meer vir fietstoere, bergfietsry, liggaamlike fiksheid en spel. Fietssportsoorte sluit padwedrenne, BMX-wedrenne, baanwedrenne, kriteriums, rolwedrenne, toertogte en tydtoetse in. Fietse word ook op ander maniere vir vermaak en plesier gebruik, soos in georganiseerde massaritte, kunsfietsry en vrystyl-BMX, en hulle word in die visuele kunste gevier, byvoorbeeld in die Fietsfilmfees wat oor die hele wêreld aangebied word.
Elke jaar op 3 Junie word die Wêreldfietsdag gevier, wat die Verenigde Nasies op 12 April 2018 as 'n amptelike VN-dag van bewustheid oor die maatskaplike voordele van fietsgebruik uitgeroep het,[84] en sedert 1998 ook die Europese Dag van die Fiets. Een keer per maand, meestal op die laaste Vrydag van 'n maand, word daar wêreldwyd in die vorm van Critical Mass-fietsritte vir beter fietsrytoestande betoog.
Onderhoud en herstel
[wysig | wysig bron]
'n Fiets kan dekades lank in goeie toestand gehou word.[36] Soos alle produkte met meganiese bewegende dele verg fietse gereelde onderhoud en die vervanging van verslete dele. 'n Fiets is betreklik eenvoudig in vergelyking met 'n motorkar, en daarom kies party fietsryers om minstens 'n deel van die onderhoud self te doen: party onderdele is met betreklik eenvoudige gereedskap maklik te hanteer, terwyl ander spesialisgereedskap kan verg wat van die vervaardiger afhang. Baie fietsonderdele is teen verskillende prys- en gehaltepunte beskikbaar, en vervaardigers probeer oor die algemeen om al die onderdele op 'n bepaalde fiets op omtrent dieselfde gehaltevlak te hou, al word daar aan die baie goedkoop kant van die mark soms op die minder opvallende onderdele beknibbel.
Moderne fietstegniek laat herstelwerk deur die gebruiker self al hoe minder toe, en vir die montering van baie boudele is detailkennis en spesiale gereedskap nodig. Sedert omtrent 1990 word feitlik alle fietse met ratte aangebied. Herstelwerk aan naafratte is vir leke bykans onmoontlik en die verstelling van kettingratte is in die meeste gevalle nie 'n klein saak nie, en daarom is daar 'n herlewing van die eengangfiets, meestal singlespeed genoem, waarby 'n groot deel van die onderhoudswerk wegval, al gee die meerderheid kopers steeds voorkeur aan 'n fiets met soveel ratte as moontlik. Baie dele aan moderne fietse is aan veel groter verslyting onderhewig as 'n paar dekades tevore, wat 'n gereelde deurkyk soos by 'n motorkar of motorfiets verg; party ratnawe verg 'n jaarlikse olieverwisseling en hoëgehaltevoorvurke verg gereelde inspeksie.
Daar is wêreldwyd etlike honderde gemeenskapsfietsorganisasies waar leke fietse inbring wat herstel of onderhoud nodig het en vrywilligers hulle leer hoe om die nodige stappe te doen.[85] Volle diens is by fietswerktuigkundiges in plaaslike fietswinkels beskikbaar, en waar dit beskikbaar is, koop party fietsryers padkantbystand by maatskappye.
Behoorlik opgeblaaste buitebande verander merkbaar hoe die fiets voel om te ry, en fietsbuitebande het gewoonlik 'n merk op die sywand wat die geskikte lugdruk vir daardie band aandui.[86] Oor die langer termyn verslyt bande, ná tussen 1 500 en 5 000 km, en 'n pap wiel is dikwels die sigbaarste teken van 'n verslete band.[87] Baie gemeenskapsfietsorganisasies kyk remme en ander basiese dele gratis na, of fietswinkels teen 'n lae koste.[88] Skyfremme kan skoongemaak word maar kan professionele onderhoud nodig hê, terwyl vellingremme makliker is om te verstel. Kettings kan met seepwater gewas en liggies gesmeer word, maar kan ná 'n paar jaar vervanging nodig hê, en ander dele soos die ratwipper se draaipunte kan ook gesmeer word, maar liggies, aangesien vuilheid met te veel olie kan vassit.[88]
Baie min fietsonderdele kan werklik herstel word; die vervanging van die falende onderdeel is normale praktyk. Die algemeenste padkantprobleem is 'n lek in die buiteband se binneband. 'n Lapstel kan gebruik word om die lek te heel, of die binneband kan vervang word, al kos die laaste oplossing meer en mors dit meer materiaal.[89] Party handelsmerke se bande is baie meer lekweerstandig as ander en bevat dikwels een of meer lae Kevlar; die nadeel van sulke bande is dat hulle swaarder en moeiliker kan wees om aan te sit en af te haal.
