Luiperd
| Luiperd Tydperk: Sedert laat Plioseen of vroeë Pleistoseen | |
|---|---|
| 'n Luiperd (Panthera pardus) in die Serengeti-park, Tanzanië | |
| Wetenskaplike klassifikasie | |
| Koninkryk: | |
| Filum: | |
| Klas: | |
| Orde: | |
| Familie: | |
| Genus: | |
| Spesie: | P. pardus |
| Binomiale naam | |
| Panthera pardus Linnaeus, 1758 | |
| wêreldverspreiding | |
| Sinonieme | |
|
| |
Die luiperd (Panthera pardus), voorheen as bergtier of tier bekend,[2] is 'n spesie uit die katagtiges wat oor Afrika en Asië versprei is. Verder kom hy ook in Kaukasus en dus op die buitenste randgebied van Europa voor. Die luiperd is naas die tier, leeu en jaguar die vierde grootste grootkat. Die dier het 'n vaalgeel tot rooibruin pels met swart, rosetvormige kolle. 'n Melanistiese kleurvariëteit, die sogenaamde swart panter, word ook aangetref.
Die luiperd het die grootste verspreidingsgebied van alle groot katagtiges (genus Panthera) en is die algemeenste en wydsverspreidste grootkat. Sy voortbestaan word nietemin bedreig: op die IUBN-rooilys van Bedreigde Spesies word die spesie as kwesbaar geklassifiseer.[1]
Naamgewing
[wysig | wysig bron]Die wetenskaplike naam van die spesie is in 1758 as Felis pardus deur Carl Linnaeus in Systema Naturae gepubliseer.[3]
Die woord luiperd gaan terug op die Latynse leopardus, wat op sy beurt aan die Griekse λεόπαρδος, leopardos, ontleen is – 'n samestelling van λέων, leōn ("leeu"), en πάρδος, pardos ("panter"). Die woord het volksetimologies verander onder invloed van luip ("loer") en perd.[4]
Kenmerke
[wysig | wysig bron]Die luiperd is 'n groot, gespierde katagtige met kort, kragtige pote en 'n lang stert. Die kop is breed en effens rond van vorm, met klein, ronde ore, 'n middelgroot snuit, kragtige kake en lang snorbaarde. In vergelyking met byvoorbeeld die jagluiperd (Acinonyx jubatus) het die luiperd 'n groot kop, 'n dik nek en kort bene.
Luiperds verskil van streek tot streek wat kleur en grootte betref. Daar word verskeie subspesies onderskei, maar individuele verskille word so dikwels aangetref dat die indelings nie altyd betroubaar is nie. Die sogenaamde swart panter is byvoorbeeld vroeër as ʼn afsonderlike spesie beskou, maar ondersoeke het later aan die lig gebring dat die verskynsel aan melanisme (die oormatige deponering van melanien) toegeskryf kan word. Daar is oor die algemeen tog duidelike kleurverskille tussen luiperds: die grondkleur is gewoonlik vaalgeel, maar in Persië is dit grys en in Java rooibruin.
Die luiperds wat in Afrika aangetref word, se rosette is gewoonlik kleiner en nader aan mekaar as dié van die luiperds in Asië, terwyl luiperds in die Ooste se pelse oor die algemeen langer is as dié wat in Afrika voorkom.
Bou en grootte
[wysig | wysig bron]Die afmetings en massa van die luiperd wissel binne die groot verspreidingsgebied. Oor die algemeen is die boslewende luiperds meestal kleiner en meer gedronge, terwyl dié wat in oop ruimtes leef as 'n reël slanker en groter gebou is. Die luiperd word 90-190 cm lank, sonder die 60-110 cm lange stert ingereken; die totale lengte kan dus tot 3 m beloop, waarvan byna 1 m deur die stert in beslag geneem word.
