Gaan na inhoud

Oneindigheid

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die simbool vir oneindigheid.

Oneindigheid (simbool: ∞) is ’n begrip wat iets sonder grense of iets groters as enige natuurlike getal beskryf. Dit staan teenoor eindigheid, iets wat wel 'n einde of grense het.

Filosowe spekuleer al sedert die antieke Grieke oor die aard van oneindigheid. Met die koms van die oneindigheidsimbool en die infinitesimaalrekening in die 17de eeu het wiskundiges met oneindige reekse begin werk, maar dit het lank onduidelik gebly of oneindigheid as 'n getal of 'n grootheid beskou kan word.[1] Georg Cantor het aan die einde van die 19de eeu oneindige versamelings en oneindige getalle voorgestel en studeer, en getoon dat hulle verskillende groottes kan hê;[1][2] so is die getal punte op 'n lyn groter as die getal heelgetalle.[3] Oneindigheid is nou ’n noodsaaklike deel van die grondbeginsels van wiskunde: die oneindigheidsaksioma van die Zermelo-Fraenkel-versamelingsleer, waarop die meeste van die moderne wiskunde gebou kan word, waarborg dat oneindige versamelings bestaan.[1] Die begrip oneindigheid word ook in fisika en ander wetenskappe gebruik, en in die kosmologie is dit 'n oop vraag of die heelal ruimtelik oneindig is.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Antieke kulture het verskillende opvattings oor die aard van oneindigheid gehad. Die antieke Indiërs en Grieke het oneindigheid nie soos die moderne wiskunde formeel gedefinieer nie, maar dit as 'n filosofiese begrip benader.

Antieke Griekeland

[wysig | wysig bron]

Die vroegste opgetekende idee van oneindigheid in Griekeland is moontlik dié van Anaximander (omstreeks 610 tot omstreeks 546 v.C.), 'n voorsokratiese filosoof. Hy het die woord apeiron gebruik, wat "onbegrens" of "onbepaald" beteken en moontlik met "oneindig" vertaal kan word.[1][4]

Aristoteles (350 v.C.) het potensiële oneindigheid van aktuele oneindigheid onderskei. Laasgenoemde het hy weens die paradokse wat dit skynbaar oplewer, vir onmoontlik gehou.[5] Daar is aangevoer dat die Hellenistiese Grieke in ooreenstemming met dié siening 'n "afsku van die oneindige" gehad het.[6][7] Dit sou byvoorbeeld verklaar waarom Euklides (omstreeks 300 v.C.) nie gesê het dat daar oneindig veel priemgetalle is nie, maar wel dat "priemgetalle meer is as enige gegewe menigte priemgetalle".[8] Ander meen weer dat Euklides met sy bewys dat daar oneindig veel priemgetalle is, "die eerste was wat die afsku van die oneindige oorkom het".[9]

'n Soortgelyke meningsverskil bestaan oor Euklides se parallelpostulaat, wat soms so vertaal word:

As 'n reguit lyn wat oor twee [ander] reguit lyne val, aan dieselfde kant [van homself] binnehoeke maak [waarvan die som] kleiner as twee regte hoeke is, sal die twee [ander] reguit lyne, wanneer hulle tot in die oneindige verleng word, mekaar aan dié kant [van die oorspronklike reguit lyn] ontmoet waar [die som van die binnehoeke] kleiner as twee regte hoeke is.[10]

Ander vertalers verkies "die twee reguit lyne, indien onbepaald verleng ...",[11] en vermy so die implikasie dat Euklides met die begrip oneindigheid gemaklik was. Daar is ook aangevoer dat 'n besinning oor oneindigheid, eerder as 'n afsku daarvan, aan die hele vroeë Griekse filosofie ten grondslag gelê het, en dat Aristoteles se "potensiële oneindigheid" 'n afwyking van die algemene neiging van dié tyd was.[12]

Zenon: Achilles en die skilpad

[wysig | wysig bron]

Zenon van Elea (omstreeks 490-430 v.C.) was ’n Griekse filosoof van Suid-Italië wat baie paradokse voorgestel het wat op oneindigheid betrekking het. Self het hy geen standpunt oor die oneindige ingeneem nie, maar sy paradokse, veral dié van Achilles en die skilpad, was belangrike bydraes omdat hulle die tekortkominge van die gangbare opvattings blootgelê het.[13] Bertrand Russell het hulle "onmeetlik subtiel en diepsinnig" genoem.[14]

Achilles hardloop teen 'n skilpad en gee dit 'n voorsprong. Teen die tyd dat Achilles die skilpad se beginpunt bereik, het die skilpad al verder gekruip; teen die tyd dat hy dáár kom, is die skilpad weer 'n entjie verder, en dit herhaal hom eindeloos. Skynbaar haal Achilles die skilpad dus nooit in nie, want hoeveel stappe hy ook al voltooi, die skilpad is hom altyd 'n entjie voor.