Daar is gespesialiseerde fietsgereedskap vir gebruik in die werkswinkel sowel as langs die pad, en baie fietsryers dra gereedskapstelle saam. Dié kan 'n bandlapstel insluit, wat op sy beurt 'n handpomp of koolstofdioksiedpomp, bandligters, ekstra binnebande, selfklewende lappe of lapmateriaal, 'n gom, 'n stuk skuurpapier of 'n metaalrasper en soms selfs 'n blokkie Franse kryt kan bevat, sowel as moersleutels, seskantsleutels, skroewedraaiers en 'n kettinggereedskap. Spesiale dun moersleutels is dikwels nodig om die verskillende skroefgehegte dele te onderhou, veral die dikwels gesmeerde koeëllaerkeëls.[90] Daar is ook fietsspesifieke veeldoelige gereedskap wat baie van dié werktuie in een kompakte toestel kombineer.
Maatskaplike en ekonomiese betekenis
[wysig | wysig bron]Omstreeks die wisseling van die 20ste eeu het fietse die oorbevolking in binnestedelike huurkaserne verminder deurdat werkers uit ruimer wonings in die voorstede kon pendel, en hulle het ook die afhanklikheid van perde verminder.[91][92]

Fietse het mense in staat gestel om vir ontspanning na die platteland te reis, aangesien fietse drie keer energiedoeltreffender as loop en drie tot vier keer vinniger was.
Volgens studies stel die fiets die ryer in staat om omgewingsprikkels in die verbygaan op te neem en maak dit toevallige ontmoetings deur spontane stoppe moontlik, wat met 'n groter bewustheid van maatskaplike, ekologiese en ekonomiese veranderings in die buurt en die besoekte gebiede saamhang. Anders as die "desosialisasie" wat by gereelde voortbeweging in 'n geslote motorkar waargeneem word, gaan gereelde fietsry, onafhanklik van ander demografiese aspekte, met aantoonbaar verhoogde politieke deelname, groter maatskaplike betrokkenheid, buurthulp en 'n dieper verankering in plaaslike verhoudings gepaard.[93] Fietsry het ook 'n positiewe invloed op geestes- en liggaamlike gesondheid, en middestede met fietsinfrastruktuur toon 'n verhoogde omsetdigtheid per oppervlakbehoefte.[94]
'n Belangrike voordeel van die fiets in vergelyking met die motorkar is dat dit oor kort afstande dikwels vinniger is, veral in binnestede wat vir 'n fiets beter toeganklik is. Die fiets het 'n betreklik lae ekologiese voetspoor, lewer veel minder besoedeling op en die ruimtegebruik is veel laer as dié van die motorkar. 'n Maatskaplike koste-en-baat-analise gee ook 'n gunstige beeld vir die fiets in vergelyking met die motorkar, en in die meeste gevalle is 'n fiets maklik om te herstel, deur die gebruiker self of deur die fietsmaker. 'n Belangrike nadeel van die fiets is die kwesbaarheid van die ryer, want by verkeersongelukke het die fietsryer geen beskerming nie, en met die opkoms van die elektriese fiets het dié probleem groter geword; by slegte weer is die motorkar deurgaans gemakliker en oor langer afstande vinniger.
Vroue-emansipasie
[wysig | wysig bron]
Die veiligheidsfiets het vroue ongekende mobiliteit gegee en tot hul emansipasie in Westerse lande bygedra. Namate fietse veiliger en goedkoper geword het, het meer vroue toegang tot die persoonlike vryheid gekry wat die fiets verteenwoordig het, en so het die fiets 'n simbool van die "Nuwe Vrou" van die laat 19de eeu geword, veral in Brittanje en die Verenigde State.[3][96] Die fietsgier van die 1890's het ook tot 'n beweging vir sogenaamde rasionele drag gelei, wat gehelp het om vroue van korsette, rompe tot by die enkels en ander beperkende kleding te bevry en hulle met die destyds skokkende bloomers te vervang.[3]
Die fiets is deur 19de-eeuse feministe en stemregvroue as 'n "vryheidsmasjien" vir vroue erken. Die Amerikaanse Susan B. Anthony het in 'n onderhoud met die New York World van 2 Februarie 1896 gesê: "Ek dink dit het meer gedoen om die vrou te emansipeer as enige ander enkele ding in die wêreld. Ek juig elke keer as ek 'n vrou op 'n wiel sien verbyry. Dit gee haar 'n gevoel van selfstandigheid en onafhanklikheid die oomblik as sy haar sitplek inneem, en daar gaan sy, die beeld van ongebonde vrouwees."[97] In 1895 het Frances Willard, die stram ingeryde president van die Woman's Christian Temperance Union, A Wheel Within a Wheel: How I Learned to Ride the Bicycle, with Some Reflections by the Way geskryf, 'n geïllustreerde gedenkskrif van 75 bladsye waarin sy "Gladys", haar fiets, prys vir die "verblydende uitwerking" daarvan op haar gesondheid en politieke optimisme, en waarin sy 'n fietsrymetafoor gebruik om ander stemregvroue tot aksie aan te spoor.[95]
In 1985 het Georgena Terry die eerste fietsmaatskappy spesifiek vir vroue begin. Haar ontwerpe het raammeetkunde en wielgroottes gehad wat beter by vroue pas, met korter bobuise en 'n geskikter reikafstand.[98]
Ekonomiese gevolge
[wysig | wysig bron]
Fietsvervaardiging het 'n oefenterrein vir ander nywerhede geblyk te wees en tot die ontwikkeling van gevorderde metaalwerktegnieke gelei, vir die rame self sowel as vir spesiale onderdele soos koeëllaers, wasters en tandratte. Dié tegnieke het bekwame metaalwerkers en werktuigkundiges later in staat gestel om die onderdele te ontwikkel wat in vroeë motorkarre en vliegtuie gebruik is. Die uitvindings wat in verband met die fiets gemaak is, was wegbereidend vir die ontwikkeling van die motorfiets en die motorkar omstreeks 1900, net soos die stryd teen die owerheid se ryverbode.