Die mannetjies en wyfies lyk eenders, maar eersgenoemde is gewoonlik groter. Die luiperdmannetjies weeg ongeveer 40-90 kg en het 'n skouerhoogte van 70-80 cm; die gemiddelde skouerhoogte van die spesie is sowat 70 cm. Mannetjies het 'n kop-romplengte van 130 tot 190 cm en wyfies van 104 tot 140 cm. Die wyfies is omtrent die helfte so groot en weeg slegs ongeveer 30-60 kg. Jong wyfies het 'n skouerhoogte van 45 cm. Die luiperds wat in die Kaapse floraryk hou, soos die Kaapse luiperd (Panthera pardus melanotica), weeg dikwels slegs 20-30 kg. 'n Luiperd kan 'n snelheid van tot 58 km/h haal.
Die luiperd se beenkonstruksie is van so 'n aard dat dit die skok van 'n sprong baie goed kan absorbeer. Sy belangrikste wapens is sy geweldige sterk kake en vlymskerp kloue; daar is vyf kloue aan die voorpote en vier aan die agterpote.
Pelspatroon
[wysig | wysig bron]Die pelspatroon wissel dikwels baie van subspesie na subspesie, maar ook van individu na individu wat in dieselfde habitatgebied voorkom. Die luiperd het swart kolle aan die nek en voorpote, maar op die lyf is dit in rosette gegroepeer. Die pelsrosette is byna altyd in rye al met die rug langs gerangskik. Op die bors en laer hals word dikwels aarbeivormige rosetvlekke gevind wat saamsmelt om 'n kraag of "halsband" te vorm.
Op die bokant van die lang stert loop die rosette langs die middellyn voort. Die rosette word na die stertpunt toe al minder duidelik, maar kan soms tot etlike dwarsringe saamsmelt. Die onderkant van die stert is egter na die stertpunt toe baie lig tot wit. Die pens, die keel, die ken en die boonste binnekante van die bene is eweneens sonder rosette en wit, geelwit of in oorgaande grys gekleur. Verder na die pote heen is soliede vlekke te vinde, wat na onder al hoe kleiner word. Net so is op die kop en die boonste nek en hals slegs swart soliede vlekke aanwesig. Die ore is aan die agterkant swart, met 'n opvallende wit tekening in die middel. Die boslewende luiperds is oor die algemeen skerper gekleur as luiperds op die oop veld.
Die gevlekte pels dien as uitstekende kamoeflering: in bome en onder bosse smelt die luiperd se pels heeltemal met die skadukolle saam, sodat hy maklik onopgemerk kan bly.
Swartluiperds
[wysig | wysig bron]
Die grondkleur van die meeste diere is sandgeel of ligbruin, maar die kleur kan sterk wissel, van byna wit tot heeltemal swart. In die hoogliggende gebiede en reënwoude kom hierdie swart variëteit soms voor, wat bekend staan as die swartluiperd of panter. Dit is nie 'n afsonderlike spesie nie. Hierdie verskynsel van die swart (melanistiese) pels is oorerflik en word deur 'n enkele (monogenetiese) geen resessief oorgeërf.
Die genotipe van elke swartluiperd is, ongeag die subspesie, aa. By dié swart kleurvariëteit ontbreek die dominante agoeti-alleel A, sodat die patroon nie vertoon nie en die pels egalig bruinswart bly. Daarmee kan die erflike aanleg ook by 'n normaalgevlekte luiperd aanwesig wees, of dit kan in 'n werpsel swart kleintjies tussen normaalgevlekte welpies voorkom. Om so 'n swart variëteit voort te bring, verg baie inteling. Indien die dier dwarsweg of onder skuins lig waargeneem word, kan mens egter ook by swartluiperds die tipiese (hoewel dowwe) rosette raaksien: in sonlig is die "spook"-patroon van die agoeti-tekening nog vaagweg deur die swart pelskleur heen te sien.