Eers in 1821 het Augustin-Louis Cauchy 'n bevredigende definisie van 'n limiet gegee, saam met 'n bewys dat vir 0 < x < 1:[15] a+ax+ax2+ax3+ax4+ax5+⋯=a1−x.

Gestel Achilles hardloop teen 10 m/s, die skilpad kruip teen 0,1 m/s en dit het 'n voorsprong van 100 m. Die duur van die jaagtog volg dan Cauchy se patroon met a = 10 sekondes en x = 0,01. Achilles haal die skilpad wel in, en dit neem hom

10+0,1+0,001+0,00001+⋯=101−0,01=100,99=10,10101… sekondes.

Antieke Indië

[wysig | wysig bron]

Die Jain-wiskundige teks Surya Prajnapti (4de of 3de eeu v.C.) deel alle getalle in drie versamelings in: telbaar, ontelbaar en oneindig. Elkeen hiervan word weer in drie ordes onderverdeel:[16]

  • telbaar: laagste, middelste en hoogste;
  • ontelbaar: byna ontelbaar, waarlik ontelbaar en ontelbaar ontelbaar;
  • oneindig: byna oneindig, waarlik oneindig en oneindig oneindig.

17de eeu

[wysig | wysig bron]

In die 17de eeu het Europese wiskundiges stelselmatig met oneindige getalle en oneindige uitdrukkings begin werk. John Wallis het in 1655 in sy De sectionibus conicis die eerste keer die notasie ∞ vir so 'n getal gebruik,[17][18][19] en dit in oppervlakteberekenings benut deur die gebied in infinitesimale strokies met 'n breedte in die orde van 1∞ te verdeel.[20] In Arithmetica infinitorum (1656)[21] dui hy oneindige reekse, oneindige produkte en oneindige kettingbreuke egter aan deur 'n paar terme of faktore neer te skryf en dan "&c." by te voeg, soos in "1, 6, 12, 18, 24, &c."[22]

Isaac Newton het in 1699 in sy werk De analysi per aequationes numero terminorum infinitas oor vergelykings met 'n oneindige getal terme geskryf.[23]

Simbool

[wysig | wysig bron]

Die oneindigheidsimbool ∞, soms die lemniskaat genoem, is 'n wiskundige simbool wat die begrip oneindigheid voorstel. Dit is in Unicode as U+221E (&#8734;)[24] en in LaTeX as \infty gekodeer.[25]

Sedert sy invoering word die simbool ook buite die wiskunde gebruik, in die moderne mistiek[26] en as letterkundige simbool.[27]

Calculus

[wysig | wysig bron]

Gottfried Wilhelm Leibniz, een van die grondleggers van die infinitesimaalrekening, het breedvoerig oor oneindige getalle en hul gebruik in die wiskunde gespekuleer. Vir Leibniz was infinitesimale sowel as oneindige groothede ideale entiteite, nie van dieselfde aard as meetbare groothede nie, maar met dieselfde eienskappe volgens die wet van kontinuïteit.[28][29] Ook wiskundiges soos l'Hôpital en Johann Bernoulli het met oneindig klein groothede gewerk.[29]

Reële analise

[wysig | wysig bron]

In die reële analise dui die simbool ∞, "oneindig" genoem, 'n onbegrensde limiet aan.[30] Dit is self nie 'n reële getal nie. Die notasie x→∞ beteken dat x onbegrens toeneem, en x→−∞ dat x onbegrens afneem. As f(t)≥0 byvoorbeeld vir elke t geld, dan beteken[31]

  • ∫abf(t)dt=∞ dat f(t) nie 'n eindige oppervlakte van a tot b begrens nie;
  • ∫−∞∞f(t)dt=∞ dat die oppervlakte onder f(t) oneindig is;
  • ∫−∞∞f(t)dt=a dat die totale oppervlakte onder f(t) eindig en gelyk aan a is.