Die broers Wilbur en Orville Wright, 'n paar sakemanne, het die Wright Cycle Company bedryf wat tydens die fietsgier van die 1890's hul fietse ontwerp, gemaak en verkoop het.[99] Die fietsbedryf het ook die nywerheidsmodelle geleer wat later oorgeneem is, onder meer meganisering en massaproduksie, wat later deur Ford en General Motors nagevolg is, vertikale integrasie, aggressiewe advertering, waarvan soveel as 10% van alle advertering in Amerikaanse tydskrifte in 1898 deur fietsmakers gedoen is, en lobbywerk vir beter paaie, wat die newevoordeel gehad het dat dit as advertering gedien het en die verkope verbeter het deurdat daar meer plekke was om te ry. Dit is alles die eerste keer deur Pope toegepas.[100] Fietsmakers het ook die jaarlikse modelwisseling ingevoer, later as beplande verouderdheid afgemaak en gewoonlik aan General Motors toegeskryf, wat baie suksesvol was.[100][101]
Vroeë fietse was 'n voorbeeld van opsigtelike verbruik en is deur die modieuse elite aangeneem. Deurdat die fiets ook as 'n platform vir bybehore gedien het, wat uiteindelik meer as die fiets self kon kos, het dit vir soortgelyke produkte soos die Barbie-pop die weg gebaan.[100] Fietse het gehelp om nuwe soorte ondernemings te skep of te versterk, soos fietsboodskappers, reisende naaldwerksters, ryskole en wedrenbane, en hul plankbane is later vir vroeë motorfiets- en motorwedrenne aangepas. Daar was 'n verskeidenheid nuwe uitvindings, soos spaakspanners, gespesialiseerde ligte, sokkies en skoene en selfs kameras. Die bekendste en wydsgebruikte van dié uitvindings, ook ver buite die fietswese aangeneem, is Charles Bennett se Bike Web, wat as die jock strap bekend geword het. Fietse het ook 'n wegbeweeg van openbare vervoer aangekondig wat met die koms van die motorkar sou ontplof.[100]
J. K. Starley se maatskappy het in die laat 1890's die Rover Cycle Company Ltd. geword en daarna na die Rover Company herdoop toe dit motorkarre begin maak het. Morris Motors in Oxford en Škoda het ook in die fietsbedryf begin, net soos die broers Wright.[102] Alistair Craig, wie se maatskappy uiteindelik as die enjinvervaardiger Ailsa Craig ontwikkel het, het ook met fietsvervaardiging begin, in Glasgow in Maart 1885.
Amerikaanse en Europese fietsvervaardigers het fietse vroeër uit hul eie rame en onderdele van ander maatskappye gemonteer, al het baie groot maatskappye soos Raleigh byna elke deel van 'n fiets self gemaak. Sedertdien het dié fietsmakers hul produksiemetodes grootliks verander, en omtrent nie een van hulle maak nou hul eie rame nie. Baie nuwer of kleiner maatskappye ontwerp en bemark net hul produkte, terwyl die werklike produksie elders voltooi word, dikwels in Asië: meer as 60% van die wêreld se fietse word nou in China gemaak, waarvan een van die hoofredes die laer arbeidskoste daar is. Ten spyte van dié verskuiwing in produksie neem lande soos China en Indië se eie fietsgebruik af namate hulle ryker word, omdat motorkarre en motorfietse al hoe bekostigbaarder raak.[103]
Handel
[wysig | wysig bron]
Wêreldwyd is daar in 2018 fietse sonder motor ter waarde van ongeveer 7,8 miljard euro verhandel. China was daarby, nog voor Taiwan en Nederland, die internasionaal belangrikste uitvoerland gemeet aan uitvoerwaarde, en uit die tien belangrikste uitvoerlande blyk dit dat die grootste deel van die fietse wat wêreldwyd oor grense verhandel word uit Oos-Asië en EU-lande kom.[104]
| # | Land | Uitvoer (miljoen euro) |
|---|---|---|
| 1 | China | 2 781 |
| 2 | Taiwan | 1 265 |
| 3 | Nederland | 634 |
| 4 | Duitsland | 518 |
| 5 | Kambodja | 386 |
| 6 | Portugal | 256 |
| 7 | Italië | 199 |
| 8 | België | 176 |
| 9 | Spanje | 140 |
| 10 | Pole | 139 |
Die gewildste fietsmodel, en die gewildste voertuig van enige soort in die wêreld, is die Chinese Flying Pigeon, waarvan sowat 500 miljoen gemaak is.[105]
Omgewingsimpak