In sommige gebiede, soos op die Maleisiese Skiereiland, is tot 50 persent van alle luiperds swart. In Afrika kom swartluiperds die meeste in die Ethiopiese Hoogland voor. In 2002 is 'n swartluiperd by die Kudu Game Ranch naby Lydenburg gefotografeer.[5] Aan die begin van 2019 is 'n swartluiperd deur die Britse fotograaf Will Burrard-Lucas in Kenia afgeneem; volgens die beriggewing daaroor was die vorige keer dat 'n swartluiperd in Afrika gefotografeer is in 1909 in Ethiopië.[6][7]
Sintuie
[wysig | wysig bron]Die ore is gerond. Die gehoorsintuig is uitstekend ontwikkel. Luiperds kan baie hoë (vir die mens onhoorbare) frekwensies van tot 45 000 hertz hoor, ook wanneer die geluide baie sag is. Die oë is na voor gerig en toon 'n breë oorvleueling van die gesigsveld. Dit skep vir hulle 'n uitstekende stereoskopiese visie.
Bedags is die gesigsvermoë ongeveer soortgelyk aan dié van 'n mens; snags kan die luiperd egter vyf tot ses keer beter sien: Luiperds kan die ronde pupille baie wyd oopmaak, sodat selfs swak lig die oog kan binnedring; verder besit luiperds soos alle katsoorte 'n weerkaatsende lagie agter die netvlies, die sogenaamde tapetum lucidum (kleurvlies), wat deur terugspieëling die ligopbrengs laat toeneem. Die reuksin is ook uitstekend ontwikkel, selfs beter as dié van die tier, hoewel die luiperd soos alle ander katagtiges hoofsaaklik op sy ore en oë staatmaak om te jag en die reuk hierin nie bepalend is nie.
Die snorbaarde en tashare (vibrissae) aan die voorpote is sensitief vir aanraking en van besondere belang wanneer die dier byvoorbeeld die grootte van 'n opening moet skat. Die snorbaarde verander van stand na gelang van wat die dier doen: wanneer hy loop, staan hulle sywaarts uitgesprei; wanneer hy snuffel, lê hulle na agter teen die kop; en wanneer hy 'n prooi aanval, is hulle na vore gerig, sodat hy op die regte plek kan toebyt.
Verspreiding en habitat
[wysig | wysig bron]
Die luiperd kom in Afrika voor, met uitsondering van die Sahara, en in die suide en ooste van Asië: onder meer in Klein-Asië, Turkye, Arabië, Persië, Kaukasië, Transkaukasië, die voormalige Sowjetunie, Siberië, Mantsjoerye, China, Korea, Indië, Sri Lanka, Maleisië, Java en Bali. In Suid-Afrika kom die luiperd in groot dele van die Kaapse en Natalse kusstreke en ook in dele van Gauteng voor. Gedurende die Pleistoseen en die Holoseen het die luiperd ook in Suid- en Suidoos-Europa voorgekom, moontlik tot ongeveer die begin van die westerse jaartelling.[8][9]
Die luiperd se leefplekke verskil sterk: van droë woestyne tot digte reënwoude, van koue naaldwoude tot tropiese savannes, en verder ook rotsagtige gebiede, grasland en hoë koue streke. Op die Kilimanjaro is selfs 'n dooie luiperd op 5 638 m hoogte gevind, wat doodgevries het. Die belangrikste maatstaf vir 'n goeie leefomgewing is die hoeveelheid voedsel wat beskikbaar is, en genoeg skuilplekke in die vorm van hoë plantegroei, bome of rotse is eweneens belangrik.
Vanweë sy aanpasbaarheid kon die luiperd die euwels wat 'n groeiende beskawing vir die diereryk inhou, beter as selfs die leeu oorleef. Daarom word luiperds nog in gebiede aangetref waar ander roofdiere lankal uitgeroei of verdryf is.
Subspesies
[wysig | wysig bron]Volgens die IUCN/SSC Cat Specialist Group word agt subspesies binne die spesie Panthera pardus onderskei:[10]
- Afrika-luiperd (P. p. pardus)
- Arabiese luiperd (P. p. nimr)
- Indochinese luiperd (P. p. delacouri)
- Indiese luiperd (P. p. fusca)
- Sri Lankaanse luiperd (P. p. kotiya)
- Javaanse luiperd (P. p. melas)
- Amoer-luiperd (P. p. orientalis)
- Anatoliese luiperd (P. p. tulliana), waaronder ook die Persiese luiperd gereken word
Vroeër is meer subspesies beskryf en gebruik, maar dié is onder meer deur navorsing oor mitochondriale DNS verwerp. Die swart panter is nie 'n aparte subspesie nie, maar 'n melanistiese kleurvariëteit van die pels wat in verskeie subspesies voorkom.