Oneindigheid word ook gebruik om oneindige reekse te beskryf:

  • ∑i=0∞f(i)=a beteken dat die som van die oneindige reeks na 'n reële waarde a konvergeer;
  • ∑i=0∞f(i)=∞ beteken dat die som van die reeks na oneindig divergeer, in die sin dat die parsiële somme onbegrens toeneem.[32]

Behalwe om 'n limiet te definieer, kan oneindigheid ook as 'n waarde in die uitgebreide reëlegetallestelsel dien. Punte met die name +∞ en −∞ kan by die topologiese ruimte van die reële getalle gevoeg word, wat die tweepunt-kompaktifikasie van die reële getalle oplewer. As algebraïese eienskappe daarby gevoeg word, kry 'n mens die uitgebreide reële getalle.[33] 'n Mens kan +∞ en −∞ ook as dieselfde punt behandel, wat die eenpunt-kompaktifikasie van die reële getalle gee: die reële projektiewe lyn.[34] Die projektiewe meetkunde werk eweneens met 'n lyn in die oneindige in die platvlakmeetkunde, 'n vlak in die oneindige in die driedimensionele ruimte en 'n hipervlak in die oneindige vir hoër dimensies, wat elk uit punte in die oneindige bestaan.[35]

Komplekse analise

[wysig | wysig bron]
Deur stereografiese projeksie kan die komplekse vlak om 'n sfeer "gedraai" word, met die boonste punt van die sfeer wat met oneindigheid ooreenstem. Dit word die Riemann-sfeer genoem.

In die komplekse analise dui die simbool ∞ 'n limiet sonder teken aan. Die uitdrukking x→∞ beteken dat die grootte |x| van x bo enige gegewe waarde uitstyg. 'n Punt met die naam ∞ kan by die komplekse vlak as topologiese ruimte gevoeg word, wat die eenpunt-kompaktifikasie van die komplekse vlak oplewer. Die ruimte wat so ontstaan, is 'n eendimensionele komplekse menigvuldigheid of Riemann-oppervlak, wat die uitgebreide komplekse vlak of die Riemann-sfeer genoem word.[36]

Nie-standaardanalise

[wysig | wysig bron]
Infinitesimale (ε) en oneindighede (ω) op die hiperreële getallelyn (1/ε = ω/1)

Newton en Leibniz se oorspronklike formulering van die infinitesimaalrekening het infinitesimale groothede gebruik. In die tweede helfte van die 20ste eeu is getoon dat dié benadering met behulp van verskeie logiese stelsels, onder meer gladde infinitesimale analise en nie-standaardanalise, 'n streng grondslag kan kry. In laasgenoemde is infinitesimale omkeerbaar, en hul omgekeerdes is oneindige getalle. Die oneindighede in dié sin is deel van die liggaam van hiperreële getalle; anders as by Cantor se transfiniete getalle is hulle nie aan mekaar gelyk nie. As H byvoorbeeld in dié sin 'n oneindige getal is, is H + H = 2H en H + 1 verskillende oneindige getalle. Dié benadering tot die calculus word volledig deur Keisler (1986) uitgewerk.

Versamelingsleer

[wysig | wysig bron]
Een-tot-een-ooreenkoms tussen 'n oneindige versameling en 'n egte deelversameling daarvan

'n Ander vorm van oneindigheid is die ordinale en kardinale oneindighede van die versamelingsleer, 'n stelsel van transfiniete getalle wat Georg Cantor eerste ontwikkel het. Hierin is alef-nul (ℵ0), die kardinaliteit van die versameling natuurlike getalle, die eerste transfiniete kardinaalgetal. Dié moderne wiskundige opvatting van die kwantitatiewe oneindige het aan die einde van die 19de eeu uit die werk van Cantor, Gottlob Frege, Richard Dedekind en ander ontstaan, gebaseer op die idee van versamelings.[1]

