Periode 6-element
| Periode |
|---|
| 1 |
| 2 |
| 3 |
| 4 |
| 5 |
| 6 |
| 7 |
Die sesde periode van die periodieke tabel begin met element nommer 55, die alkalimetaal sesium en eindig met nommer 86, die edelgas radon.
In die eerste twee elemente, sesium en barium word die 6s-orbitaal opgevul. Dit is die eerste periode wat 32 elemente tel omdat ná die derde element lantaan waar een van die 5d-orbitale opgevul word, die 4f-elektrone opgevul word.
Hierdie reeks van 14 elemente word die lantaniede genoem. Hulle word gewoonlik onder die periodieke tabel weergegee om die tabel nie te breed te laat word nie. Een van hierdie lantaniede is die tweede element in die tabel wat geen stabiele isotope het nie: prometium. Die meeste elemente vorm Ln3+-ione en hulle chemiese eienskappe is baie soortgelyk. Omdat die f-elektrone die groeiende lading van die kern swak afskerm, word die atome en hul ione geleidelik kleiner. Dit word die lantaniedkontraksie genoem.[1] Dit maak dit moontlik om die elemente op atoomgrootte te skei. Hul fisiese eienskappe maak hulle van groot tegnologiese betekenis. Ná lutesium word die vulling van die 5d-orbitale hervat. Deur die kontraksie is hafnium, die eerste element van die d-blok se atome effens kleiner as sy homoloog sirkonium s'n en is beide elemente moeilik te skei.
Die eienskappe van die volgende 5d- en 6p-elemente verskil van hul homoloë s'n veral omdat relatiwiteit[2] en spin-baan-koppeling 'n groter rol begin te speel in die elektrone-orbitale en hul energie.
Die elemente is swaar en verskeie van hulle, soos renium, osmium en iridium is baie skaars. Hulle het die hoogste digtheid van alle materiale op aarde. Ná lood verloor die atoomkerne hul stabiliteit. Bismut, nommer 83 is swak radioaktief maar die halfleeftye is baie lank. Astaat is baie instabiel.