Lewenswyse
[wysig | wysig bron]Die luiperd is ʼn alleenlopende nagdier wat veral in die skemer en snags aktief is. Luiperds wat in gebiede woon waar hulle nie bedreig word nie, sal egter gedurende die dag ook jag. Andersins hou hulle bedags in bome of ander skuilplekke, soos digte struikgewas, en jag snags; bedags val hulle te veel op.
Die luiperd is nie 'n groepdier nie en die mannetjies en wyfies soek mekaar net gedurende die paartyd op. Elke luiperd hou gewoonlik by sy of haar bepaalde gebied ('n territorium), wat teen soortgenote verdedig word. Dié word afgebaken deur bome te reukmerk, sowel as met urine of ontlasting en krapmerke op bome. Die hougebied van 'n mannetjie is tipies baie groter as dié van 'n wyfie. Territoriums oorvleuel gereeld met dié van diere van die ander geslag, terwyl diere van dieselfde geslag mekaar vermy: vreemde mannetjies word nie in die gebied toegelaat nie en hewige gevegte vind soms tussen hulle plaas. Waar daar baie prooi is, is die territoriums kleiner; waar daar minder wild is, groter.
Voedsel en jag
[wysig | wysig bron]Die luiperd jaag hoofsaaklik middelgroot soogdiere soos antilope en ander boksoorte, herte, vlakvarke en ander varke en bobbejane, asook kleiner diere soos hase, ape, klipdassies, knaagdiere, voëls, slange, visse en insekte, en verder volstruise, honde en kleinerige roofdiere. Leeuwelpies wat alleen gelaat word en gedugte teenstanders soos ystervarke en jakkalse word ook gejag. Sommige luiperds spesialiseer in 'n bepaalde diersoort.
Vrugte, gras en eiers vul dikwels die dieet aan, en wanneer wild nie volop is nie, vorm vis net so 'n belangrike deel van die luiperd se dieet.
Die luiperd is bekend vir sy uitgeslape jagmetodes. Sommige navorsers skryf dit toe aan die feit dat die luiperd oor 'n redenasievermoë beskik. Daar word gesê dat die luiperd altyd, anders as die leeu, sy prooi teen die wind op bekruip.
Die luiperd se aanval is altyd onverwags. Wanneer hy nie sy prooi uit 'n boom bespring of by 'n watergat inwag nie, bekruip hy hom met sy pens laag op die grond totdat hy naby genoeg is om die prooi te bespring; soms lê die dier doodstil in 'n hinderlaag, gereed om te spring. Die luiperd byt dadelik die prooi se slagare af, maar soms is die trefslag van die sprong hard genoeg om die prooi dood te maak. Luiperds het blykbaar 'n voorkeur vir warm bloed, maar die ingewande bly onaangeraak.
Wanneer die luiperd werklik dors is, sal hy die inhoud van die blaas oplek. Die luiperd is 'n besonder netjiese vreter, en bestee baie sorg daaraan om geen bloed aan sy pels te kry nie. Hy begin gewoonlik eers aan die borskas en blaaie van sy prooi vreet en laat die boude vir laaste. Vanweë sy geweldige krag kan die luiperd maklik sy prooi tot in die mik van ʼn boom opsleep, waar hy dit buite bereik van ander roofdiere soos leeus en gevlekte hiënas vreet – dié sou dit andersins van hom steel.
Die luiperd keer herhaaldelik terug na die karkas en vreet tot net die vel oorbly. Die dier drink water nadat hy gevreet het, en sal slegs by uitsondering sy maaltyd onderbreek om water te gaan drink.