Dedekind het in wese die een-tot-een-ooreenkoms as maatstaf aanvaar om die grootte van versamelings te vergelyk, en die siening van Galileo (wat van Euklides afkomstig is) verwerp dat die geheel nie so groot soos die deel kan wees nie. 'n Oneindige versameling kan eenvoudig gedefinieer word as een wat ewe groot is as ten minste een van sy egte deelversamelings. Die diagram hierby gee 'n voorbeeld: as lyne as oneindige versamelings punte beskou word, kan die linkerhelfte van die onderste blou lyn een-tot-een (groen) op die boonste blou lyn afgebeeld word, en dié weer (rooi) op die hele onderste blou lyn. Die hele onderste lyn en sy linkerhelfte het dus dieselfde kardinaliteit, oftewel "grootte".[37]

Cantor het twee soorte oneindige getalle gedefinieer: ordinaalgetalle, wat welgeordende versamelings kenmerk, en kardinaalgetalle, wat die grootte van versamelings aandui. 'n Versameling wat ewe groot is as die positiewe heelgetalle, is aftelbaar oneindig; een wat te groot is om een-tot-een met die positiewe heelgetalle in verband gebring te word, is ontelbaar. Cantor se stelling bewys verder dat daar geen grootste kardinaalgetal bestaan nie: vir elke oneindige versameling is daar 'n groter een. Cantor het verklaar dat die versameling van alle versamelings 'n onvergrootbare absolute oneindigheid het, wat hy met God gelykgestel het.[38][39] Hoewel Cantor se sienings aanvanklik omstrede was, het hulle die oorhand gekry, en die moderne wiskunde aanvaar aktuele oneindigheid as deel van 'n konsekwente en samehangende teorie.[40]

Sedert Cantor is die teorie van ordinaal- en kardinaalgetalle verder ontwikkel, en groot aftelbare ordinaalgetalle en groot kardinaalgetalle is 'n onderwerp van navorsing in die wiskundige logika.[41]

Kardinaliteit van die kontinuum

[wysig | wysig bron]

Een van Cantor se belangrikste resultate was dat die kardinaliteit van die kontinuum 𝐜 groter is as dié van die natuurlike getalle ℵ0; daar is met ander woorde meer reële getalle R as natuurlike getalle N. Cantor het naamlik getoon dat 𝐜=2ℵ0>ℵ0.[42]

Die kontinuumhipotese stel dat daar geen kardinaalgetal tussen die kardinaliteit van die reële getalle en dié van die natuurlike getalle is nie (𝐜=ℵ1=ℶ1). Dié hipotese kan binne die algemeen aanvaarde Zermelo-Fraenkel-versamelingsleer nie bewys of weerlê word nie, selfs as die keusaksioma aanvaar word.[43]

Die eerste drie stappe van 'n fraktale konstruksie waarvan die limiet 'n ruimtevullende kromme is. Dit toon dat daar ewe veel punte op 'n eendimensionele lyn as in 'n tweedimensionele vierkant is.

Met kardinaalrekenkunde kan getoon word dat 'n reële getallelyn net soveel punte bevat as enige segment van dié lyn, en ook net soveel as 'n vlak en selfs enige eindigdimensionele ruimte.[44] Die eerste resultaat blyk byvoorbeeld uit die tangensfunksie, wat 'n een-tot-een-ooreenkoms tussen die interval (−π/2, π/2) en R gee. Die tweede het Cantor in 1878 bewys, maar dit het eers in 1890 aanskoulik geword toe Giuseppe Peano die ruimtevullende krommes ingevoer het: krommes wat genoeg draai en kronkel om die hele vierkant, kubus, hiperkubus of eindigdimensionele ruimte te vul. Met dié krommes kan 'n een-tot-een-ooreenkoms tussen die punte op een sy van 'n vierkant en die punte in die vierkant gedefinieer word.[45]

Meetkunde

[wysig | wysig bron]
Die Sierpiński-driehoek bevat oneindig veel (verkleinde) kopieë van homself.

Die struktuur van 'n fraktaal herhaal homself in elke vergroting. Fraktale behou hul struktuur, hoe ver hulle ook al vergroot word, en word nooit "glad" nie; hulle het oneindige omtrekke en kan 'n oneindige of eindige oppervlakte hê. Een so 'n fraktale kromme met 'n oneindige omtrek en 'n eindige oppervlakte is die Koch-sneeuvlok.[46]

Finitisme

[wysig | wysig bron]

Leopold Kronecker was in die 1870's en 1880's skepties oor die begrip oneindigheid en oor die manier waarop sy kollegas dit gebruik het. Uit dié skeptisisme het die wiskundige filosofie van die finitisme gegroei, 'n uiterste vorm van die filosofiese en wiskundige skole van die konstruktivisme en die intuïsionisme.[47]

