Wiktor Joesjtsjenko

Wiktor Andrijiowitsj Joesjtsjenko (Oekraïens: Віктор Андрійович Ющенко; gebore op 23 Februarie 1954) is 'n Oekraïense politikus wat van 23 Januarie 2005 tot 25 Februarie 2010 die derde president van die Oekraïne was. Hy het daarna gestreef om die Oekraïne op die Weste, die Europese Unie, die G7 (destyds die G8) en NAVO te rig.
Joesjtsjenko se eerste loopbaan was in die bankwese. In 1993 het hy goewerneur van die Nasionale Bank van die Oekraïne geword, waar hy toesig gehou het oor die reaksie op hiperinflasie en die instelling van 'n nasionale geldeenheid. Van 1999 tot 2001 was hy eerste minister onder president Leonid Koetsjma. Nadat hy as eerste minister afgedank is, het Joesjtsjenko in opposisie teen president Koetsjma gegaan en die "Ons Oekraïne"-blok gestig, wat tydens die parlementêre verkiesing van 2002 die gewildste politieke krag in die Oekraïne geword het.
As 'n informele leier van die Oekraïense opposisiekoalisie was hy een van die twee hoofkandidate in die Oekraïense presidensiële verkiesing van 2004; die ander was premier Wiktor Janoekowitsj. Tydens die verkiesingsveldtog laat in 2004 was Joesjtsjenko die teiken van 'n sluipmoordpoging toe hy met dioksien vergiftig is. Hy het as gevolg van die vergiftiging verminking opgedoen, maar het oorleef. Die tweede ronde van die verkiesing in November 2004, wat deur Janoekowitsj gewen is, is ontsier deur wydverspreide bewerings van verkiesingsbedrog. Dit het gelei tot die Oranje Rewolusie en 'n bevel deur die Oekraïense Hooggeregshof dat die stemming herhaal moes word. Joesjtsjenko het die herverkiesing met 52% teen 44% gewen.
Joesjtsjenko se invloed het kort nadat hy die presidentskap aanvaar het, afgeneem – veral nadat hy met sy eerste minister en vernaamste politieke bondgenoot, Joelia Timosjenko, gebots het. Sy eie gewildheid en verkiesingsposisie, sowel as dié van sy party, het eweneens gedaal. Die res van sy ampstermyn is gekenmerk deur interne twis, wetgewende dooiepunte en koalisiekrisisse in 2007 en 2008. In die Oekraïense presidentsverkiesing van 2010 het hy teen Janoekowitsj verloor; hy het in die eerste ronde vyfde geëindig met 5,5% van die stemme. Joesjtsjenko het die party "Ons Oekraïne" weer gelei tydens die parlementêre verkiesing van 2012, maar hulle het nie daarin geslaag om verteenwoordiging te verkry nie.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]
Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Wiktor Joesjtsjenko.