Voortplanting
[wysig | wysig bron]
Die mannetjies en wyfies kom net gedurende paartyd bymekaar; daar is egter nie 'n bepaalde paartyd nie. Wanneer die wyfie paargereed is, het haar urine 'n besondere reuk wat mannetjies aantrek. Sommige navorsers beweer dat luiperds lewenslank by een maat bly, maar ander meen dat luiperds met elke paartyd opnuut 'n maat gaan soek.
Die welpies word ná 'n dratyd van 93 tot 103 dae gebore. Hulle kom in 'n goed verskuilde plek ter wêreld, soos 'n grot, digte struikgewas of 'n ondergrondse gat, waar hulle die eerste ses weke verborge bly. Met geboorte weeg hulle 430 tot 530 gram en is hulle nog hulpeloos en klein.
ʼn Werpsel kan uit tot ses kleintjies bestaan, maar die gemiddelde aantal per werpsel wissel tussen twee en vier. Daar is 'n groot sterftesyfer onder jong luiperdwelpies omdat hulle dikwels alleen gelaat word wanneer die wyfie gaan jag of water drink, en hulle dan die prooi van ander roofdiere word. Die mannetjie versorg die wyfie vir 'n paar dae na die geboorte en dra kos aan, maar sy verwilder hom gou en versorg dan self die welpies. Dit gebeur soms dat die hele familie vir 'n onbepaalde tyd by mekaar bly, maar net in uitsonderlike gevalle.
Die welpies word blind gebore en hulle pelse is wollerig en nog nie duidelik gespikkel nie. Hulle oë gaan ná 'n paar dae oop en op vier maande word hulle gespeen. Aanvanklik verteer die wyfie eers die vleis vir die welpies, maar nadat hulle gespeen is, kan hulle reeds saam met die wyfie gaan jag. Die welpies verlaat die sorg van hul moeder wanneer hulle ongeveer een jaar oud is.
Jong luiperds is eers op 3-jarige ouderdom geslagsryp, en eers ná drie of vier jaar is hulle heeltemal volgroeid. Luiperds het 'n leeftyd van 23 tot 25 jaar.
Verhouding met die mens
[wysig | wysig bron]Die luiperd pas hom maklik aan en kan selfs in die onmiddellike nabyheid van die mens oorleef.
In die stad Mumbai, en ook in ander stede in Indië, kom luiperds toenemend binne die stadsgebied voor, wat soms tot gevaarlike situasies vir mens sowel as dier lei. Die stede het dikwels so ver uitgebrei dat hulle tot binne die oorspronklike habitat van dié katte strek. Die diere is daar nie net skadelik omdat hulle kleinvee vang nie, maar ook nuttig, omdat hulle onder meer in die stadsparke baie swerfhonde doodmaak en so tot 'n afname in die aantal hondsdolheidpasiënte bydra.[11]
Die voortbestaan van die luiperd word nietemin steeds bedreig. Luiperds is in September 1975 in Suid-Afrika tot beskermde diere van Afrika verklaar. Die maatreël moes ingevoer word omdat luiperds op groot skaal ter wille van hulle pelse gejag is en ook omdat hulle getalle in gebiede waar hulle 'n bedreiging vir veeboerdery was, drasties afgeneem het. Dit is veral die jag op die dier vir sy pels en die jag op en vergiftiging van luiperds en ander roofdiere deur veeboere wat die totale bevolking laat daal het. Op sommige plekke het die luiperd grotendeels verdwyn en verskeie subspesies word ernstig bedreig, waaronder die Amoer-luiperd – waarskynlik nie meer as vyftig volwasse eksemplare in Oos-Rusland, Noord-China en Noord-Korea nie – en die Javaanse luiperd.
Op die IUBN-rooilys van Bedreigde Spesies is luiperds in die assessering van 2008 nog as 'n byna-bedreigde spesie geklassifiseer;[12] in die assessering van 2023 word die spesie as kwesbaar gelys.[1]
Heraldiek
[wysig | wysig bron]In die heraldiek is 'n luiperd dieselfde as 'n gaande leeu: dié staan op drie pote, met een poot vorentoe gerig.