Logika

[wysig | wysig bron]

In die logika is 'n argument van oneindige regressie "'n kenmerkend filosofiese soort argument wat wil toon dat 'n tesis gebrekkig is omdat dit 'n oneindige reeks voortbring, terwyl (vorm A) so 'n reeks nie bestaan nie, of (vorm B) die tesis, sou so 'n reeks wel bestaan, nie die rol (byvoorbeeld van regverdiging) sou vervul wat dit veronderstel is om te speel nie".[48]

Toepassings

[wysig | wysig bron]

Fisika

[wysig | wysig bron]

In die fisika word benaderings van reële getalle vir kontinue metings gebruik, en natuurlike getalle vir diskrete metings (tellings). Begrippe soos 'n oneindige vlakgolf bestaan, maar daar is geen eksperimentele manier om so iets voort te bring nie.[49]

Kosmologie

[wysig | wysig bron]

Die eerste gepubliseerde voorstel dat die heelal oneindig is, het in 1576 van Thomas Digges gekom.[50] Agt jaar later, in 1584, het die Italiaanse filosoof en sterrekundige Giordano Bruno in Oor die oneindige heelal en wêrelde 'n onbegrensde heelal voorgestel: "Ontelbare sonne bestaan; ontelbare aardes draai om dié sonne soos die sewe planete om ons son draai. Lewende wesens bewoon dié wêrelde."[51]

Kosmoloë probeer al lank vasstel of oneindigheid in die fisiese heelal bestaan: Is daar oneindig veel sterre? Het die heelal 'n oneindige volume? Strek die ruimte eindeloos ver? Dit is steeds 'n oop vraag in die kosmologie. Of iets oneindig is, is logies 'n ander vraag as of dit grense het. Die tweedimensionele oppervlak van die Aarde is byvoorbeeld eindig, maar het geen rand nie: wie in 'n reguit lyn langs die aarde se kromming reis, kom uiteindelik weer presies by sy beginpunt uit. Die heelal kan, ten minste in beginsel, 'n soortgelyke topologie hê, sodat 'n mens na 'n lang genoeg reis in 'n reguit lyn deur die heelal by jou beginpunt sou terugkom.[52]

Die kromming van die heelal kan aan die hand van multipoolmomente in die spektrum van die kosmiese mikrogolfagtergrondstraling gemeet word. Die ontleding van die stralingspatrone wat die ruimtetuig WMAP opgeteken het, dui daarop dat die heelal 'n plat topologie het, wat met 'n oneindige fisiese heelal strook.[53][54][55] Die heelal kan egter eindig wees, selfs al is sy kromming plat. Tweedimensionele voorbeelde maak dit maklik om te verstaan, soos videospeletjies waarin voorwerpe wat by die een kant van die skerm verdwyn, aan die ander kant weer verskyn: die topologie van sulke speletjies is torusvormig en die meetkunde plat. Vir die driedimensionele ruimte bestaan daar ook baie moontlikhede wat begrens en plat is.[56]

Die begrip oneindigheid strek ook tot die hipotese van die multiversum, wat volgens astrofisici soos Michio Kaku veronderstel dat daar oneindig veel en oneindig verskillende heelalle is.[57] Sikliese modelle veronderstel weer 'n oneindige getal Oerknalle, met 'n oneindige verskeidenheid heelalle ná elke oerknal in 'n oneindige siklus.[58]

Rekenaarwetenskap

[wysig | wysig bron]

Die IEEE 754-standaard vir dryfpuntgetalle spesifiseer 'n positiewe en 'n negatiewe oneindigheidswaarde, asook onbepaalde waardes. Dié word gedefinieer as die resultaat van oorloop, deling deur nul en ander uitsonderlike bewerkings.[59] Sommige programmeertale, soos Java[60] en J,[61] gee die programmeerder direkte toegang tot die positiewe en negatiewe oneindigheidswaardes as konstantes van die taal.