[wysig | wysig bron]Uitlate wat met fietse verband hou, kom uit hul produksie en in die werklike gebruik uit hul kragbron, naamlik die kos wat vir die trapwerk verbruik word of die elektrisiteit wat in die geval van elektriese fietse nodig is. Die materiale wat gebruik word, is hoofsaaklik staal, aluminium en koolstofvesel, en in vergelyking met ander nywerhede is die hoeveelhede materiaal baie klein en die metale goed herwinbaar.[106] Lewensiklusontledings vir klimaatsimpak dui daarop dat produksie in China omtrent 150 kg koolstofdioksied-ekwivalent per fiets en 250 kg per elektriese fiets beloop, en produksie in Europa omtrent 70 kg per fiets en 130 kg per elektriese fiets.[107]
'n Verdere bron van uitlate is die rubberbesoedeling uit bandverslyting. 'n Studie met bergfietsbande het buite die pad 'n verslytingstempo per paar bande van aanvanklik 3,6 gram rubber per 100 km gemeet, wat daarna tot 2 g per 100 km gedaal het, in vergelyking met 11 tot 12 g per 100 km per voertuig op die pad vir motorkarre.[108]
Diefstal
[wysig | wysig bron]Fietse is gewilde teikens vir diefstal weens hul waarde en die gemak waarmee hulle verkoop kan word,[43] veral in die groter stede en studentestede, en ook elektriese fietse is onder fietsdiewe gewild.[109] Die getal fietse wat jaarliks gesteel word, is moeilik om te bepaal omdat 'n groot aantal misdade nie aangemeld word nie.[42] Omtrent 50% van die deelnemers aan 'n opname in Montreal was in hul leeftyd as aktiewe fietsryers al aan fietsdiefstal onderwerp.[110] Die meeste fietse het reeksnommers wat aangeteken kan word om identiteit in die geval van diefstal te bevestig.[111] Om fietsdiefstal te ontmoedig, gebruik die polisie in Nederland en België sogenaamde lokfietse met 'n ingeboude GPS- en SIM-module wat alarm maak sodra die fiets beweeg, waarmee diewe baie doeltreffend omtrent op heterdaad betrap word.
Wetlike vereistes
[wysig | wysig bron]Vroeg in die fiets se ontwikkeling was daar, soos met motorkarre, beperkings op die gebruik daarvan, en Albert A. Pope het naas sy adverteerwerk en om gratis publisiteit te kry namens fietsryers litigeer.[100]
Die Weense Konvensie oor Padverkeer van 8 November 1968 beskou 'n fiets as 'n voertuig en 'n persoon wat 'n fiets beheer, of hy werklik ry of nie, as 'n operateur of bestuurder.[112] Die konvensie omskryf 'n fiets as elke voertuig met minstens twee wiele wat uitsluitlik deur die spierkrag van die persone daarop aangedryf word, in besonder met behulp van pedale of handkruke, sodat eenwiele nie as fietse geld nie, en vir internasionale verkeer skryf artikel 44 van die konvensie 'n remstelsel, 'n klokkie en 'n beligtingstoestel voor.
Die verkeerskodes van baie lande weerspieël dié omskrywings en vereis dat 'n fiets aan sekere wetlike vereistes voldoen voordat dit op openbare paaie gebruik kan word; in baie regsgebiede is dit 'n oortreding om 'n fiets te gebruik wat nie padwaardig is nie.[113] Die wetlik vasgestelde tegniese vereistes verskil van land tot land, maar deurgaans word twee onafhanklike remme, 'n hoorbare waarskuwingstoestel soos 'n klokkie, 'n wit koplig en 'n rooi agterlig, en weerkaatsers voor, agter, aan die pedale en aan die kante vereis. In sommige lande moet fietse werkende voor- en agterligte hê wanneer hulle ná donker gery word,[114] al laat party lande die beligting weg wanneer daar by daglig en goeie sig gery word.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ DidYouKnow.cd. There are about a billion or more bicycles in the world.[dooie skakel] Verkry op 21 Februarie 2009.
- ↑ "Bicycling; A way of life; Faster in town than going by car, bus, tube or on foot". The Economist. 20 April 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Oktober 2024.
- 1 2 3 4 Herlihy, David V. (2004). Bicycle: The History. New Haven: Yale University Press. ISBN 978-0-300-12047-9.
- ↑ Heitmann, J. A. (2009). The Automobile and American Life. McFarland. bl. 11 e.v. ISBN 0-7864-4013-9.
- 1 2 Jan Dirk Snel (2012). "Vietsen in het Vondelpark" (in Nederlands). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Mei 2023.
- ↑ M. Philippa e.a. (2003). Etymologisch Woordenboek van het Nederlands (in Nederlands). Sien Etymologiebank: fiets (rijwiel). Geargiveer 15 November 2025 op Wayback Machine
- ↑ Sanders, Ewoud (1996). Fiets! De geschiedenis van een vulgair jongenswoord (PDF) (in Nederlands). Sdu. pp. 6, 37-39. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 21 September 2015. Besoek op 29 Oktober 2026.