Fotogalery
[wysig | wysig bron]- 'n Seldsame swartluiperdpaar by die Rhino & Lion Natuurreservaat, Kromdraai, Suid-Afrika
- 'n Wyfie verlaat haar gunstelingboom waarin sy die warmste middagure verwyl het – Londolozi, Sabi Sand-wildreservaat, Suid-Afrika
- 'n Aanvallende jong luiperd in die Suid-Afrikaanse provinsie Gauteng.
- 'n Eenoog-luiperd in die Krugerwildtuin, Suid-Afrika
- 'n Javaanse luiperd met kenmerkende rooibruin pels
Sien ook
[wysig | wysig bron]Bronnelys
[wysig | wysig bron]- Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0908409583, volume 17, bl. 176
- Soogdiere van die Krugerwildtuin en ander Nasionale Parke (1979). Saamgestel deur Die Nasionale Parkeraad. 'n Publikasie van die Raad van Kuratore vir Nasionale Parke van die Republiek van Suid-Afrika. ISBN 0-86953-027-5.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- 1 2 3 (en) Panthera pardus op die IUBN-rooilys van Bedreigde Spesies. Assessering van 2023.
- ↑ (af) C.S. Grobbelaar. 1959. Soogdiere: Die Vleisetende Roofdiere in: C.F. Albertyn e.a. Die Afrikaanse Kinderensiklopedie Deel VI. Bl. 2526: … op die lys is daardie groot kat met swart spikkels wat ons in Suid-Afrika die tier noem. Ons sit 'n bietjie opgeskeep met hierdie naam wat ons voorgeslagte vir hom gegee het... Maar nou die naam! Baie mense noem hom bergtier. Hierdie tier van ons kom oor die hele Afrika en in Indië voor. In Indië waar die Hindoes baie meer las van hom het as ons, noem die inboorlinge hom die cheta-bagh, d.w.s. die 'gespikkelde tier'...Dierkundiges wil hê ons moet hom die luiperd noem. Hulle is so gewoond daaraan om die name van diere te verander dat hulle nie kan insien waarom ons aan die ou volksnaam wil kleef nie. Om verwarring te voorkom sal ons hom maar in die vervolg bergtier (luiperd) noem, hoewel hy nog altyd in die volksmond bekend sal staan as die 'tier' . Op bl. 2531 staan (met verwysing na die jaguar): Hy is die Westelike Halfrond se grootste kat. Hierdie groot, swaar kat van by die agt voet en byna 250 pond en met die volmaakte toerusting van 'n roofdier is 'n ware tiran in die hele Suid-Amerikaanse dierewêreld. Hulle noem hom daar ook 'el tigre', die tier. Dit lyk of elke wêrelddeel maar graag 'n tier wil hê: ons in Suid-Afrika noem ons groot, swart, gespikkelde kat ook die 'tier'
- ↑ (la) Linnaeus, C. (1758). Systema naturae ed. 10: 41. Geargiveer 8 Desember 2023 op Wayback Machine
- ↑ (nl) Vries, J. de en Tollenaere, F. de, Nederlands etymologisch woordenboek, vierde druk 1997, Koninklijke Brill, Leiden
- ↑ (af) Swartluiperds veilig bewaar. Beeld. 24 April 2002.[dooie skakel]
- ↑ (nl) "Afrikaanse zwarte luipaard voor het eerst in meer dan eeuw gefotografeerd". NOS. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Oktober 2023.
- ↑ (en) Pilfold, Nicholas W.; Letoluai, Ambrose; Ruppert, Kirstie; Glikman, Jenny A.; Stacy-Dawes, Jenna (29 Januarie 2019). "Confirmation of black leopard (Panthera pardus pardus) living in Laikipia County, Kenya". African Journal of Ecology. 57 (2): 270-273. doi:10.1111/aje.12586. ISSN 0141-6707. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Oktober 2020.
- ↑ (en) "Extinct European Leopard Remains Discovered". dalje.com. 12 September 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Desember 2012. Besoek op 7 September 2011.
- ↑ (en) Darren Naish (12 Maart 2008). "Europe, where the sabre-tooths, lions and leopards are". Tetrapod Zoology. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Augustus 2011. Besoek op 7 September 2011.