Kuns en spele

[wysig | wysig bron]

Perspektief in die kuns maak gebruik van verdwynpunte, wat rofweg met die wiskundige punte in die oneindige ooreenstem en op 'n oneindige afstand van die toeskouer lê. Dit stel kunstenaars in staat om ruimte, afstande en vorms realisties uit te beeld.[62] Die kunstenaar M.C. Escher is veral bekend vir sy gebruik van oneindigheid in sy werk, op dié en ander maniere.[63]

Variante van skaak wat op 'n onbegrensde bord gespeel word, staan as oneindige skaak bekend.[64][65]

Die kognitiewe wetenskaplike George Lakoff beskou die begrip oneindigheid in die wiskunde en die wetenskappe as 'n metafoor. Dié siening berus op die basiese metafoor van oneindigheid, gedefinieer as die eindeloos stygende ry <1, 2, 3, …>.[66]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1 2 3 4 5 Allen, G Donald (2003). "3 The Emergence of Calculus". The History of Infinity (PDF). Texas A&M University Department of Mathematics. p. 7. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 1 Augustus 2020. Besoek op 15 November 2019.
  2. ↑ Gowers, Timothy; Barrow-Green, June; Leader, Imre (2008). The Princeton Companion to Mathematics. Princeton University Press. p. 616. ISBN 978-0-691-11880-2. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Junie 2016. Extract of page 616 Geargiveer 1 Mei 2016 op Wayback Machine
  3. ↑ Maddox 2002, pp. 113-117
  4. ↑ Wallace 2004, p. 44
  5. ↑ Aristotle. Physics. Vertaal deur Hardie, R. P.; Gaye, R. K. The Internet Classics Archive. Book 3, Chapters 5-8.
  6. ↑ Goodman, Nicolas D. (1981). "Reflections on Bishop's philosophy of mathematics". In Richman, F. (red.). Constructive Mathematics. Lecture Notes in Mathematics. Vol. 873. Springer. pp. 135-145. doi:10.1007/BFb0090732. ISBN 978-3-540-10850-4.
  7. ↑ Maor 1991, p. 3
  8. ↑ Sarton, George (Maart 1928). "The Thirteen Books of Euclid's Elements. Thomas L. Heath, Heiberg". Isis. 10 (1): 60-62. doi:10.1086/346308. ISSN 0021-1753 – via The University of Chicago Press Journals.
  9. ↑ Hutten, Ernest Hirschlaff (1962). The origins of science; an inquiry into the foundations of Western thought (in Engels). Internet Archive. London, Allen and Unwin. pp. 1-241. Besoek op 9 Januarie 2020.
  10. ↑ Euclid (2008) [c. 300 BC]. Euclid's Elements of Geometry (PDF). Vertaal deur Fitzpatrick, Richard. Lulu.com. p. 6 (Book I, Postulate 5). ISBN 978-0-6151-7984-1.
  11. ↑ Heath, Sir Thomas Little; Heiberg, Johan Ludvig (1908). The Thirteen Books of Euclid's Elements. Vol. v. 1. The University Press. p. 212.
  12. ↑ Drozdek, Adam (2008). In the Beginning Was the Apeiron: Infinity in Greek Philosophy. Stuttgart, Germany: Franz Steiner Verlag. ISBN 978-3-515-09258-6.
  13. ↑ "Zeno's Paradoxes". Stanford University. 15 Oktober 2010. Besoek op 3 April 2017.
  14. ↑ Russell 1996, p. 347
  15. ↑ Cauchy, Augustin-Louis (1821). Cours d'Analyse de l'École Royale Polytechnique. Libraires du Roi & de la Bibliothèque du Roi. p. 124. Besoek op 12 Oktober 2019.
  16. ↑ Ian Stewart (2017). Infinity: a Very Short Introduction. Oxford University Press. p. 117. ISBN 978-0-19-875523-4. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 April 2017.
  17. ↑ Scott, Joseph Frederick (1981), The mathematical work of John Wallis, D.D., F.R.S., (1616-1703) (2 uitg.), American Mathematical Society, p. 24, ISBN 978-0-8284-0314-6, geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Mei 2016
  18. ↑ Martin-Löf, Per (1990), "Mathematics of infinity", COLOG-88 (Tallinn, 1988), Lecture Notes in Computer Science, vol. 417, Berlin: Springer, pp. 146-197, doi:10.1007/3-540-52335-9_54, ISBN 978-3-540-52335-2