- 1 2 P. A. F. van Veen; Nicoline van der Sijs (1997). Van Dale Etymologisch woordenboek: De herkomst van onze woorden (in Nederlands).
- ↑ Brouwer, L. (2012). "Een fiets van Viets". Genealogie (in Nederlands). 18: 16-19.
- ↑ B. G. (1911). "'t Woord "fiets"". Taal en letteren (in Nederlands): 407-410. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Mei 2023.
- ↑ Verhalen over taal: 150 jaar Van Dale (in Nederlands). Van Dale Uitgevers. 2014. pp. 19-20. ISBN 9789460771750.
- ↑ G. de Boel; L. de Grauwe (2011). "Fiets 'ersatzpaard'. De etymologische kwestie revisited en beslecht?". Tijdschrift voor Nederlandse taal- en letterkunde (in Nederlands). 127: 327-342. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Mei 2019.
- ↑ Jan Stroop (2012). "Ga toch fietsen!" (in Nederlands). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 November 2017.
- ↑ Dodge, Pryor (2007). Faszination Fahrrad: Geschichte, Technik, Entwicklung (in Duits). Bielefeld: Delius Klasing. ISBN 978-3-7688-5253-1.
- ↑ "De draisine, de moeder der fietsen". De Gids (in Nederlands). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Desember 2015. Besoek op 29 Oktober 2026.
- ↑ Tony Hadland; Hans-Erhard Lessing (2014). "2". Bicycle Design: An Illustrated History. MIT Press. ISBN 978-0-262-02675-8.
- ↑ "Brief history of Humber". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Maart 2012. Besoek op 29 Oktober 2026.
{{Verwys web}}: VS1-onderhoud: bot: oorspronklike URL-status onbekend (link) - ↑ "Rover safety bicycle, 1885". Making the Modern World. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 April 2017. Besoek op 29 Oktober 2026.
- ↑ Industriemuseum Chemnitz, 20219.
- ↑ Eine für Radfahrer … In: Altonaer Nachrichten. Aandblad, 18 Augustus 1896.
- ↑ Schuitema Meijer, Arent Toncko (1967). Zó was Groningen, 1919-1939 (in Nederlands). Groningen: Niemeijer. p. 43.
- ↑ Burghardt, Uwe (1993). "Straßenverkehr". In Ullrich Wengenroth (red.). Technik und Wirtschaft (in Duits). Düsseldorf: VDI-Verlag. p. 408.
- ↑ Merki, Christoph Maria (2008). Verkehrsgeschichte und Mobilität (in Duits). p. 50.
- ↑ "Aktuelle Informationen und Daten zu Fahrrad und Fahrradindustrie". Statista (in Duits). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Oktober 2026.
- ↑ "Fahrräder sind teurer geworden". Handelsblatt (in Duits). Nr. 165. 28 Augustus 2013. p. 25. ISSN 0017-7296.
- ↑ "Italian bicycle sales 'surpass those of cars'". BBC News. 2 Oktober 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Oktober 2012.
- ↑ "Types of Different Bikes: Ultimate Buying Guide". Bike Coop. 3 Januarie 2024. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Februarie 2026. Besoek op 31 Januarie 2026.
- ↑ "FG Autonome Fahrräder" (in Duits). Otto-von-Guericke-Universität Magdeburg. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Maart 2025. Besoek op 24 Februarie 2025.
- ↑ Denham, Alee (21 Januarie 2016). "A Complete List of Womens Touring Bikes: Step Through & Mixte". CyclingAbout. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Januarie 2026. Besoek op 31 Januarie 2026.
- ↑ "Met vertrouwen de fiets op, ook op latere leeftijd" (in Nederlands). Vlaamse Ouderenraad. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Oktober 2026. Besoek op 20 Oktober 2026.
- ↑ Niek Sterk (21 November 2003). "Gebruikers van OV-fiets erg tevreden". Reformatorisch Dagblad (in Nederlands). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Oktober 2026. Besoek op 20 Oktober 2026.
- ↑ Ronald Kamp (24 Augustus 2026). "E-bikes: type frame kiezen en framemaat bepalen" (in Nederlands). Consumentenbond. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Oktober 2026. Besoek op 20 Oktober 2026.
- ↑ Blommenstein, Biko; John Kamp (2022). "Mastering balance: The use of balance bicycles promotes the development of independent cycling". British Journal of Developmental Psychology. 40 (2): 242-253. doi:10.1111/bjdp.12409. PMC 9310799. PMID 35262200.
- ↑ Cristiana Mercê; Marco Branco; David Catela; Frederico Lopes; Rita Cordovil (2022). "Learning to cycle: From training wheels to balance bike". International Journal of Environmental Research and Public Health. 19 (3): 1814. doi:10.3390/ijerph19031814. PMC 8834827. PMID 35162834.
- ↑ Kicinski-Mccoy, James (3 Augustus 2015). "The Coolest Bike Accessories For Kids". Mother. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Junie 2020. Besoek op 30 April 2020.