- ↑ (en) A revised taxonomy of the Felidae (pdf). Cat News Special Issue 11. IUCN/SSC Cat Specialist Group. Geargiveer 8 April 2024 op Wayback Machine
- ↑ (en) How City-Dwelling Leopards Improve Human Health, National Geographic (9 Maart 2018). Geargiveer 23 Julie 2019 op Wayback Machine
- ↑ (en) Breitenmoser, U., Breitenmoser-Wursten, C., Henschel, P. & Hunter, L. (2008). Panthera pardus. 2008 IUBN Rooi Lys van bedreigde spesies. Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur 2008. Verkry op 9 Oktober 2008.
Verdere leeswerk
[wysig | wysig bron]- Jordaan, Aletta: Skone ondier. In: Conserva. Departement van Omgewingsake. Deel 4, nr. 2, Maart 1989
- (en) Allsen, Thomas T. (2007). "Natural History and Cultural History: The Circulation of Hunting Leopards in Eurasia, Seventh-Seventeenth Centuries". In Mair, Victor H. (red.). Contact and Exchange in the Ancient World. Honolulu: University of Hawai'i Press. pp. 116-135. ISBN 978-0-8248-2884-4.
- (en) Khalaf-von Jaffa, Norman Ali Bassam Ali Taher (Junie 2005). "The Arabian Leopard (Panthera pardus nimr)". Gazelle: the Palestinian Biological Bulletin (in Duits) (42) (42 uitg.): 1-8.
- (en) Khalaf-Sakerfalke von Jaffa, Norman Ali Bassam Ali Taher (Desember 2006). "The Chinese leopard (Panthera pardus japonensis, Gray 1862) in Neunkirchen Zoo, Neunkirchen, Saarland, Duitsland". Gazelle: the Palestinian Biological Bulletin (60): 1-10.
- (en) "Wild Cats. Status Survey and Conservation Action Plan" (PDF). Gland, Switserland: IUCN/SSC Cat Specialist Group. 1996. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 11 Oktober 2026.
{{Verwys web}}: Onbekende parameter|editors=geïgnoreer (|editor=voorgestel) (hulp) - (en) Partridge, Eric (1983). Origins: a Short Etymological Dictionary of Modern English. New York: Greenwich House. ISBN 0-517-41425-2.
- (en) Schaller, George B. (1972). The Serengeti Lion. Chicago: University of Chicago Press. ISBN 0-226-73639-3.
- (en) DeRuiter, D. J.; Berger, L. R. (2000). "Leopards as Taphonomic Agents in dolomitic Caves—Implications for bone Accumulations in the Hominid-bearing Deposits of South Africa". Journal of Archaeological Science. 27 (8): 665-684. doi:10.1006/jasc.1999.0470.
- (en) Sanei, A. (2007). Analysis of leopard (Panthera pardus) status in Iran (in Persies). Teheran: Sepehr Publication Center. ISBN 978-964-6123-74-8.
- (en) Sanei, A.; Zakaria, M.; Yusof, E.; and Roslan, M. (2011). "Estimation of leopard population size in a secondary forest within Malaysia's capital agglomeration using unsupervised classification of pugmarks" (PDF). Tropical Ecology. 52 (1): 209-217. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 25 April 2012. Besoek op 29 Oktober 2012.
{{Verwys vaktydskrif}}: VS1-onderhoud: meer as een naam (link) - (en) P., Taylor; Barrientos, Stephanie; Dolan, Catherine (2005). Beyond Conservation: A Wildland Strategy. Earthscan. ISBN 1-84407-197-9.
- (en) Zakaria, M.; Sanei, A. (2011). "Conservation and management prospects of the Persian and Malayan leopards". Asia Life Sciences. Supplement 7: 1-5.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]| Sien luiperd in Wiktionary, die vrye woordeboek. |
Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Luiperd.
Wikispecies het meer inligting verwant aan Luiperd
| Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Duitse Wikipedia vertaal. |
| Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Nederlandse Wikipedia vertaal. |