  19. ↑ Cajori, Florian (2007). A History of Mathematical Notations (in Engels). Vol. 1. Cosimo, Inc. p. 214. ISBN 9781602066854.
  20. ↑ Cajori 1993, Sec. 421, Vol. II, p. 44
  21. ↑ "Arithmetica Infinitorum".
  22. ↑ Cajori 1993, Sec. 435, Vol. II, p. 58
  23. ↑ Grattan-Guinness, Ivor (2005). Landmark Writings in Western Mathematics 1640-1940. Elsevier. p. 62. ISBN 978-0-08-045744-4. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Junie 2016. Uittreksel van p. 62
  24. ↑ AG, Compart. "Unicode Character "∞" (U+221E)". Compart.com (in Engels). Besoek op 15 November 2019.
  25. ↑ "List of LaTeX mathematical symbols - OeisWiki". oeis.org. Besoek op 15 November 2019.
  26. ↑ O'Flaherty, Wendy Doniger (1986), Dreams, Illusion, and Other Realities, University of Chicago Press, p. 243, ISBN 978-0-226-61855-5, geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Junie 2016
  27. ↑ Toker, Leona (1989), Nabokov: The Mystery of Literary Structures, Cornell University Press, p. 159, ISBN 978-0-8014-2211-9, geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Mei 2016
  28. ↑ Bell, John Lane. "Continuity and Infinitesimals". Stanford Encyclopedia of Philosophy.
  29. 1 2 Jesseph, Douglas Michael (1 Mei 1998). "Leibniz on the Foundations of the Calculus: The Question of the Reality of Infinitesimal Magnitudes". Perspectives on Science. 6 (1&2): 6-40. doi:10.1162/posc_a_00543. ISSN 1063-6145. OCLC 42413222. S2CID 118227996. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Januarie 2012. Besoek op 1 November 2019 – via Project MUSE.
  30. ↑ Taylor 1955, p. 63
  31. ↑ Hierdie gebruike van oneindigheid vir integrale en reekse kom in enige standaardhandboek oor calculus voor, soos Swokowski 1983, pp. 468-510.
  32. ↑ "Properly Divergent Sequences - Mathonline". mathonline.wikidot.com. Besoek op 15 November 2019.
  33. ↑ Aliprantis, Charalambos D.; Burkinshaw, Owen (1998), Principles of Real Analysis (3rd uitg.), San Diego, CA: Academic Press, Inc., p. 29, ISBN 978-0-12-050257-8, geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Mei 2015
  34. ↑ Gemignani 1990, p. 177
  35. ↑ Beutelspacher, Albrecht; Rosenbaum, Ute (1998), Projective Geometry / from foundations to applications, Cambridge University Press, p. 27, ISBN 978-0-521-48364-3
  36. ↑ Rao, Murali; Stetkær, Henrik (1991). Complex Analysis: An Invitation : a Concise Introduction to Complex Function Theory. World Scientific. p. 113. ISBN 9789810203757.
  37. ↑ Eric Schechter (2005). Classical and Nonclassical Logics: An Introduction to the Mathematics of Propositions (illustrated uitg.). Princeton University Press. p. 118. ISBN 978-0-691-12279-3. Uittreksel van bladsy 118
  38. ↑ Abhijit Dasgupta (2013). Set Theory: With an Introduction to Real Point Sets. Springer Science & Business Media. pp. 362-363. ISBN 978-1-4614-8854-5.
  39. ↑ Ignacio Jané (Mei 1995). "The role of the absolute infinite in Cantor's conception of set". Erkenntnis. 42 (3): 375-402. doi:10.1007/BF01129011. JSTOR 20012628. S2CID 122487235. Cantor (1) took the absolute to be a manifestation of God [...] When the absolute is first introduced in Grundlagen, it is linked to God. "the true infinite or absolute, which is in God, admits no kind of determination" (Cantor 1883b, p. 175) This is not an incidental remark, for Cantor is very explicit and insistent about the relation between the absolute and God.
  40. ↑ A.W. Moore (2012). The Infinite (2nd, revised uitg.). Routledge. p. xiv. ISBN 978-1-134-91213-1. Uittreksel van bladsy xiv
  41. ↑ Hamkins, Joel David (4 Januarie 2012). "Climb into Cantor's attic". Joel David Hamkins (in American English). Besoek op 20 Januarie 2026.