- 1 2 Gauthier, Philippe (9 Februarie 2021). "Material challenges of bicycle manufacturing in a post-growth world". Resilience. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 April 2026. Besoek op 11 Mei 2026.
- 1 2 Wilson, S. S. (Maart 1973). "Bicycle Technology" (PDF). Scientific American. Vol. 228, nr. 3. pp. 81-91. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2026.
- ↑ "Understanding the World of Carbon Fiber Frames in Bicycles". 28 November 2023. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Maart 2026. Besoek op 31 Januarie 2026.
- ↑ S. C. Lakkad; J. M. Patel (Junie 1981). "Mechanical properties of bamboo, a natural composite". Fibre Science and Technology. 14 (4): 319-322. doi:10.1016/0015-0568(81)90023-3.
- 1 2 Jen Lukenbill. "About My Planet: Bamboo Bikes". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Oktober 2012. Besoek op 14 Januarie 2013.
- ↑ Teo Kermeliotis (31 Mei 2012). "Made in Africa: Bamboo bikes put Zambian business on right track". CNN. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Mei 2012.
- 1 2 3 "A beginners' guide to … a cycle's drivetrain". Cycling UK. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Januarie 2026. Besoek op 31 Januarie 2026.
- 1 2 "Belt drive bicycles: the pros and cons explained". BikeRadar. 13 Mei 2024. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Januarie 2026. Besoek op 31 Januarie 2026.
- ↑ "Bike gears explained: A complete guide to bicycle transmissions". BikeRadar. 30 April 2025. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Februarie 2026. Besoek op 31 Januarie 2026.
- ↑ "A beginners' guide to … a cycle's handlebars". Cycling UK. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Februarie 2026. Besoek op 31 Januarie 2026.
- ↑ J. M. Patterson; M. M. Jaggars; M. I. Boyer (2003). "Ulnar and median nerve palsy in long-distance cyclists. A prospective study". The American Journal of Sports Medicine. 31 (4): 585-589. doi:10.1177/03635465030310041801. PMID 12860549.
- ↑ "Guide to saddle comfort for women". Cycling UK. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Januarie 2026. Besoek op 31 Januarie 2026.
- ↑ "Bike Saddle Key Features". BiSaddle. 1 Desember 2023. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Maart 2026. Besoek op 31 Januarie 2026.
- ↑ Wade Wallace (1 Oktober 2013). "Disc Brakes and Road Bikes: What does the Future Hold?". CyclingTips. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Maart 2014. Besoek op 24 Februarie 2014.
- ↑ John Allen. "Disc Brakes". sheldonbrown.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Februarie 2014. Besoek op 24 Februarie 2014.
- ↑ "Fahrradtechnik im Überblick: In die Gänge kommen" (in Duits). Stiftung Warentest. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Februarie 2026.
- ↑ Brown, Sheldon. "Fixed Gear Conversions: Braking". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Februarie 2009. Besoek op 11 Februarie 2009.
- 1 2 "How Bike Suspension Works: A Guide for Every Type of Rider". 1 Julie 2025. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Januarie 2026. Besoek op 31 Januarie 2026.
- ↑ "The Best Road Bike Tire Size Isn't What You Think". Bicycling. 26 Maart 2026. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 April 2026. Besoek op 15 April 2026.
- ↑ Anderson, Finlay (5 April 2023). "What is a fat bike? Everything you need to know about fat-tyre bikes". BikeRadar. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 April 2026. Besoek op 15 April 2026.
- ↑ "A beginners' guide to … wheels on a cycle". Cycling UK. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Februarie 2026. Besoek op 31 Januarie 2026.
- ↑ Bluejay, Michael. "Safety Accessories". Bicycle Accessories. BicycleUniverse.info. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Oktober 2006. Besoek op 13 September 2006.
- ↑ Kathleen Bachynski; Alison Bateman-House (2020). "Mandatory Bicycle Helmet Laws in the United States: Origins, Context, and Controversies". American Journal of Public Health. 110 (8): 1198-1204. doi:10.2105/AJPH.2020.305718. PMC 7349454. PMID 32552017.
- ↑ "Best Bike Trainer". BicycleAdvisor. 2 Mei 2015. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Desember 2015. Besoek op 16 Desember 2015.
- ↑ "ISO/TC 149 - Cycles". ISO. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Februarie 2026. Besoek op 31 Januarie 2026.
- ↑ "Like falling off". New Scientist. Nr. 2581. 9 Desember 2006. p. 93. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Desember 2008. Besoek op 27 Januarie 2009.
- ↑ J. P. Meijaard; Jim M. Papadopoulos; Andy Ruina; A. L. Schwab (2007). "Linearized dynamics equations for the balance and steer of a bicycle: a benchmark and review". Proceedings of the Royal Society A. 463 (2084): 1955-1982. Bibcode:2007RSPSA.463.1955M. doi:10.1098/rspa.2007.1857. ISSN 1364-5021.
- ↑ Wilson, David Gordon; Jim Papadopoulos (2004). Bicycling Science (Derde uitg.). The MIT Press. pp. 270-272. ISBN 978-0-262-73154-6.
- ↑ Fajans, Joel (Julie 2000). "Steering in bicycles and motorcycles". American Journal of Physics. 68 (7): 654-659. Bibcode:2000AmJPh..68..654F. doi:10.1119/1.19504.
- ↑ Cossalter, Vittore (2006). Motorcycle Dynamics (Tweede uitg.). Lulu. pp. 241-342. ISBN 978-1-4303-0861-4.
- ↑ "Pedal power probe shows bicycles waste little energy". Johns Hopkins Gazette. 30 Augustus 1999. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Februarie 2005. Besoek op 20 Februarie 2005.
- ↑ Whitt, Frank R.; David G. Wilson (1982). Bicycling Science (Tweede uitg.). Massachusetts Institute of Technology. pp. 277-300. ISBN 978-0-262-23111-4.
- ↑ "Wirkungsgradmessung" (in Duits). Rohloff AG. 2024. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Februarie 2024. Besoek op 5 Februarie 2024.
- ↑ Ducastel, René (Oktober 1992). "Fietsen of lopen". Archimedes: Tijdschrift voor de natuurwetenschappen (in Nederlands). Vol. 32, nr. 1.
- 1 2 Max J. B. Rauck e.a. Mit dem Rad durch zwei Jahrhunderte (in Duits). p. 144.
- ↑ "Land: Men's 1 hour standing start (single rider)". WHPVA. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Mei 2026. Besoek op 3 Mei 2026.
- ↑ "Superieur nieuw werelduurrecord van 56.597 km" (in Nederlands). M5 Ligfietsen. 30 Mei 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Mei 2012.
- ↑ "Nederlandse studenten verpletteren wereldrecord: 133,78 km/h op de fiets, met tegenwind". Scientias (in Nederlands). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 November 2025.
- 1 2 "De hoogste snelheid ooit op een fiets gehaald is 268,83 km/h". Het Meesterbrein (in Nederlands). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Januarie 2019.
- ↑ "History Loudly Tells Why The Recumbent Bike Is Popular Today". 1 April 1934. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 November 2011. Besoek op 24 Oktober 2011.
- ↑ Fishman, Elliot (2 Januarie 2016). "Cycling as transport". Transport Reviews. 36 (1): 1-8. doi:10.1080/01441647.2015.1114271. ISSN 0144-1647.
- ↑ Grüner, Susanne (2022). Attraktive Radfahrrouten: Analyse der Routenwahlentscheidungen von Radfahrpendlern in den Dimensionen Sicherheit, Komfort und Effizienz (in Duits). Braunschweig: TU Braunschweig. doi:10.24355/dbbs.084-202202010927-0.
- ↑ M. Winters; M. Brauer; E. M. Setton; K. Teschke (2010). "Built environment influences on healthy transportation choices: bicycling versus driving". Journal of Urban Health. 87 (6): 969-993. doi:10.1007/s11524-010-9509-6. PMC 3005092. PMID 21174189.
- ↑ Susan Shaheen; Stacey Guzman; Hua Zhang (2010). "Bikesharing in Europe, the Americas, and Asia". Transportation Research Record. 2143: 159-167. doi:10.3141/2143-20.
- ↑ Susan Shaheen; Hua Zhang; Elliot Martin; Stacey Guzman (2011). "China's Hangzhou Public Bicycle" (PDF). Transportation Research Record. 2247: 33-41. doi:10.3141/2247-05. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 25 September 2026.
- ↑ Joel Broekaert; Reinier Kist (12 Februarie 2010). "So many bikes, so little space". NRC Handelsblad. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Februarie 2010. Besoek op 13 Februarie 2010.
- ↑ Calamur, Krishnadev (24 Oktober 2013). "In Almost Every European Country, Bikes Are Outselling New Cars". NPR. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Oktober 2013.
- ↑ Kindy, David (14 Junie 2022). "The Black Buffalo Soldiers Who Biked Across the American West". Smithsonian Magazine. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Julie 2023. Besoek op 8 Julie 2023.
- ↑ Verenigde Nasies. "World Bicycle Day". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Junie 2020. Besoek op 18 Mei 2020.
- ↑ "Community Bicycle Organizations". Bike Collective Network wiki. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Januarie 2013. Besoek op 15 Januarie 2013.
- ↑ "The ultimate guide to bike tyre pressure (PSI)". British Cycling. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Mei 2026. Besoek op 15 April 2026.
- ↑ Kaloc, Jiri (7 Mei 2024). "Maintenance: How Do I Know When to Replace My Bike Tires?". We Love Cycling. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 April 2026. Besoek op 15 April 2026.
- 1 2 Vaarwerk, Alan (13 April 2026). "Back on ya bike! How to keep your bicycle running smoothly and save amid the fuel crisis". The Guardian. ISSN 0261-3077. Besoek op 15 April 2026.
- ↑ Van Mead, Nick (3 Mei 2016). "Cycling: how to fix a puncture (even if you don't have the right tools)". The Guardian. Besoek op 13 November 2024.
- ↑ "Sheldon Brown: Flat tires". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Mei 2008. Besoek op 29 Mei 2008.