  42. ↑ Dauben, Joseph (1993). "Georg Cantor and the Battle for Transfinite Set Theory" (PDF). 9th ACMS Conference Proceedings: 4.
  43. ↑ Cohen 1963, p. 1143
  44. ↑ Felix Hausdorff (2021). Set Theory. American Mathematical Soc. p. 44. ISBN 978-1-4704-6494-3. Uittreksel van bladsy 44
  45. ↑ Sagan 1994, pp. 10-12
  46. ↑ Michael Frame; Benoit Mandelbrot (2002). Fractals, Graphics, and Mathematics Education (illustrated uitg.). Cambridge University Press. p. 36. ISBN 978-0-88385-169-2. Uittreksel van bladsy 36
  47. ↑ Kline 1972, pp. 1197-1198
  48. ↑ Cambridge Dictionary of Philosophy, tweede uitgawe, p. 429
  49. ↑ Doric Lenses Geargiveer 24 Januarie 2013 op Wayback Machine, Application Note, Axicons, 2. Intensity Distribution. Besoek op 7 April 2014.
  50. ↑ John Gribbin (2009), In Search of the Multiverse: Parallel Worlds, Hidden Dimensions, and the Ultimate Quest for the Frontiers of Reality, ISBN 978-0-470-61352-8. p. 88
  51. ↑ Brake, Mark (2013). Alien Life Imagined: Communicating the Science and Culture of Astrobiology (illustrated uitg.). Cambridge University Press. p. 63. ISBN 978-0-521-49129-7.
  52. ↑ Koupelis, Theo; Kuhn, Karl F. (2007). In Quest of the Universe (illustrated uitg.). Jones & Bartlett Learning. p. 553. ISBN 978-0-7637-4387-1. Uittreksel van p. 553
  53. ↑ "Will the Universe expand forever?". NASA. 24 Januarie 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Junie 2012. Besoek op 16 Maart 2015.
  54. ↑ "Our universe is Flat". FermiLab/SLAC. 7 April 2015. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 April 2015.
  55. ↑ Marcus Y. Yoo (2011). "Unexpected connections". Engineering & Science. LXXIV1: 30.
  56. ↑ Weeks, Jeffrey (2001). The Shape of Space. CRC Press. ISBN 978-0-8247-0709-5.
  57. ↑ Kaku, M. (2006). Parallel worlds. Knopf Doubleday Publishing Group.
  58. ↑ McKee, Maggie (25 September 2014). "Ingenious: Paul J. Steinhardt – The Princeton physicist on what's wrong with inflation theory and his view of the Big Bang". Nautilus. Nr. 17. NautilusThink Inc. Besoek op 31 Maart 2017.
  59. ↑ "Infinity and NaN (The GNU C Library)". www.gnu.org. Besoek op 15 Maart 2021.
  60. ↑ Gosling, James; et al. (27 Julie 2012). "4.2.3.". The Java Language Specification (Java SE 7 uitg.). California: Oracle America, Inc. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Junie 2012. Besoek op 6 September 2012.
  61. ↑ Stokes, Roger (Julie 2012). "19.2.1". Learning J. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Maart 2012. Besoek op 6 September 2012.
  62. ↑ Morris Kline (1985). Mathematics for the Nonmathematician (illustrated, unabridged, reprinted uitg.). Courier Corporation. p. 229. ISBN 978-0-486-24823-3. Uittreksel van bladsy 229, afdeling 10-7
  63. ↑ Schattschneider, Doris (2010). "The Mathematical Side of M. C. Escher" (PDF). Notices of the AMS. 57 (6): 706-718.
  64. ↑ Infinite chess at the Chess Variant Pages Geargiveer 2 April 2017 op Wayback Machine An infinite chess scheme.
  65. ↑ "Infinite Chess, PBS Infinite Series" Geargiveer 7 April 2017 op Wayback Machine PBS Infinite Series, met akademiese bronne deur J. Hamkins: Evans, C.D.A; Joel David Hamkins (2013). "Transfinite game values in infinite chess". [math.LO]. en Evans, C.D.A; Joel David Hamkins; Norman Lewis Perlmutter (2015). "A position in infinite chess with game value $ω^4$". [math.LO]..
  66. ↑ Elglaly, Yasmine Nader; Quek, Francis. "Review of "Where Mathematics comes from: How the Embodied Mind Brings Mathematics Into Being" By George Lakoff and Rafael E. Nunez" (PDF). CHI 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 26 Februarie 2020. Besoek op 25 Maart 2021.

Bibliografie

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]