- ↑ "How bicycles transformed our world". National Geographic. 17 Junie 2020. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Desember 2024. Besoek op 25 Oktober 2024.
- ↑ Stoffers, Manuel (2022). "Chapter Two: The bicycle: Technology and culture". Advances in Transport Policy and Planning. 10: 7-26. doi:10.1016/bs.atpp.2022.04.002.
- ↑ Harald Schuster; Jolanda van der Noll; Anette Rohmann (November 2023). "Orientation towards the common good in cities: The role of individual urban mobility behavior". Journal of Environmental Psychology. 91 102125. doi:10.1016/j.jenvp.2023.102125.
- ↑ Fiona Rajé; Andrew Saffrey. The Value of Cycling (PDF). University of Birmingham. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 21 Oktober 2026.
- 1 2 Willard, Frances Elizabeth (1895). A Wheel Within a Wheel: How I Learned to Ride the Bicycle, with Some Reflections by the Way. Woman's Temperance Publishing Association. pp. 53, 56. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 September 2024.
- ↑ Roberts, Jacob (2017). "Women's work". Distillations. 3 (1): 6-11. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Maart 2018. Besoek op 22 Maart 2018.
- ↑ Husted Harper, Ida (1898). The life and work of Susan B. Anthony. Vol. 2. The Bowen-Merrill Company. p. 859.
- ↑ "6 Questions for Women's Bicycling Pioneer Georgena Terry". Velojoy. 4 Julie 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Maart 2021. Besoek op 14 Julie 2021.
- ↑ "Wilbur Wright Working in the Bicycle Shop". World Digital Library. 1897. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 September 2013. Besoek op 22 Julie 2013.
- 1 2 3 4 5 Norcliffe, Glen (2001). The Ride to Modernity: The Bicycle in Canada, 1869-1900. Toronto: University of Toronto Press. ISBN 978-0-8020-8205-3. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 November 2023.
- ↑ Babaian, Sharon (1998). The Most Benevolent Machine: A Historical Assessment of Cycles in Canada. Ottawa: National Museum of Science and Technology. pp. 97-98.
- ↑ "The Wrights' bicycle shop". 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Januarie 2007. Besoek op 5 Februarie 2007.
- ↑ Francois Bougo (26 Mei 2010). "Beijing looks to revitalise bicycle culture". Agence France-Presse. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Mei 2010.
- ↑ "Trade Map: List of exporters for the selected product (Bicycles and other cycles, incl. delivery tricycles, not motorised)". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 April 2020. Besoek op 7 Februarie 2020.
- ↑ Koeppel, Dan (2007). "Flight of the Pigeon". Bicycling. Vol. 48, nr. 1. Rodale. pp. 60-66. ISSN 0006-2073. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Mei 2013. Besoek op 28 Januarie 2012.
- ↑ Jones, Will (15 Maart 2022). "How are bicycles made? From mine to market". Cyclingnews. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Januarie 2026. Besoek op 11 Mei 2026.
- ↑ Dolci, Giovanni (2024). "Environmental impacts analysis of European and Chinese bicycle manufacturing". Environment, Development and Sustainability. 28 (7) 17311. doi:10.1007/s10668-024-05550-0.
- ↑ Fabian Sommer; Luca Brockmann; Manuel J. Steinbauer; Volker Audorff (Maart 2025). "Quantifying abrasion of microplastics from mountain bike tires". Science of the Total Environment. 969 178971. doi:10.1016/j.scitotenv.2025.178971. PMID 40024044.
- ↑ Rolf Bosboom (11 Februarie 2021). "E-bikes steeds vaker doelwit van fietsendief; Vlissingen is koploper". Algemeen Dagblad (in Nederlands). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Februarie 2021. Besoek op 11 Februarie 2021.
- ↑ Dea van Lierop; Maxwell Grimsrud; Ahmed El-Geneidy (2015). "Breaking into bicycle theft: Insights from Montreal, Canada" (PDF). International Journal of Sustainable Transportation. 9 (7): 490. doi:10.1080/15568318.2013.811332. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 1 Oktober 2015. Besoek op 30 September 2015.
- ↑ "Bike serial numbers". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Augustus 2017. Besoek op 2 Augustus 2017.
- ↑ Verenigde Nasies (8 November 1968). "General Provisions". Convention on Road Traffic (PDF). United Nations Conference on Road Traffic. p. 69. "argiefkopie" (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2026. Besoek op 7 Junie 2026.
{{Verwys web}}: VS1-onderhoud: bot: oorspronklike URL-status onbekend (link) - ↑ Arthurs-Brennan, Michelle (22 Maart 2019). "What can cyclists legally do, and not do, in Europe?". Cycling Weekly. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Maart 2024. Besoek op 1 Maart 2024.
- ↑ "Bicycle road rules". VicRoads. 1 Julie 2017. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Februarie 2023. Besoek op 28 Februarie 2023.
Sien ook
[wysig | wysig bron]Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Brown, Sheldon Geargiveer 4 Oktober 2026 op Wayback Machine (2005)
Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Fiets.
Wikiwoordeboek het 'n inskrywing vir fiets.